Suid-Afrika beskik oor ’n gevestigde veevoerbedryf wat sowat 90 jaar oud is. Die bedryf het ontstaan ná die droogtes en depressie in die 1930’s. Deesdae is die grootse deel van die veevoer wat in Suid-Afrika geproduseer word, afkomstig van lede van die Veevoervervaardigersvereniging (AFMA) – hulle het sowat 75% van alle veevoer in die 2016/17-produksiejaar geproduseer.

Kleiner rolspelers in die bedryf sluit melkprodusente (10,7%), plaaslike voerkrale (10%), varkprodusente (3,6%) asook ander produsente (<1%) in. AFMA is op sy beurt ’n lid van die Internasionale Federasie vir die Veevoerbedryf (IFIF) wat die wêreldwye voerbedryf as ’n belangrike deelnemer in die voedselwaardeketting verteenwoordig.

Figuur 1: Veevoer per sektor deur AFMA-lede geproduseer. (Bron: AFMA, 2020)

Figuur 1 dui aan vir watter veesektore AFMA-lede in 2018/19 veevoer geproduseer het, asook die persentasie bydrae deur elk. Pluimveeproduksie (eiers, vleis en teeldiere) het sowat 60% van al die voer verbruik, met die braaikuikenbedryf wat alleenlik sowat 39% van die totale hoeveelheid vervaardigde veevoer verbruik het. Die hoeveelheid voer vir melkbeeste was net soveel as die gekombineerde vleisbees- en skaapvoer (14% elk), terwyl 13% vir eierproduksie gebruik is.

’n Plaaslike oorsig

Op internasionale vlak maak pluimveevoer 44% van die totale veevoerproduksie uit, gevolg deur varkvoer en voer vir herkouers, wat in 2016 onderskeidelik 26% en 21% van alle veevoer uitgemaak het. Die lae per kapita verbruik van varkvleis onder Suid-Afrikaners teenoor lande soos China, die Verenigde State en Europese lande, mag deel wees van die rede waarom varkvoer ’n veel kleiner rol in die plaaslike veevoermark speel. Dít, asook die feit dat hoendervleis ’n meer gewilde opsie is – gedeeltelik weens die bekostigbaarheid van die produk – veroorsaak dat Suid-Afrika se pluimveevoer in verhouding tot ander voere, hoër as die wêreldgemiddeld is.

Vir die 2018/19-produksiejaar is totale veevoerverkope van 6,644 miljoen ton aangeteken. Mielieprodukte het 50,65% van die gewig vir die produksie van veevoer uitgemaak, met mielies wat 48% of 3,022 miljoen ton bygedra het. Geelmielies lewer gewoonlik die grootste bydrae – in 2016/17 was dit meer as 95%. Dit het egter gedurende 2018/19 na tussen 55 en 57% gedaal.

Alle tipes oliekoek maak altesaam sowat 21% van veevoer uit. Dit wil voorkom asof die plaaslike produksie van sojaboonoliekoek besig is om toe te neem en daar minder ingevoerde produkte vereis word. In 2019 is 872 000 ton sojaboonoliekoek gebruik, waarvan 46% ingevoer is.

Veevoerprys vs insetpryse

Figuur 2 toon die prysindeks van plaasvoer aan. Dit word bepaal deur onder andere die prys van braaikuikenvoer, suiwelmeel, lêhenvoer en varkmeel te monitor.

Figuur 2: Plaasvoer-prysindekse vanaf 2005 tot 2018.

Die indeks in Figuur 2 word aangedui teenoor die prysindekse van mielies en soja wat, argumentsonthalwe, meer as 70% van roumateriale vir die produksie van veevoer verteenwoordig. Die prysindekse van arbeid en elektrisiteit word ook uitgebeeld, sodat daar gesien kan word of die prys van veevoer tred hou met die veranderinge in die pryse van roumateriale en ander produksiekoste.

Die tydperk wat aangedui word strek van 2005 tot 2018, met 2010 wat as basis dien. Die pryse is hoofsaaklik afkomstig uit die Kortbegrip van Landboustatistiek vir Suid-Afrika. In die grafiek kan gesien word hoe wisselvallig die prys van grane is, met die prys van mielies wat meer wisselvallig was as dié van soja. Die mielieprys het in 2016 met 48% gestyg, gevolg deur ’n daling van 46% in die daaropvolgende jaar. Hierteenoor het die prysindeks van veevoer in 2016 met slegs 7% gestyg, gevolg deur ’n verdere styging van 3% in 2017.

Uit die grafiek is dit opmerklik dat die voerprysindeks nooit gedaal het nie. Dit wil sê, die prys van veevoer het stelselmatig aanhou styg, selfs wanneer graanpryse gedaal het. Oor die tydperk in die grafiek het veevoer teen gemiddeld 10% per jaar gestyg. Die ander insette wat aangedui word het teen ’n hoër koers gestyg.

Faktore wat pryse beïnvloed

Ontleding gebaseer op die prysindekse in die grafiek het betekenisvolle korrelasies getoon vir al die faktore van produksie se prysindekse teenoor die voerprysindeks. Dit wil sê, die pryse is geneig om saam te beweeg.

Verdere analise om te bepaal of daar ’n betekenisvolle langtermynverhouding tussen voerprysindekse en insetkoste se prysindekse is, was onsuksesvol. Daarom kan ook aangeneem word dat daar faktore is, anders as dié in die grafiek, wat die prys van veevoer vir die tydperk wat in die grafiek aangedui word, verder beïnvloed het.

Daar mag verskeie redes wees waarom voerpryse nie tot dieselfde mate wissel as wat die graanprys verander nie. Eerstens kan dit wees dat veevoermaatskappye lank voor die tyd die aankooppryse van hul graan vagesmaak het en dus laer pryswisselinge en risiko’s beleef as wat in die graanprysindekse weerspieël word.

Verbruikers sal ook nie tevrede wees indien die prys van die voer wat hulle aankoop, te gereeld verander nie. Dit kan tot gevolg hê dat voermaatskappye hul opsies deeglik oorweeg voordat hulle pryse verander. Alhoewel hulle nie hul pryse laat sak het toe graanpryse gedaal het nie, mag daar afgelei word dat hulle waarskynlik iewers marges gesny het ten tyde van die hoër graanpryse en, tydens laer graanpryse, die geleentheid gebruik het om marges te probeer herstel.

Daarby is graan natuurlik nie ál produksiekoste wat voermaatskappye moet inreken nie en, anders as wisselende graanpryse, is kostes soos arbeid en elektrisiteit voortdurend aan die styg.

Invloed op die plaaslike mark

Suid-Afrika se hoendervleisbedryf vra al ’n geruime tyd vir beter beskerming teen goedkoop, ingevoerde vleis wat plaaslike pryse beïnvloed. Die ingevoerde vleis word soms goedkoper in Suid-Afrika gestort as wat dit in die land van oorsprong kos. Tussen 23 en 29% van die hoendervleis wat tussen 2016 en 2018 in Suid-Afrika verbruik is, was ingevoer. Dus is plaaslike hoenderprodusente van die geleentheid ontneem om die vraag in die mark te bevredig.

Dit beteken ook dat plaaslike veevoervervaardigers sowat 600 tot 760 ton voer meer kon produseer, gebaseer op slegs die hoendervleis wat plaaslik geproduseer was (sonder om teeldiere in ag te neem). Die produksie van groter hoeveelhede veevoer sou op sy beurt die plaaslike graanpryse, veral mielies en soja, kon ondersteun.

Daarbenewens kan ’n mens ook aan al die werksgeleenthede dink waarop daar uitgemis word. Dat Suid-Afrika se werkloosheidskoers in die vierde kwartaal van 2019 op 29,1% gestaan het – die hoogste ter wêreld – en daar nou 594 000 meer mense werkloos is as ’n jaar gelede, is bloot olie op die vuur.

Met dit alles in ag geneem, moet ons hoop dat die nuwe meesterplan vir die pluimveebedryf tasbare voordele vir die hoederbedryf teweeg sal bring, en dat dít sal oorspoel na die veevoerbedryf, die graanbedryf én die arbeidsmark. – dr WA Lombard, Universiteit van die Vrystaat

Vir meer inligting of verwysings, kontak die outeur by [email protected]