Die sewe doodsondes van kuddebestuur by kleinvee – Deel 7: Gesondheidsbestuur

890
kleinvee
Wanneer diere gedoseer word, selfs met ’n nuwe wurmmiddel, is daar individuele parasiete wat die dosering oorleef en weerstand teen die middel begin opbou.

Baie is op die spel by die bestuur van kleinvee en bestuursfoute kan die produsent duur te staan kom. In my laaste artikel oor die sewe doodsondes van kuddebestuur, word gekyk na die vernaamste bestuursfoute wat kuddegesondheid kan benadeel.

1. Wurmweerstandigheid by kleinvee

Weerstandigheid is ’n wêreldwye probleem en wurms bou vinniger weerstand op as wat nuwe middels ontwikkel word. Die uiteinde is dat ons ál minder skietgoed het om die aanvalle van inwendige parasiete af te weer, met gevolglike produksie- en ekonomiese verliese wat ons allermins kan bekostig. Die goeie nuus is dat dit bestuurbaar is, maar daarvoor moet ons eers die probleem verstaan.

Wanneer diere gedoseer word, selfs met ’n nuwe wurmmiddel, is daar individuele parasiete wat die dosering oorleef. Aanvanklik is hierdie nie-vatbare wurms min, maar oor tyd vind natuurlike seleksie vir die nie-vatbare parasiete plaas, omdat die doseermiddel telkens net die vatbare parasiete doodmaak. Die weerstandige populasie word dus ál groter en die vatbare populasie kleiner. Uiteindelik is die middel nie meer doeltreffend nie.

Swak gewoontes en praktyke gee aanleiding tot wurmweerstandigheid:

  • ’n Vaste doseerprogram.
  • Om nie middels met verskillende aktiewe bestanddele af te wissel nie.
  • Onderdosering – die dier ontvang ’n laer dosis as wat sy grootte vereis.
  • Om gedoseerde diere in ’n ‘vars’ kamp te jaag. Daar is gewoonlik nie ’n groot wurmpopulasie in die vars veld nie en die nie-vatbare wurms op die diere teel dan hoofsaaklik met mekaar.
  • Die hele trop word behandel, in plaas van slegs dié wat deur parasiete aangetas word. In elke trop is diere wat óf geneties verdraagsaam teen die parasiete is óf weerstand teen hulle bied. Deur hulle nie te doseer nie, sal daar dus altyd ’n vatbare populasie wees waarmee die nie-vatbare wurms kan kruis, terwyl hierdie diere in elk geval nie die dosering nodig het nie.

Die antwoord vir die beperking van wurmweerstandigheid is doelgerigte selektiewe dosering (DSD). Nét daardie diere wat deur die parasiete benadeel word, moet behandel word.

Drie Suid-Afrikaanse veeartse, wat as wêreldleiers op die gebied van DSD beskou word, is prof Gareth Bath, dok Faffa Malan en dr Jan van Wyk. Saam het hulle die sogenaamde Vyfpuntplan vir Doelgerigte Selektiewe Dosering saamgestel.

Dié plan behels in breë trekke die volgende:

  • Die eerste punt van inspeksie is die neus-area waar veral op uitskeidings gelet word. Dit word dan volgens skaal beoordeel, waar 1 laag en 5 hoog is. Moontlike oorsake kan neuswurm, longwurm en longontsteking insluit. Slegs erg aangetaste diere word behandel.
    • Die tweede punt van ondersoek is die slymvliese van die onderste ooglid. Die kleur van die slymvlies word teen die FAMACHA-kleurkaart gemeet, om diere met bloedarmoede te identifiseer. Parasiete wat bloedarmoede veroorsaak sluit haarwurm, lewerslak, haakwurm en peervormige maagslak in. Slegs diere met bloedarmoede word behandel.
    • Derde is die kaak, waar vir ’n sogenaamde kwakkeel gesoek word. Dit kan deur haarwurm, lewerslak, haakwurm en peervormige maagslak veroorsaak word. ’n Proteïentekort kan ook daartoe aanleiding gee.
    • Vierdens word die dier aan ’n kondisietelling onderwerp. Slegs diere met ’n telling van twee en swakker word behandel. Moontlike oorsake sluit bruin maag-, bankrot-, langnek-bankrot- en knoppieswurm in.
    • Vyfdens word die stert-area vir tekens van maagwerk ondersoek, en die mate van misaanpaksels (dags in Engels) word op ’n skaal van vyf beoordeel. Moontlike oorsake sluit in bankrotwurm, peervormige maagslak, bruin maagwurm, knoppieswurm en koksidiose (veral by lammers). Slegs diere met erge maagwerk word behandel.

Hoewel miseiertellings nie deel van die vyfpuntplan vorm nie, word aanbeveel dat dit saam gedoen word. Produsente kan ook, indien hulle vermoed dat daar wurmweerstand op die plaas is, hul veearts kontak om die sogenaamde MEDRED-toets te gebruik om dit vas te stel.

Die tweede antwoord vir beter bestuur van wurmweerstandigheid is om diere te selekteer wat weerstandig teen die parasiet is. Verwys gerus na die werk van dr Alan Fisher en sy span in die Oos-Kaap, wat skape suksesvol vir weerstand teen haarwurm geselekteer het.

2. Entstowwe word nie gebruik nie

Entstowwe word ontwikkel vir siektes waaraan diere vinnig vrek, nog voordat hulle behandel kan word. Sekere virussiektes, soos Slenkdalkoors en bloutong, kom sporadies voor en daarom word nie elke jaar hierteen ingeënt nie. Indien ’n uitbreking dan voorkom, is die mortaliteit onder kuddes geweldig hoog, soos met bloutong en Slenkdalkoors sowat ’n dekade gelede.

Dit is goeie praktyk om saam met ’n veearts ’n kudde-inentingsprogram op te stel en dit getrou te volg.

3. Foutiewe diagnose en behandeling

’n Tydige, korrekte diagnose kan produsente groot verliese spaar. Wanneer ’n produsent nie weet wat ’n dier makeer nie, word ’n antibiotikum dikwels toegedien, ingeval dit dalk sal help. Teen die tyd dat die dier vrek omdat die behandeling nie gehelp het nie, kan ’n groot deel van die kudde al siek wees en die verliese toeneem.

Praat eerder met ’n veearts en kry ’n behoorlike diagnose.

4. Geen biosekuriteit vir kleinvee

Siektes word meestal met bakkies na plase aangery, met diere daarop wat ’n onbekende siekte onder lede het of ’n parasiet dra, of deur mense wat op die plaas aankom, soos skeerders. Siektes kan ook versprei word deur diere wat van die buurman se plaas af deurkruip.

Die beste biosekuriteitspraktyke is die volgende:

  • Kwarantyn alle nuwe diere wat op die plaas aankom vir drie weke en weg van ander diere. Dit sal help om diere wat in die venstertydperk van inkubasie is, te identifiseer.
  • Dip nuwe diere voordat hulle na die plaas vervoer word om bosluise weg te hou. Maak seker dat die dipstof doeltreffend was, anders bring jy dalk weerstandige bosluise by jou plaashek in. Laat ’n veearts ook die diere ondersoek vir aanduidings van siektes soos peestersiekte.
  • Dring aan op ’n verkopersverklaring wanneer jy diere koop, om seker te maak dat jy nie siektes soos Johne se siekte inbring nie.
  • Koop ramme slegs by betroubare bronne.
  • Sorg dat skeerders hul klere, skoene en skeertoerusting ontsmet, voor hulle na jou plaas toe kom. Menige uitbreking van skaapbrandsiekte is al deur skeerders oorgedra.
  • Ruil spuitnaalde gereeld om.
  • Daar is dodelike dieresiektes wat mense ook aantas, soos Slenkdalkoors. Moet nie links en regs dooie diere oopsny nie. Praat eerder met jou veearts.
  • Meld alle aanmeldbare siektes by die staatsveearts aan.

5. Onopgeleide werkers

Werkers op die plaas moet in die basiese tegnieke van diergesondheid opgelei word, soos siektewaarneming, die korrekte hantering en sterilisasie van toerusting, en die korrekte toediening van middels.

Min werkers weet byvoorbeeld dat kleinvee oor die tong gedoseer moet word, anders beland die doseermiddel nie in die teikenarea van die grootpens nie. Ander sal aanhou om die diere in te spuit, sonder om seker te maak dat die spuit wel werk.

Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) bied ’n baie goeie opleidingsprogram vir plaaswerkers aan.

6. Verkeerde hantering van middels

Sommige middels, veral entstowwe, moet koel gehou of weg van lig geberg word. Maak seker dat hierdie protokolle streng nagekom word. Sommige middels moet op die dag wat dit vermeng is opgebruik word en kan nie gebêre word nie – selfs nie eens tot die volgende dag nie.

Wanneer hulle geberg moet word, het die meeste middels streng standaarde waaraan voldoen moet word. Maak seker dat jy dit verstaan en daarby hou. Gaan die middels in die stoor gereeld na om vas te stel watter reeds verval het en raak op ’n verantwoordelike wyse daarvan ontslae. Kontak jou veearts in dié verband.

7. Swak hanteringsgeriewe vir kleinvee

Swak hanteringsgeriewe gee aanleiding tot swak behandelingsmetodes, onhigiëniese toestande, ’n stadige pas van die werkprogram, stres by die diere sowel as mense, en beserings aan die diere. Goeie hanteringsgeriewe is een van die beste beleggings wat veeboere kan maak. – dr Louis du Pisani, onafhanklike landboukonsultant

Vir meer inligting of navrae rondom opleiding in reproduksie- en kuddebestuur,
kontak dr Louis du Pisani by 082 773 9778 of Ldupisani@gmail.com.