Daar is baie op die spel as dit kom by die kuddebestuur van kleinvee en sekere bestuursfoute kan die produsent duur te staan kom. Deeglike beplanning en sorgvuldige kuddebestuur is nie net belangrik vir die diere om te gedy nie, maar het ’n beslissende uitwerking op die boerdery se wins. Hierdie artikel is die eerste in ’n reeks wat na die sewe ‘doodsondes’ van kuddebestuur by kleinvee kyk.

Suksesvolle teelseisoene en gevolglike hoë lampersentasies hang af van meer as om bloot die ramme vir ’n paar weke by die ooie te sit. Swak bestuurspraktyke kan die produksie en reproduksie van die kudde behoorlik belemmer. In hierdie artikel word daar dus op teelseisoene gefokus en die sewe doodsondes wat hiermee verband hou word vervolgens uiteengesit.

1. Die afwesigheid van teelseisoene

Kleinveeboere wat nie teelseisoene toepas nie, gebruik soms die handige verskoning van ‘nou wat as die ooie op hitte kom en daar is nie ramme tussen hulle wat hulle kan dek nie?’ Die nadele verbonde aan die afwesigheid van ’n teelseisoen oorskadu egter die enkele voordele wat dit wel mag inhou.

In die afwesigheid van teelseisoene sal die volgende nadele groot uitdagings vir die bestuur van die kleinveekudde inhou:

  • Dit is moeilik om ooie wat (gereeld) oorslaan, te identifiseer en uit te skot. ’n Ooi wat een keer in haar leeftyd oorslaan, het ’n baie goeie kans om weer oor te slaan.
  • Daar kan nie ’n doeltreffende inentingsprogram gevolg word nie. Gevolglik is die ooie en die lammers baie blootgestel aan siektes wat deur inenting voorkombaar is.
  • Dit is onmoontlik om te bepaal presies waar in die reproduksiesiklus die meeste lamverliese plaasvind. Dus kan bykans geen korrektiewe bestuur toegepas word nie.
  • Moderne seleksiehulpmiddels soos speenindekse kan nie gebruik word nie. Goeie vervangingsdiere kan dus onwetend uitgeskot word, terwyl swakker diere teruggehou word vir vervanging in die kudde.
  • Produktiwiteitsmaatstawwe soos lampersentasie en speenpersentasie kan nie bereken word nie.
  • Dit is moeilik om ou diere uit te skot. Hulle is gewoonlik óf dragtig óf het ’n lam by hulle.
  • Ooie wat minder vrugbaar is en wat lang tussenlamperiodes het, kan nie geïdentifiseer word nie en die kudde se vrugbaarheid en reproduksie lei gevolglik daaronder.
  • Toesighouding oor die lamproses is moeilik en uitgerek, dikwels tot so ’n mate dat daar later moed opgegee word.
  • Roofdiere floreer onder toestande waar daar voortdurend pasgebore of jong diere is om te vang. Die voorsiening van veilige lamkampe is ook onmoontlik. Dit veroorsaak dat produsente nie behoorlike roofdierbestuur kan toepas nie en dikwels na gif gryp.
  • Tegnologieë soos dragtigheidsondersoeke (sonars), die gebruik van koggelramme en die toetsing van ramme vir vrugbaarheid, geslagsiektes en so meer, kan nie gebruik word nie.
  • Dit is onmoontlik om diere strategiese voeding te gee indien nodig, soos tydens droogtes en spesifieke belangrike stadia in die reproduksiesiklus.
  • Dit is onmoontlik om diere tydig te verminder tydens ’n ontwikkelende droogte. Dit is dikwels die hoofrede waarom boere te laat begin om diere gedurende ’n droogte te verminder en dan later in die droogte die prys moet betaal.
  • Geen van die nuutste presisie-reproduksietegnologieë kan gebruik word as ’n produsent nie goed beplande teelseisoene toepas nie.

2. Swak voorbereiding van ramme en ooie

Viriele ramme met ’n goeie libido, wat dekbehendig, vrugbaar, gesond, fiks en goed gevoed is, is noodsaaklik om die maksimum besetting van ooie te verseker. Dit is onmoontlik om ramme wat voortdurend by die ooie loop aan hierdie vereistes te laat voldoen. Die besettingsyfer van die ooie kan met soveel as 20% afneem as ramme nie goed voorberei is en aan hierdie minimum standaarde voldoen nie. Die persentasie tweelinge kan insgelyks afneem.

Hoe swakker die ooie se kondisie tydens paring is, hoe laer sal die besetting en die getal meerlinge wees. Die swakste kombinasie is sekerlik om ramme wat swak voorberei is by ooie wat swak voorberei is te sit. Dit is beslis die resep vir ’n lae besettingsyfer en lampersentasie.

3. Oormatige hantering van ooie

Ooie is veral gevoelig vir oormatige hantering tydens paring en vroeë dragtigheid. Oormatige hantering tydens die paarseisoen kan lei tot die herabsorbering (resorpsie) van die vrug nog voordat dit as ’n volledig-ontwikkelde fetus beskou kan word.

Fetusaanhegting vind tussen dag 14 en 16 na bevrugting plaas en is op dag 28 tot 35 na bevrugting voltooi. Gedurende dié tydperk kan selfs die fetus geresorbeer of geaborteer word.

4. Ooie wat in laatdragtigheid vermaer

Ooie wat in die laaste derde van dragtigheid vermaer, gee aanleiding tot lamverliese. Een van die redes hiervoor is klein en ligte lammers wat gebore word en dikwels nie die vermoë het om behoorlik te kan suip nie. Dit verlaag die inname van biesmelk, wat noodsaaklik is vir die lam se oorlewing tydens koue toestande rondom geboorte, en hulle geniet dan ook nie voldoende beskerming teen siektes waarteen die ooie ingeënt is nie.

Daarbenewens is vermaerde ooie se uiers swak ontwikkel en produseer dus onvoldoende melk. Dit is die hoofoorsaak van ooie wat lammers weggooi, asook lamvrektes kort na geboorte.

’n Lam se toekomstige wolproduksie word deur die voeding van sy moeder gedurende laatdragtigheid bepaal. Die sekondêre follikels (fyn vesels) is die belangrikste gedeelte van die wolskaap se wolfabriek en ontwikkel vanaf dag 90 van dragtigheid tot en met die eerste maand na geboorte. Die digtheid van die follikels word ook in hierdie tydperk vasgelê en verander nooit oor die leeftyd van die skaap nie. Hierdie sekondêre follikels het die grootste effek op die digtheid en fynheid van die wol in die vel. Hoe hoër die digtheid van die sekondêre follikels, hoe meer en fyner wol produseer die skaap oor sy leeftyd.

Ooie wat tydens laatdragtigheid afgeskeep word, kan nooit hierdie agterstand inhaal nadat hulle gelam het nie. Vermaerde ooie is een van die grootste oorsake van lamverliese na geboorte.

5. Gebrek aan proaktiewe roofdierbestuur

(Geneem uit Bestuur Predasie, die Predasiebestuursforum se handleiding vir die bestuur van roofdiere.)

Kleinveeboere besef nie altyd die waarde van voorsorg as dit by skadeveroorsakende diere kom nie. Net soos daar seker gemaak moet word dat die kampe waar die ooie gaan lam voldoende kos en water vir die diere het, moet daar verseker word dat die lam-areas en omliggende gebiede ten volle teen roofdiere beskerm is.

Hierdie kampe behoort ook vroegtydig deur sogenaamde ‘boskameras’ gemonitor te word. Minstens vier kameras per 1 000ha moet ses weke voordat die ooie begin lam, op strategiese plekke in die lam-area gestel word. Hoe meer kameras, hoe beter. Dit is veral belangrik om die waterpunte te monitor.

Verder moet kruipgate onder deur drade met klippe toegepak word. Hierdie proses van proaktiewe optrede is die vertrekpunt om predasieverliese by lammers suksesvol te beheer. Om te wag tot die eerste lam gevang is, is reeds te laat.

6. Swak toesig oor ooie wat lam

Die meeste lamverliese vind tydens die lamproses of binne die eerste 72 uur nadat die ooi gelam het plaas. Die klem moet dus op toesig wees.

Gaan die ooie minstens twee keer per dag na. Probeer om ooie wat besig is om te lam of onlangs gelam het en steeds op die geboorteplek is, so min as moontlik te versteur. Wees veral bedag daarop dat honde sulke ooie hewig kan laat reageer as gevolg van die ooie se verhoogde beskermingsinstink. Toesig vanaf ’n perd se rug werk goed.

Indien die ooie byvoeding ontvang, moet die voerbakke verkieslik vol gehou word. Dit sal verhoed dat lammers van die ooie geskei word weens ooie wat agter die voertuig wat die voer bring, aanhardloop.

Wees op die uitkyk vir ooie wat moeilik lam en help hulle so spoedig moontlik om die lam uit te kry. Let ook op ooie wat by die vulva dreineer nadat hulle gelam het. Dit kan ’n teken wees van ’n ontwikkelende infeksie in die geboortekanaal. Hoe vroeër dit behandel word, hoe beter.

7. Ooie wat tydens vroeë laktasie vermaer

’n Ooi wat haar sout werd is, sal kondisie verloor in hierdie tydperk, aangesien sy van haar liggaamsreserwes na haar lam oorskuif via haar melk. Dit is ook die tydperk wanneer ’n ooi die nuwe generasie eiselle vir die volgende dekseisoen begin voorberei. As sy in hierdie tyd oormatig kondisie verloor, word haar besetting in die daaropvolgende lamseisoen benadeel.

Eenling- en meerlingooie moet onderskeidelik minstens ’n 3 tot 3,5 kondisiepunt hê wanneer hulle begin lam. Daarna moet hulle nie meer as 25 tot 50g in liggaamsmassa (vir enkelinge) en 60 tot 100g massa (vir meerlinge) per dag tydens vroeë laktasie verloor nie. – Dr Louis du Pisani, onafhanklike landboukonsultant

Vir meer inligting of navrae rondom opleiding in reproduksie- en kuddebestuur, kontak dr Louis du Pisani by 082 773 9778 of [email protected].