Kroniese wanbestuur van ’n boerdery se geldsake lei uiteindelik tot ’n ineenstorting van die besigheid. Hoe harder die finansies knyp, hoe belangriker is dit om beheer daaroor te neem. Veeboerdery is ’n besigheid en enige besigheid wat wins wil maak, se geldsake moet goed bestuur word. Vermy dus die volgende doodsondes van geldbestuur by kuddebestuur.

1. Geen begroting by kuddebestuur

Die spreekwoord lui: “Kontant is koning”. Menige boerderye het al in die stof gebyt, nie as gevolg van swak produksiebestuur nie, maar weens swak kontantvloeibestuur.

Vir ’n boerdery wat sy kontantvloei goed wil bestuur, is dit noodsaaklik om die patroon van inkomste en spandering so goed as moontlik met mekaar te sinkroniseer. Die manier om dit te doen is om ’n goed beplande begroting op te stel, wat as die onderneming se besigheidsplan vir die volgende jaar kan dien.

Die ideaal is om die inkomstestrome sodanig te beplan dat daar elke slag genoeg fondse in die bank beskikbaar is wanneer ’n groot betaling moet geskied, soos byvoorbeeld die jaarlikse paaiement op grondskuld. Dit verlaag die oortrokke banklimiet wat die besigheid benodig, met ’n aansienlike besparing aan rentekoste.

2. Swak kontantvloeibestuur by kuddebestuur

’n Goed beplande begroting is die eerste stap in goeie finansiële bestuur. Daarna moet dit van dag tot dag aktief bestuur word, anders is dit niks meer as ’n wenslys nie.

Dit gebeur soms dat die beplande begroting nie 100% in praktyk uitwerk nie. ’n Onlangse voorbeeld is wolprodusente se drastiese afname in die woltjek tydens die tweede helfte van 2020. Die datum van die inkomste het met die begroting ooreengestem, maar die bedrag van die tjek was sowat 20% laer as beraam.

sheep, kuddebestuur
Kontantvloei moet behoorlik bestuur word sodat die besigheid nie noodgedwonge oortrokke fasiliteit nodig kry nie.

’n Mens kan natuurlik so iets óf ignoreer óf probeer wegredeneer, maar die beste besluit is om die begroting dadelik dienooreenkomstig aan te pas. Indien nie, sal die besigheid noodgedwonge ’n groter oortrokke fasiliteit nodig kry as waarvoor daar reeds ’n reëling met die bank bestaan. Dit is altyd beter om eers te kyk of daar nie ander aanpassings gemaak kan word nie, aangesien banke gewoonlik nie geneë is om oortrokke fasiliteite gedurende die jaar aan te pas nie.

Die grootste sondebok by swak kontantvloeibestuur is onbeplande en onnodige uitgawes wat op die ingewing van die oomblik gemaak word, sonder om die effek daarvan op die kontantvloei te evalueer. Hier word nie gepraat van kostes van toerusting soos waterpompe wat onvoorsiens breek nie. Wanneer sulke probleme ontstaan moet die begroting noodwendig dienooreenkomstig aangepas word.

3. Kapitale spandering sonder ’n uitvoerbaarheidstudie

Die gevaarlikste tyd van die jaar vir wanbesteding in die boerdery is kort voor die einde van die finansiële jaar, veral as dit blyk dat die boerdery belasting sal moet betaal. Een van die opsies wat dan dikwels oorweeg word om die belastinglas te verlig, is om uitbreidings van ’n kapitale aard te maak wat van inkomstebelasting aftrekbaar is.

Daar is niks met die beginsel verkeerd nie, mits die besluit op ’n behoorlike uitvoerbaarheidstudie gebaseer is. Soms is dit beter om eerder die besigheid se na-belaste wins te maksimeer as om ten alle koste die belastinglas te wil verlaag.

’n Goeie uitvoerbaarheidstudie sal duidelik uitwys wat die effek van die projek op die besigheid se korttermynkontantvloei sal wees. Sonder ’n uitvoerbaarheidstudie lyk die uiteinde van ’n projek baie rooskleurig, maar dit plaas geweldige druk op die kontantvloei in die interim en die besigheid kan selfs vou voordat die projek sy finale wins realiseer.

4. ’n Toenemende oortrokke fasiliteit wat gate toestop

Een van die rooi ligte vir ’n besigheid is ’n kroniese toename in die behoefte aan korttermynfinansiering, waarvan die oortrokke fasiliteit die belangrikste is. As dit veroorsaak word deur ’n nuwe projek wat tydelik druk op die besigheid se kontant plaas en daar is deeglik daarvoor begroot en beplan, is dit aanvaarbaar.

’n Boerdery wat ’n uitgerekte droogte ervaar, tydig die nodige finansiële aanpassings maak en dit met die bank kommunikeer, is ook aanvaarbaar. Die situasie word egter problematies wanneer dit veroorsaak word deur ’n kroniese gebrek aan wins terwyl daar voortdurend vir ’n wins begroot word, en/of ’n toename in eie spandering deur die eienaar.

Die Nasionale Kredietwet, 2005 (Wet 34 van 2005) verhoed banke om onverantwoordelik met kredietverlening om te gaan. Hulle raak dus onrustig wanneer ’n besigheid se oortrokke fasiliteit voortdurend styg en die banksaldo boonop nooit gedurende die jaar positief raak nie.

Die bank is een van die boer se belangrikste medewerkers en ’n vertrouensverhouding met die bank is daarom uiters belangrik. ’n Besigheid wat egter onder groeiende finansiële druk verkeer, breek hierdie vertroue af.

5. Geen onderskeid tussen die boerdery en eie finansies nie

Dit is waarskynlik net in boerderye (eenmansake) waar ‘n mens vind dat die eienaar die besigheid se bankrekening ook as sy eie bankrekening gebruik. Veeboerderye is, as gevolg van hul sterk balansstate wat aan die hoë waardasie van hul vaste bates (grond) toegeskryf kan word, baie kredietwaardig en het relatief maklike toegang tot korttermynfinansiering. Dit kan aan ’n mens ’n valse gevoel van welvaart gee, wat tot ondeurdagte persoonlike spandering kan lei.

kuddebestuur
Net soos die boerdery ’n eie begroting moet hê, moet die produsent ook ’n begroting vir sy eie geldsake hê.

Net soos die boerdery ’n eie begroting moet hê, moet die produsent ook ’n begroting vir sy eie geldsake hê. Hy moet vanuit sy boerdery se begroting besluit wat die besigheid as ’n salaris aan die eienaar kan bekostig. Dit is dan ’n goeie praktyk om hierdie salaris maandeliks na die produsent se eie, persoonlike bankrekening oor te betaal.

6. Verkeerde aanwending van finansiering

Daar is niks wat kontantvloei so onder druk plaas as ’n lening waarvan die terugbetaaltermyn uit pas is met die lewensduur van die projek nie. ’n Praktiese voorbeeld is om ’n mediumtermynprojek oor twaalf maande met ’n korttermynlening te probeer finansier.

Gestel die aankoopprys was R500 000 (10% rentekoers), dan sal die maandelikse paaiement R43 957 beloop. Die totale terugbetaling is R527 495,29, waarvan die rente R27 495,29 uitmaak. Gestel die bate se lewensduur is vyf jaar en die lening word oor sy leeftyd van vyf jaar uitgeneem, dan sal die maandelikse paaiement R10 623 beloop, wat ’n veel kleiner impak op die kontantvloei sal hê. Die totale terugbetaling sal R637 411,20 wees, waarvan die rente R137 411,20 uitmaak, wat aansienlik duurder is, maar wat minstens nie die kontantvloei gaan vernietig nie.

Dieselfde geld natuurlik ook vir ’n bate waarvan die finansieringstydperk langer as die bate se leeftyd is. Dan sal die bate alreeds vervang moet word, terwyl die skuld nog nie afgelos is nie.

7. Die boerdery se prestasie word nie ontleed nie

’n Jaarlikse ekonomiese en fisiese ontleding van die boerdery is onontbeerlik. Die jaarlikse state wat die rekenmeester opstel is nie geskik hiervoor nie, aangesien dié state hoofsaaklik vir die doeleindes van inkomstebelasting opgestel is en nie net só as bestuurstate gebruik kan word nie. ’n Landbou-ekonomiese analise, wat ook die produksiesyfers van elke bedryfstak binne die boerdery ontleed, is nodig.

Dit is ook belangrik om die boerdery se syfers met die nodige maatstawwe (benchmarks) vir die betrokke boerderytipe te vergelyk. Hier speel betroubare studiegroepsyfers ’n baie belangrike rol. Dit help die produsent om sy vinger op beide die sterk en swak punte van die boerdery en elke bedryfstak te plaas, en korrektiewe stappe te neem.

Raadpleeg ’n kundige wat die boerdery elke jaar volledig kan ontleed en korrektiewe stappe kan aanbeveel. Hou hiermee vol, selfs tydens moeilike jare. Produsente onderbreek dikwels dié gewoonte tydens droogtejare, maar dit is juis dán wanneer so ’n analise noodsaaklik is. – Deur dr Louis du Pisani, onafhanklike landboukonsultant

 

Klik hier vir Deel 4.

Vir meer inligting of navrae rondom opleiding in reproduksie- en kuddebestuur, kontak dr Louis du Pisani by 082 773 9778 of Ldupisani@gmail.com.