Die identifisering van vee is uiters belangrik in die veebedryf en daar word volgens wet van produsente verwag om aan sekere vereistes te voldoen. Dié artikel bied ’n oorsig oor wat wetlik van produsente verwag word met die merk van vee, watter vorme van identifikasie toegelaat word, asook hoe lewendehawe-versekering werk en wat dit behoort te kos.

Die Wet op die Identifikasie van Diere, 2002 (Wet 6 van 2002) stel aan veeprodusente sekere vereistes vir die merk of identifisering van vee. Eerstens word van elke produsent vereis om aansoek te doen vir sy eie identifikasiemerk (brandmerk) by die registrateur.

Die wet maak ook voorsiening vir spesifieke karakters, wat slegs gebruik mag word vir identifikasiemerke. Bestaande identifikasiemerke kan ook oorgedra word van een eienaar na ’n nuwe eienaar en dié proses kan plaasvind deur die aansoekproses te volg. Die registrateur hou rekord van alle identifikasiemerke en aan wie dit behoort, met die nodige kontakbesonderhede.

Diere wat geskut word

Indien diere met identifikasiemerke geskut word, sal die databasis gebruik word om die eienaar van die identifikasiemerk per geregistreerde pos in kennis te stel van die vee wat geskut is, waar die diere geskut is, wanneer die vee geskut is en wanneer hulle opgeveil gaan word as hulle nie betyds opgeëis word nie. Die probleme wat ongemerkte vee en vee wat verkeerd gemerk is vir produsente veroorsaak, behoort dus voor die hand liggend te wees.

Dieselfde beginsels geld wanneer gesteelde vee teruggevind en die wettige eienaar gevind moet word. Sonder ’n geregistreerde brandmerk sal die eienaar sukkel om te bewys dat dit sy/haar vee is en sal dalk DNS-toetse gedoen moet word om die diere se vaars te identifiseer.

In die wet word voorsiening gemaak vir die merk van vee deur gebruik te maak van ’n warm brandyster, vriesbrand en tatoeëring. Slegs hierdie tegnieke word tans as wettige metodes beskou om diere te identifiseer, mits dit binne die vereistes vir diere-identifikasie en dierewelsyn geskied. Volgens die Wet op die Identifikasie van Diere is oorplaatjies nie ’n geldige vorm van identifikasie nie.

Wetlike vereistes vir merk

Dit is belangrik om kennis te neem dat vee volgens wet voor ’n sekere ouderdom gemerk moet word. Beeste moet op die ouderdom van ses maande gemerk (getatoeëer of gebrandmerk) wees. Hulle kan op een maand reeds getatoeëer word en kan op ses maande gebrandmerk word. Beeste moet gebrandmerk wees teen die tyd dat hulle tweetand-ouderdom bereik.

Kleinvee moet op die ouderdom van een maand getatoeëer wees. Perde, donkies en muile kan op ses maande getatoeëer en op twaalf maande gebrandmerk word.

In die geval van aangekoopte vee word verwag dat diere wat weer verkoop gaan word, ná meer as 14 dae sedert die diere gekoop is ook met die nuwe eienaar se identifikasiemerk gemerk moet wees. Dus kan aangekoopte vee slegs binne 14 dae ná aankoop aan ’n ander eienaar verkoop word sonder dat hulle eers gebrandmerk of getatoeëer moet word. Die nodige identifikasiedokument moet wel aan die nuwe eienaar verskaf word.

Merke moet sigbaar wees

Die wet vereis dat beeste wat getatoeëer word, in hul ore gemerk word. Brandmerke moet op ’n duidelik sigbare deel van die dier aangebring word, die nek uitgesluit. Skape en bokke moet ook in hul ore getatoeëer word. Perde, donkies en muile moet, soos beeste, op enige duidelik sigbare deel gebrandmerk word, met die uitsondering van die nek. Tatoeëermerke kan op die boonste kaak, laer lip of in die ore aangebring word.

Die geskatte koste van die merk van vee word in Tabel 1 getoon. Die aanvanklike koste verbonde aan die gebruik van tatoeëermerke as identifikasiemetode blyk sowat R660 te wees vir die nodige toerusting, terwyl brandmerke se toerusting teen R1 921 gekoop kan word. Let daarop dat die pryse kan wissel, afhangende van die handelsmerk en verskaffer.

Sommige verskaffers van veemerker-items vereis dat ’n geldige bewys van die identifikasiemerk voorsien moet word wanneer sekere produkte gekoop word.

Tabel 1: Die koste van veemerker-items.

Beskrywing Elk R/eenheid Totaal
Tatoeëerletters 3  R63  R189
Tatoeëerink 1  R57  R57
Tatoeëertang 1  R414  R414
Totaal      R660
Beskrywing Elk R/eenheid Totaal
Drie-in-een

brandysterkombinasie

1  R728  R728
Brandysteroond 1  R1 193  R1 193
Totaal      R1 921

 

Versekering van lewendehawe

Die algemene vorms van lewendehawe-versekering wat versekeraars bied, sluit opsies soos weerlig, siekte, dood tydens vervoer en branddekking in. Min versekeraars bied veeprodusente die opsie om hul vee teen diefstal te verseker.

Beeste, perde, wild en boerbokke kan teen diefstal verseker word, maar skape word uitgesluit in dié vorm van dekking. Premies vir die versekering beloop sowat 2% van die versekerde waarde van die dier in die geval van brand- en weerligversekering.

Diefstalversekering wat slegs as ’n tipe allerisiko-dekking aangebied word, sal produsente sowat 6% van die versekerde dier se waarde per jaar kos. Die dekking word meestal deur wild- en stoetboere gebruik, en stoetboere is gewoonlik geneig om meer bulle as vroulike diere te verseker. Dit is waarskynlik te danke aan die hoër waarde van teelbulle.

Sover ons kennis strek, kan produsente nie ander maniere, soos alternatiewe vorms van identifikasie, gebruik om hul versekeringspremies te verlaag nie.

Vereistes van die versekeraar

Die versekeraar vereis van die produsent dat sy vee volgens wet gemerk moet wees om verseker te kan word en ook dat stoetdiere by die onderskeie genootskappe geregistreer is. Daar word van die produsent verwag om ’n register van die vee wat verseker moet word, in te dien. Die register moet die nodige inligting bevat (oorplaatjienommers, brandmerke ens.) sodat bepaal kan word of dit wel die versekerde dier is wat gevrek het of gesteel is.

Behalwe vir die register, word in die geval van verliese weens siektes gebruik gemaak van ’n nadoodse verslag deur ’n veearts om eise te laat uitbetaal. Die nadoodse ondersoek word op die produsent se koste gedoen en die karkasse moet in ’n koelkamer geberg word totdat die eis goedgekeur of uitbetaal is.

Neem deeglik kennis van die sogenaamde fynskrif van versekeraars om misverstande te voorkom. Sommige versekeraars vereis bv. ’n veeartsverslag oor die dier se gesondheid as aansoek gedoen word vir siektedekking. Daar is ook in die meeste gevalle ’n wagtydperk (bv. 14 dae) voordat die dekking in werking tree en daar word van die produsent verwag om die versekeraar binne 24 uur ná ’n insident in kennis te stel.

Aanmeld van diefstal

Diefstalsake, waar vanselfsprekend nie ’n karkas is nie, vereis ’n saaknommer wat by die polisie geopen word en dan by die versekering ingedien moet word. Nadat die saak aangemeld is, word ’n wagtydperk van drie maande toegelaat sodat die polisie die saak kan afhandel en as die diere dan nog nie teruggevind is nie, word die eis uitbetaal.

In ’n veediefstalstudie, wat in 2017 deur Lombard et al. gedoen is, is onderhoude met 750 kommersiële veeprodusente gevoer waar ook navraag gedoen is oor lewendehawe-versekering. Slegs ’n paar produsente het aangedui dat hulle versekering op hul vee het en dat dit meestal risiko’s soos brand, weerlig en transito (dood tydens vervoer) behels. Een van die redes wat aangevoer is vir die gebrek aan lewendehawe-versekering teen diefstal, is die hoë koste daarvan.

Ten slotte

Volgens wet is die enigste geldige vorms van vee-identifikasie in dié stadium tatoeëermerke en brandmerke. Wette soos die Wet op die Identifikasie van Diere is in plek vir veeprodusente om hulself sover moontlik te beskerm, maar daar word ook verwag dat hulle daaraan voldoen.

Indien nie, sal hulle verantwoordelikheid daarvoor moet aanvaar deur byvoorbeeld ’n boete vir ongemerkte vee te betaal of hulle kan moontlik hul ongemerkte vee in ’n veediefstalsaak verloor omdat voldoende bewyse nie voorsien kan word dat die vee aan hulle behoort nie. –WA Lombard, Mario van den Heever en Brent Jammer, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat

Vir meer inligting en die bronne van die artikel, stuur ’n epos aan LombardWA@ufs.ac.za.

Die aansoekvorm vir ’n identifikasiemerk is beskikbaar op www.nda.agric.za