Seleksie, genetika en genomika is beginsels wat die mensdom al vir baie dekades fassineer. Oor die eeue heen probeer innoveerders om die natuur se manier na te aap en te verbeter met kunsmatige seleksie teenoor Moeder Natuur se natuurlike seleksie.

Dit is welbekend dat die vader van moderne diereteling die bekende Robert Bakewell is. Hy het gevind dat sekere kenmerke tussen families verskil. Alhoewel hy nie as genetikus bekend is nie, het hy die gesegde like begets like bekendgemaak.

Charles Darwin, die vader van evolusie, was die eerste persoon wat agtergekom het dat omgewingsdruk ’n impak het op watter nageslag gaan oorleef en dat die natuur die fiksste diere deur seleksie bevoordeel. Op ’n reis na Suid-Amerika het hy by die Galapagos-eilande vinkies gesien wat van dieselfde spesie is, maar met verskillende snawelvorms. Hy het hom voorgeneem om navorsing te doen om te bepaal of hy hierdie tipe veranderinge in gevangenskap kon voortplant.

Alhoewel hy nie dadelik daaraan begin werk het nie, het hy jare later in Engeland voëltelers se werksaamhede bestudeer om te sien hoe hulle met kunsmatige seleksie oor verskeie geslagte daarin kon slaag om ’n nageslag met gewenste eienskappe te skep, deur ouers wat daardie eienskappe besit, te laat paar.

Dit was die begin van die praktiese toepassing van seleksie en genetika.

Seleksie in die veebedryf

In die landboukringe het veeboere al vroeg in die vorige eeu besef dat diere se waarde in ’n kudde nie net op voorkoms getakseer kan word nie. Dit wat jy nie kan sien nie, moet ook op ’n manier gemeet en vasgelê kan word vir die nageslagte. So is daar met rekordhouding en sorgvuldige seleksie begin. Dit was die aanvang van ’n interessante wetenskap om veekuddes geneties te verbeter.

Vandag is hierdie wetenskap al baie verder gevorder. Dr Michael Bradfield, hoof uitvoerende bestuurder van die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF), sê genetiese verbetering by diere vind plaas wanneer die gemiddelde genetiese waarde van die nageslag hoër of beter is as die gemiddelde genetiese waarde van die vorige geslag waaruit die ouers geselekteer is.

Dr Munro Marx, besturende direkteur van Unistel, sê volhoubare genetiese verbetering is nie ’n eenvoudige proses nie. Behalwe die genetiese samestelling, speel omgewingsfaktore soos voeding, drakapasiteit en klimaatsverandering ook ’n groot rol.

“Genetiese verandering vind plaas as die kudde se gemiddelde genetiese meriete oor ’n tyd verbeter. Dit het ’n kumulatiewe effek en dra by tot die volhoubare verbetering van eienskappe soos groei, gehalte van die produk en siekteweerstandigheid. Dit maak verbeterde produksie en doeltreffendheid dus moontlik.”

Dr Japie van der Westhuizen, hoofbestuurder van SA Stamboek, is van mening dat die korrekte identifikasie, definisie en akkurate meting van eienskappe wat bydra tot wins, die grondslag vorm van enige genetiese verandering, maar veral verbetering deur seleksie. Klem op enkeleienskappe ten koste van ander belangrike eienskappe wat wins bepaal, kan telers en die bedryf skade berokken. Sodra ’n balans behoorlik in plek is, kan die moderne ontwikkelings op genetiese terrein reg aangewend word.

Genetika en genomika

Wetenskaplikes het besef dat hierdie proses verder verfyn kan word, of dat die studieveld vergroot kan word, en die beginsel van genomika het telers se aandag begin vasvang. Dr Marx verduidelik dat genomika die studie van die organisme se totale genetiese samestelling is en sluit alle gene, hul interaksie en interverwantskappe in.

Dr Van der Westhuizen verduidelik dat genetika die studie van oorerwing is en ook allesomvattend is, terwyl genomika die studie van die genoom aandui, wat uiteraard ’n onderdeel van genetika is. Volgens hom word meer inligting bekom oor die molekulêre genetiese verskille tussen diere, maar dit is nodig om die presiese skakel te ontdek tussen dit wat op die dier se chromosoom voorkom en die genetiese meriete van die ekonomies belangrike eienskappe. 

Die gemene deler

Maar op watter punt kom seleksie, genetika en genomika bymekaar in ’n veeboerdery? Dr Bradfield meen die modelle in diereteelt is só geskryf, dat genetika en genomika ’n bydrae lewer om seleksie te bevorder. “Noukeurige seleksie is die kern waarom goeie kuddebestuur wentel en genetika en genomika is die instrumente wat gebruik word om goeie seleksie toe te pas,” verduidelik hy.

Vir dr Marx vorm seleksie ook die basis van die opbou van enige goeie kudde. Hy sien dit as ’n proses waar ’n aanvaarbare kombinasie van eienskappe die sterk en swak punte van die kudde komplementeer en aan markvereistes voldoen.

Hy sê genetika word gebruik om die effek van seleksie na te gaan en te verseker dat die gewenste kombinasie van erflike eienskappe binne die kudde, van een generasie na die volgende, vasgeteel word. Genomika, aan die ander kant, word gebruik om die akkuraatheid van teelwaardes te verhoog en sodoende genetiese vordering te optimaliseer.

Optimalisering van die kudde

“Presisieboerdery kombineer al die resultate van seleksie, genetika en genomika om elke dier individueel te monitor. So kan die bydrae van elke dier tot die kudde as ’n geheel geoptimaliseer word. Dan is daar nie meer passasiers in die kudde nie en word elke bietjie voeding, medikasie en aanvulling produktief aangewend. Dan kan die teler sê hy is besig om ekonomies vooruit te boer,” gesels dr Marx.

Dr Van der Westhuizen stem saam dat alle hulpmiddels optimaal benut moet word. Die berekening van BLUP-teelwaardes neem onder andere die verwantskappe tussen familielede binne ’n ras in ag, sowel as die prestasie van elke dier in vergelyking met sy tydgenote en natuurlik hoeveel van die gemete verskille oorgedra kan word aan die nageslag. “Die byvoeging van genomiese inligting bring ’n opwindende nuwe dimensie by, naamlik om reeds vroeg en akkuraat in ’n potensiële seleksiekandidaat te bepaal hoe hy of sy gaan teel vir daardie ekonomies belangrike eienskap.”

Die rol van tegnologie

Op papier werk alles gewoonlik 100%, maar wanneer die wetenskap in die praktyk toegepas moet word, is dit nie altyd so eenvoudig nie. Dit is hier waar tegnologie ook ’n belangrike rol speel in winsgewende boerdery.

Wetenskap word gesien as die najaag van kennis, verskynsels en wette deur noukeurige waarneming, eksperimentering, meting en herhaling. Daarteenoor behels tegnologie die vind van maniere om die teorie in die praktyk toe te pas en jou tyd, vaardighede en omgewingsbronne die beste hiervoor te benut.

Die veeteeltmodelle waarna dr Bradfield verwys, is deel van die tegnologie wat beskikbaar is om hierdie wetenskap op jou plaas toe te pas. Buiten die beskikbare tegnologie, is daar professionele dienste op die mark om dit deel van jou seleksiemodel te maak sodat jy meer winsgewend kan boer. 

Ekonomiese impak

Hy sê die ideale manier om genetiese vordering te bepaal is om gebruik te maak van ’n seleksie-indeks, want dit bevat die geweegde finansiële waarde van alle belangrike eienskappe. So kan jy die finansiële waarde in rand kragtens genetiese vordering vir ’n kudde of ras bepaal. Die genetiese verbetering binne die Simbra-ras het byvoorbeeld vanaf 2005 tot 2019 van R110 tot R170 per koei verbeter. Dit is R4,30 per jaar.

Die land het ongeveer 14 miljoen diere en dit is glad nie vergesog om elke dier geneties met R4,30 te verbeter nie. Dit is ’n verbetering van R60 miljoen per jaar in die nasionale veebedryf. Hy vertel ook dat sommige van ons oorsese eweknieë dit regkry om elke dier in die veestapel jaarliks met R20 tot R50 geneties te verbeter.

Inligting verminder risiko’s

Dr Van der Westhuizen noem dat daar reeds drie Suid-Afrikaanse vleisbeesrasse – die Bonsmara, Beefmaster en Drakensberger – is, wat genomiese BLUP-teelwaardes ontvang. Dit stel hierdie telers en die kopers van hulle bulle in staat om met minder risiko jong bulle te selekteer. Dit, en die kombinasie van ’n seleksiewaarde, soos die bekende ‘koeiwaarde’, maak genetiese vordering vir wins per hektaar ’n realiteit.

Plaaslike top telers maak ook toenemend gebruik van ’n tegnologiese hulpmiddel soos SABeefBulls.com om doelwitte vinnig te bereik en parings te optimaliseer, sonder om intelingsvlakke die hoogte te laat inskiet.

So, waar kom seleksie, genetika, genomika en tegnologie bymekaar? Dit is ’n gesamentlike poging om die kudde te verbeter en jou boerdery winsgewend te maak. Seleksie bly die kernfaktor, genetika en genomika is die hulpmiddels om seleksie meer akkuraat te doen, en tegnologie is die manier hoe jy jou volhoubare seleksie kan toepas.

Vir meer inligting, kontak dr Michael Bradfield by 082 857 0961, dr Munro Marx by 021 007 5616 of dr Japie van der Westhuizen by 082 331 9923. –Koos du Pisanie, Veeplaas