Die Suid-Afrikaanse veebedryf voel tans nog die uitwerking van die grootste droogte in sy opgetekende geskiedenis. Reën wat laat geval het, het vir groot dele van die land te laat gekom om ’n wesenlike verskil aan die beskikbaarheid van winterweidings te maak.

Onlangse droogtenavorsing wat deur die Eenheid in Lewendehawe-ekonomie by die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat gedoen is en deur die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) befonds is, het bevind dat die gemiddelde koeikudde in Suid-Afrika tussen 2013 en 2016 met 15% verminder het. Ooikuddes is rofweg gedurende dieselfde tydperk met 16% verminder.

Provinsies waarin koeikuddes die ergste verminder is, is die Noord-Kaap (23%), Noordwes (21%) en Limpopo (17%). Ooikuddes is die meeste uitgedun in Natal (36%), Limpopo (31%) en die Noord-Kaap (23%).

Droogte versus veilings

Dit word algemeen aanvaar dat veilings die amptelike platform is waardeur veepryse in die land bepaal word. Veeplaas het met verskeie rolspelers in die veebedryf gaan praat om meer uit te vind oor die uitwerking van die droogte op veilings en om hulle mening daaroor te kry.

Nick Serfontein, voorsitter van die Sernick-groep, sê die droogte het verseker ’n impak op veilings gehad en daar is nog steeds ’n ooraanbod van C-grade. “Ek dink egter die impak van die droogte is groter op stoetveilings as op kommersiële veilings. Die rooivleisbedryf het lank aan die agterspeen gesuig, maar kommersiële boere besef dat iets aan die gebeur is en dat die draaipunt naby is. Om in kommersiële diere te belê, beteken ’n vinniger opbrengs op jou belegging as om in stoetboerdery te belê.

“Die stoetbedryf vereis ’n lang-termyn belegging en geld is skaars. Ek dink persoonlik die stoetbedryf is nog ver weg van die draaipunt en daar gaan nog eers vir ’n jaar ’n ‘uitskutproses’ wees. Hiermee bedoel ek baie stoettelers gaan besef dit is nie so aantreklik as wat vermoed is nie, en gaan hul stoeterye verkoop of oorslaan na kommersiële boerdery,” sê hy.

Gesogte genetika

Nick sê die droogte het verbasend genoeg nie ’n negatiewe impak op sy 2016-veiling gehad nie – inteendeel, dit was die beste veiling wat hy nog ooit gehad het. “Dit kan waarskynlik toegeskryf word aan faktore soos goeie bemarking, goeie gehalte en goeie genetika. Ons fokus was al die jare op groei en voeromset, ten spyte daarvan dat ons die diere kleiner gemaak het. Daardie klokkie begin nou lui.

“Ons genetika (groei en voeromset) is gesog. Dan het ons ’n nuwe mark ontwikkel. Opkomende boere se aandeel in die veiling was 28%, wat aansienlik groot is. Verder probeer ons lang-termyn verhoudings bou met kliënte wat bulle by ons koop deur hulle speenkalwers terug te koop of andersins hulle speenkalwers by ons op kontrak te voer.

“As ’n mens minder as R25 000 vir ’n stoetbul op ’n veiling kry, maak jy nie geld nie. Vroulike diere se prys moet darem ten minste 10% bokant die slagprys wees. Gelukkig het dit baie goed gegaan met ons laaste produksieveiling. Goeie gehalte diere sal goeie pryse op ’n veiling behaal, maar swak gehalte diere het nie eintlik ’n plek in die mark nie.

“Daar gaan goeie veilings in die toekoms wees, asook baie swak veilings. Kommersiële vroulike diere behoort goeie pryse te behaal, want die rooivleisbedryf is in ’n opwaartse fase. Teeldiere gaan volgende jaar baie duur wees. Stoetveilings gaan vir ten minste nog ’n jaar sukkel, wat waarskynlik reg is, want daar is te veel veilings en te veel swak gehalte diere in die mark.”

Vermindering van diere

Willie Meyer, uitvoerende bestuurder van veilings by GWK, meen die vraag is of die droogte wel gebreek is, met groot gebiede wat laat reën ontvang het en waar die groeiseisoen beperk was. Hy sê produsente verminder steeds diere om deur die winter te kom. Die getalle by kommersiële veilings is hoog, wat aandui dat weiding steeds beperk is.

Hoë gehalte diere op stoetveeveilings behaal steeds hoë pryse. Veilings is gehou waar vroulike diere uitstekende pryse behaal het. Die definitiewe uitwerking van die droogte kan egter gesien word by die slagtings van vroulike diere. Groot persentasies van hierdie diere is skraal en dragtig.

Hy meen die vermindering van die nasionale beeskudde kan moontlik die aanvraag na aanteeldiere verhoog. “Pryse beweeg redelik sywaarts die afgelope jaar of twee. Tendense word bepaal deur die vraag en aanbod, asook die prys van voerkoste, en die plaasprys van diere is baie onderdruk. Die aantal slagtings van vroulike diere en in voerkrale kan die speenkalf-aanbod verminder, wat ’n uitwerking kan hê op die speenkalfprys. Die prys van vroulike diere kan styg, en dit sal die toestande en beskikbaarheid van kapitaal, asook pryse, bepaal.”

Marktendense

Marktendense wys dat skaap- en beesslagtings in aanloop tot die Desember-kersmark in 2015 gestyg het. Skaapslagtings volg in 2016 dieselfde tendens as in 2015, maar daar word elke maand 50 000 tot 60 000 minder skape geslag as in die ooreenstemmende maande van verlede jaar. Beesslagtings is tot dusver baie naby aan die getalle wat in 2015 aangeteken is, met die grootste verskil wat in April aangeteken is toe sowat 16 000 minder beeste as in April 2015 geslag is.

Speenkalfpryse het sedert Oktober 2015 tot Januarie 2016 verswak en het sedert Februarie op vlakke effens hoër as verlede jaar se pryse verhandel. Speenlampryse het sedert September 2015 tot Februarie 2016 amper horisontaal beweeg, waarna pryse verbeter het tot sowat R4/kg hoër as in Februarie 2015 en handel sedertdien sowat R3/kg hoër is as in 2015.

Die beesvleisprys (A2/3) het in Desember 2015 effens gestyg en verhandel sedert die begin van 2016 sowat R3/kg tot R4/kg duurder as in 2015. Skaapvleispryse (A2) het in die laaste kwartaal van 2015 so te sê horisontaal beweeg. Daar was egter ’n groot styging in die skaapvleisprys in Februarie, toe die gemiddelde prys by meer R62/kg gedraai het. Dit was sowat R10/kg meer as in Februarie 2015. Daarna het die skaapvleisprys egter tot in April gedaal, toe dit teen amper dieselfde prys as in 2015 verhandel het. Sedertdien verhandel skaapvleis teen sowat R2,50/kg tot R3/kg hoër as in 2015.

Die verbruiker

’n Ooraanbod van vee in die land is lankal voorspel, wat gevolglik pryse sou afdwing tot voordeel van die verbruiker. As ’n mens na die pryse in Figuur 1 kyk, kan egter nie eintlik gesien word dat skaap- of beesvleis goedkoper geraak het aan die einde van 2015 nie. Redes hiervoor kan wees dat die mielieprys, wat ’n groot invloed op die voerprys het, ook as gevolg van die droogte gestyg het en die diere wat tydens kudde-uitdunning verkoop is, nie noodwendig slaggereed was nie.

Indien ’n mens verder na die 2016-pryse kyk, sien jy ook nog nie die geweldige hoë rooivleisprys wat voorspel is nie. Hier is ook weereens verskeie faktore wat ’n rol kan speel, of dit kan wees dat die aanbod van vee nog nie so gedaal het dat dit pryse hoër forseer nie.

Dit kan ook wees dat ekonomiese faktore soos die verhoging in rentekoerse vroeër in 2016 die vraag na rooivleis en veral skaapvleis in die land verminder het. Huishoudings met ’n lae of gemiddelde inkomste gee gewoonlik luukse produkte (soos skaapvleis) prys om gedurende moeilike ekonomiese toestande kop bo water te hou.

Ten slotte

Dit is duidelik dat die nasionale koeikudde die afgelope tyd verklein is. Ten spyte van die kudde-verkleinings blyk dit dat goeie teeldiere steeds vir goeie pryse verkoop word. Dit mag wees dat veeboere die beperkte weiding wat hulle het optimaal wil gebruik. Hulle koop dus nou goeie teeldiere in om na die droogte weer met ’n kuddeboufase te begin. -WA Lombard en Danfrid Morolong, Veeplaas

Sien onlangse veilingsnuus hier.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here