Deur dr Frikkie Maré

Die jaar het beslis nie vir rooivleisprodusente op ’n goeie noot begin wat prys, en in sommige gebiede weerstoestande, betref nie. As ons terugkyk, weet ons dat 2018 ook nie goed geëindig het nie. Nie pryse of weerstoestande was vir die afgelope vier jaar ideaal nie.

Geen verdere bewyse is nodig van die onstabiliteit, onsekerheid en hoë risiko van landbouproduksie nie. Droogte, vloede, wisselvallige prysbewegings, ’n ekonomie wat nie na verwagting groei nie, en voortdurende politieke en beleidsonsekerheid skep ’n baie onstuimige landskap. Te midde van dié onstuimige landskap moet ons nou uitmaak wat in 2019 van die rooivleisbedryf verwag kan word. Volgens my is die beste padkaart vir die toekoms, wat rooivleispryse betref, ’n blik op die verlede.

Die geskiedenis van rooivleispryse

Wanneer ’n mens na die onlangse geskiedkundige syfers van rooivleispryse kyk, word jy byna oorweldig met inligting. Hoewel elke syfer en kurwe ’n verhaal vertel, het jy die gekombineerde uitwerking van dié syfers nodig om die groter prentjie te sien.

Figuur 1 wys die aantal diere wat tussen 2013 en 2018 in Suid-Afrika geslag is. Die slagsyfers vir skape en beeste het gedurende dié tydperk toegeneem. Dit was volgens my ons laaste fase van natuurlike groei.

Slagsyfers (2013 – 2018). (Bron: RMLA 2019)

Die toename in slagsyfers van 2014 tot 2016 vir beeste en 2014 tot 2015 vir skape kan grotendeels toegeskryf word aan noodslagtings as gevolg van die droogte. Dit is ook duidelik uit die klein prystoenames vir speendiere en karkasse in hierdie tydperk (Figure 2 tot 5).

Die slagsyfers het in 2017 afgeneem. Dit het tot ’n tekort in voorraad en ooreenstemmende jaar-op-jaar prystoenames van 59% vir speenkalwers en 20% vir A2-beeskarkasse gelei, asook 25% vir speenlammers en 23% vir A2-lamkarkasse.

Hoewel die slagsyfers in 2018 selfs verder afgeneem het, is dieselfde prystoename as in 2017 nie gesien nie. ’n Groot verskeidenheid faktore het tot die 2018-prysscenario bygedra. Die volgende faktore moet egter beklemtoon word:

  • Verbruikers kan te midde van die huidige swak ekonomie nie nog ’n skerp prysstyging bekostig nie en ’n tydelike prysplafon is geskep.
  • Die skerp toename in slagsyfers van varke as gevolg van die listeriose-uitbreking en die lae pryse wat hiermee verband hou en produsente uit die mark gedwing het, het tot ’n skerp afname in die prys van varkvleis gelei. Varkvleis het dus ’n baie goedkoop alternatief vir rooivleis geword.

Faktore om in 2019 in ag te neem

’n Paar onverwagse verwikkelinge het die rooivleisbedryf sedert die einde van 2018 getref. Die eerste was die sywaartse beweging van die bees- en lamkarkaspryse gedurende Desember. Die verwagte feesseisoen-prysstyging het nie plaasgevind nie. Die mielieprys het ook aan die einde van 2018 drasties begin toeneem en dié tendens duur voort in 2019. Laasgenoemde faktore het die pryse van speendiere afgedruk.

Nog ’n onverwagse verwikkeling was die uitbreking van bek-en-klouseer, wat tot die sluit van ons grense vir rooivleisuitvoere gelei het. Die impak van bek-en-klouseer kon byna dadelik gesien word. Dit het gekom in die vorm van ’n skerp afname in die prys van speenkalwers, asook A2 bees- en lamkarkasse. Suid-Afrika voer onder normale omstandighede ongeveer 3% van sy rooivleisproduksie uit, wat nou deur die plaaslike mark geabsorbeer moet word.

Alomteenwoordige faktore

Afgesien van dié onverwagse verwikkelinge, is daar ander faktore wat ook as ’n reël die rooivleismark beïnvloed. Hoewel dié faktore altyd teenwoordig is, verander die impak wat dit op die mark het van tyd tot tyd.

Die eerste faktor is die weer. Metereoloë beskryf 2018/2019 as die moeilikste jare nog wat die weervoorspelling betref, juis as gevolg van die uiteenlopende tekens. Teen die helfte van die somer was ons steeds nie seker wat die weer dié jaar vir ons inhou nie.

Die tweede faktor is die verbruikersvraag, wat van die besteebare inkomste en die prys van alternatiewe produkte afhang. In terme van die ekonomie sukkel ons om ekonomiese groei vol te hou en terselfdertyd inflasie en die wisselkoers onder beheer te hou. Die monetêre beleidskomitee is op koers om rentekoerse te verhoog om die armes teen inflasie te beskerm. Hoër rentekoerse sal egter die besteebare inkomste van verbruikers beperk.

Hoewel varkvleispryse tot ’n groot mate herstel het, is hoender steeds baie goedkoop as gevolg van invoere. Die sterker rand sal na verwagting die prys van ingevoerde hoender verder afdruk.

Prystendense in 2019

Talle faktore moet in gedagte gehou word wanneer ’n mens prystendens-voorspellings vir die jaar wil maak. Om elkeen van dié faktore in detail te verduidelik, sal ’n ellelange artikel vereis. Die beste wat ek kan doen is om voorspellings te probeer maak, gebaseer op die gekombineerde impak van al dié faktore, en natuurlik my gevoel.

Die gemiddelde jaarlikse rooivleispryse het nog nooit van een jaar na die volgende afgeneem nie. Selfs in 2018 was die pryse 7% hoër vir speenkalwers en 14% hoër vir speenlammers. Dit was ook 2% hoër vir A2-beeskarkasse en 1% hoër vir A2-lamkarkasse. Ek is egter nie so seker dat ons vanjaar ’n gemiddelde prystoename sal sien nie.

Die aanbod sal vanjaar hoër wees, aangesien slagsyfers behoort toe te neem namate die kuddegetalle verbeter. Vleis wat voorheen uitgevoer is, sal nou natuurlik ook ’n belangrike rol in die plaaslike aanbod speel. Ek voorspel dat die vraag egter op die vorige jaar se vlak sal bly. Daar is steeds baie druk op die ekonomie en moontlike rentekoersstygings sal verbruikers se besteebare inkomste verminder. Die prys van voer, as ’n prysbepaler vir speendiere, is ook hoër en sal pryse onder druk plaas.

Indien bogenoemde in ag geneem word, voorspel ek dat die gemiddelde prys vir speendiere ongeveer 5 tot 7% laer sal wees as in 2018, en dus slegs effens hoër as in 2017. Ek verwag dat karkaspryse ’n soortgelyke tendens sal toon, met ’n effense hoër prysvlak as in 2018. Dit sal beteken dat die gemiddelde jaarlikse prys in lyn met dié van 2018 sal wees.

In ’n neutedop

Ons moet realisties wees en besef dat 2019 glad nie goed lyk vir rooivleisprodusente nie. Hou egter in gedagte dat ons al baie onstuimige tye in die verlede oorleef het, juis as gevolg van faktore soos bek-en-klouseer, droogte en hoë voerpryse. My raad aan produsente is om ’n paar moontlike scenario’s vir die weer, insetkoste en produkpryse uit te werk, en ’n aksieplan vir elkeen op te stel. As jy dit doen, sal jy gereed wees om vinnig te reageer en van rigting te verander as dit nodig is. – Frikkie Mare, University of the Free State

Vir meer inligting, kontak dr Frikkie Maré by MareFA@ufs.ac.za.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here