Die kuilvoer-studentespan ry die land vanjaar weer plat op soek na 2019 se kuilvoerkoning. Die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie het vroeër vanjaar afgeskop nadat inskrywings amptelik in Maart geopen het.

Dié kompetisie word nou al vir die sesde agtereenvolgende jaar deur Plaas Media se ankertydskrifte, Veeplaas en Stockfarm, aangebied met die lojale ondersteuning van die naamborg, Santam Landbou, asook vanjaar se prysborge, PANNAR, Strapping & Profile Manufacturers (Rani) en Nutribase. Daarmee saam het NTT Toyota Barberton ook ingespring en die Toyota Hilux-bakkie geborg waarmee die studente duisende kilometers kon aflê.

Wat behels die kompetisie?

Die kompetisie word in twee kategorieë aangebied, naamlik wintergraankuilvoer, wat kleingraan insluit, en somergraankuilvoer, wat mieliekuilvoer en voersorghumkuilvoer insluit. ’n Wenner word in elke kategorie aangewys en ’n algehele wenner word as die kuilvoerkoning gekroon by ALFA 2019.

Waldo Macdonald en Lambert Jacobs van die Universiteit van die Vrystaat by die Toyota Hilux-bakkie, wat met trots deur NTT Toyota Barberton geborg is. (Foto: Lambert Jacobs)

Waldo Macdonald en Lambert Jacobs, twee meestersgraadstudente in dierevoeding aan die Universiteit van die Vrystaat, is verantwoordelik vir die monsterneming op plase. Laboratoriumtoetse word ook by dié universiteit gedoen. Die kompetisie word 100% wetenskaplik aangebied, met ’n protokol wat deur prof Robin Meeske ontwikkel is en deur die kompetisie-koördineerder, Richardt Venter, bestuur word.

Kleingraan-monsterneming

Waldo en Lambert het einde April met die kleingraan-monsterneming begin. Hulle het altesaam 15 hawermonsters by 15 plase in die Wes-Kaap geneem.

Vier maatskappye het boere vir dié rondte van die kompetisie ingeskryf. Die roete het in Beaufort-Wes begin en in Mosselbaai geëindig. Hulle het meer as 3 000km in ses dae afgelê in ’n splinternuwe Toyota Hilux-bakkie, wat met trots deur NTT Toyota Barberton geborg is.

Aankondiging van wenners

Die wenners van die twee kategorieë sal tydens die jaarlikse kuilvoerseminaar by ALFA 2019 aangekondig word. Die jaarlikse ALFA vee-ekspo vind van 17 tot 19 September by die Afridome in Parys plaas. Die kuilvoerkoning sal by die galadinee op die aand van 19 September gekroon word.

Vir meer inligting oor die kompetisie, skakel Michelle Verster by 083 375 4641 of stuur ’n epos aan michelle@plaasmedia.co.za.