Rooivleis: Die waardeketting in aksie

717
Beeste in die groeifase in die voerkraal.

Burger Marais het op ’n jong ouderdom die vleisbedryf op klein skaal betree, toe hy ná skool ’n slaghuis aangeskaf en beeste op ’n kleinhoewe in die Kameeldrift-omgewing begin voer het. Hy het mettertyd die slaghuis verkoop en hom op die voer van beeste begin toespits. Hy verstaan die waardeketting van rooivleis.

In 2009 het hy die plaas Tweefontein in dieselfde omgewing gekoop en vandag boer hy op sowat 2 800ha, waarop die voerkraal geleë is. Hier benut hy aangeplante weidings om kuilvoer te maak en om die kalwers wat hy koop, op die gras voerkraalgereed te kry.

Uitbreiding van die boerdery

In 2010 het hy ’n vennoot, Johan Kritzinger, ingetrek en hulle het ’n bestaande abattoir gekoop, dit uitgebrei en ’n ontbeningsaanleg vir rooivleis opgerig. Vandag slag hulle 600 beeste per week, verwerk al die karkasse in die ontbeningsaanleg en bemark dit aan kleinhandelaars. Daar is ook voortdurend tussen 2 000 en 3 000 kalwers wat op die plaas vir die voerkraal aangepas word.

Burger sê hulle het baie hard gewerk, maar die uitstekende groei van die onderneming het sy verwagtinge oortref. Hy glo die benutting van verskeie skakels in die rooivleisproduksieketting en die berekende benutting van hul hulpbronne, het grootliks hiertoe bygedra.

Bestuur van die voerkraal

Al die diere wat in die voerkraal slaggereed gemaak word, koop hulle by produsente en op veilings. Soos wat diere ná afronding geslag word, bring hulle nuwe kalwers in. Die nuwe diere word dan geweeg, gedip, ontwurm en kry al die nodige inspuitings en -entings.

Die kalwers wat 220kg en swaarder weeg, gaan regstreeks in die aanpassingskrale in. Dié wat ligter is, gaan in die somer na kampe met natuurlike weiding en in die wintermaande na kampe met aangeplante weiding.

Die weidings word in die somer gesny om kuilvoer te maak en dan loop dit weer uit en dien as staande hooi waarop kalwers in die winter loop. Hulle loop vir sowat 30 dae in die kampe, waar hulle ’n produksielek kry en normaalweg tussen 800 en 1 000g per dag groei.

In die voerkraal kry die beeste die eerste twee weke ’n aanpassingsrantsoen, wat hul rumens by die voer laat aanpas sonder dat die rumenwand beskadig word. Skade aan ’n bees se rumen deur verkeerde voeding, herstel nooit weer nie.

Die gesondheid van die organismes in die bees se rumen is baie belangrik en die pH-balans moet veral reg gehou word. Daal dit te laag, vorm melksuur wat die rumen seermaak; raak dit te hoog, kry die dier ureumvergiftiging. ’n Beskadigde rumen kan veroorsaak dat die dier beduidend swakker groei.

Ná die aanpassingstyd word die rantsoen drie maal aangepas om optimaal in die diere se groeibehoeftes te voorsien. ’n Stelsel van ‘almal saam in en almal saam uit’ word gevolg. Diere wat teen die einde van die voertydperk nie die teikengewig bereik het nie, word in elk geval geslag omdat dit te duur is om swak groeiers langer te voer, sê Burger.

Voerkraal-suksesfaktore

Dr At Viljoen, ’n bekende veearts wat by die bestuur van die voerkraal betrokke is, sê die gesondheid van die voerkraaldiere is uitstekend, met minder as 1% vrektes. Hy skryf dit toe aan die feit dat kalwers met goeie immuniteit gekoop word, aan die voorbereiding (backgrounding) van die meeste kalwers by aankoms, die nougesette siektebeheerprogram, goeie kripbestuur en die goeie uitleg en dreinering van die voerkraal. ’n Goeie naspeurbaarheidstelsel is ook in plek.

Burger Marais en dr At Viljoen.

Die voerkraal is sorgvuldig beplan om optimale produktiwiteit te verseker en moeiteloos by die ander prosesse van die waardeketting in te skakel. Spesiale aandag word aan die gesondheid en welsyn van die diere, asook voedselveiligheid, geskenk, en omgewingsbewaring word in stand gehou. Die streng dieregesondheidsprogram en beperking van stof deur ’n besproeiingstelsel in die krale verseker dat die diere gesond bly en infeksies tot ’n minimum beperk word.

Weidings en kuilvoermaak

Die rantsoene word in ’n voeraanleg gemeng. Mielies, hooi- en mieliekuilvoer, wat alles op die plaas geproduseer word, voorsien meer as genoeg in die voerkraal se behoefte. Daarom kan Kameeldrift-voermeule van die voer aan ander produsente bemark.

Aangeplante weidings word gesny met die oog op kuilvoer.

Daar is sowat 1 000ha aangeplante weiding wat hoofsaaklik op die sanderige grond onder droëlandtoestande gevestig is. Die Waterberg-grasmengsel, wat uit 40% Smutsvinger-, 30% buffel- en 30% Rhodesgras bestaan, word gebruik. Op die grond met ’n hoër klei-inhoud verbou hulle mielies onder besproeiing, waarvan kuilvoer gemaak word.

Die gras word toegelaat om in die eerste helfte van die somer uit te groei totdat dit begin saad vorm, dan gesny en in kuilvoer verwerk. Die kuilvoer vorm sowat 33% van die voerkraalrantsoen. Sowat 20 000 tot 30 000 ton kuilvoer word jaarliks gemaak.

Dit is moeilik om graskuilvoer in die konvensionele kuile of hope te berg, omdat die gras nie maklik kompakteer nie. Daarom het Burger ’n Orkel-kuilvoerbaler uit Noorweë ingevoer, wat die gras in stywe bale saampers om die suurstof uit te kry en dit dan in plastiek toedraai. Sulke kuilvoerbale kan tot nege jaar en langer geberg word. Op dié manier word die gras ook 30 tot 40% beter benut as met ander stelsels.

Slagting en verwerking

Al die beeste wat in die voerkraal markgereed gemaak word, word in die onderneming se abattoir geslag en in die ontbeningsaanleg verwerk. Die aanleg voldoen aan die internasionale vereistes vir voedselveiligheid en stel die onderneming in staat om aansienlike waarde tot hul produk toe te voeg en ’n veilige produk van hoogstaande gehalte te verseker.

Die karkasse wat van die abattoir af kom, word verkoel totdat die kerntemperatuur 0˚C is om bakteriese besmetting te voorkom. Die agterkwarte word ontbeen en in snitte verwerk, wat duidelik gemerk word om die naspeurbaarheid van die vleis te verseker. Die voorkwarte word heel verkoop.

Komposmaak

Die mis in die krale word gereeld bymekaar geskraap en uitgery. Aanvanklik is die ‘rou’ beesmis op die aangeplante weidings teen gemiddeld 10t/ha toegedien. Jaco Erasmus, wat na die omgewingsvereistes omgesien het toe die krale ontwerp en gebou is, het egter begin navorsing doen oor die verwerking van die mis in kompos.

Kompos word meganies gedraai totdat die temperatuur betreklik laag stabiliseer. Dit word vir die bemesting van die aangeplante weidings gebruik en ook verkoop.

’n Terrein is skoongemaak en die mis wat uit die krale uitgery is, in rye van ongeveer 200m lank en 1m hoog gestrooi. Dit is met ’n komposdraaier elke drie tot vier dae omgewerk en afloopwater uit die krale is met dieselfde aksie oor die mis gespuit. Tydens die komposteringsproses styg die temperatuur in die miswalle tot 74˚C, wat alle plantsade vernietig.

Terselfdertyd word gras op dieselfde terrein in hope in kompos verwerk, sodat die kompostering van die mis en gras teen omtrent dieselfde tempo vorder. Nadat die mis sowat agt keer gedraai is en dit begin fyn raak, word die graskompos bygewerk.

Hierdie mengsel word nog so vier keer omgewerk, totdat die temperatuur tot gemiddeld 40˚C daal. Dan is die kompos gereed vir gebruik. Die kompos word teen 3 tot 5t/ha op die aangeplante weidings gebruik en die oorskot verkoop. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Burger Marais by 082 375 1826.