Elke veeboer moet dit hê – ’n noodhulpkas vir basiese behandeling en prosedures, en vir wanneer die veearts nie dadelik daar kan wees om te help nie.

Die eerste ding om in gedagte te hou wanneer ’n mens ’n noodhulpkas vir ’n veeboer saamstel, is sekerlik die kas self. So sê Arnold Botha van ANB Vet in Gauteng. Sy aanbeveling is ’n kas met afsonderlike kompartemente, waarin die inhoud verpak kan word sonder om te veel rond te skuif of om te val.

Verder moet die kas robuus genoeg wees sodat dit agterop die bakkie vasgemaak kan word sonder dat dit uitmekaar val. Die ideale kas is ’n gereedskapskis wat algemeen by hardewarewinkels verkoop word.

’n Kykie na die inhoud

Die eerste item wat Arnold noem is ’n goeie tou waarmee ’n dier geïmmobiliseer kan word. Hy beveel ’n ski-tou van tussen 7 en 10mm in deursnee en ongeveer 12m lank aan. Daar is ook toue beskikbaar met lusse op die regte plekke – dit word algemeen in Afrika gebruik om beeste maklik mee plat te trek.

Die volgende item is antibiotika. Hier is Arnold se aanbeveling ’n verskeidenheid wat elk op ’n spesifieke manier aangewend kan word. Dit sluit ’n salf wat op wonde gesmeer kan word, asook ’n spuitmiddel, poeier en inspuitbare antibiotika in. ’n Antibiotiese middel in ghriesvorm, wat ’n insekdoder bevat om brommers en maaiers mee dood te maak, is ook noodsaaklik, sê hy. Indien jy in ’n hartwatergebied boer, behoort jy ook ’n paar botteltjies algemene antibiotika soos oksitetrasiklien byderhand te hou.

Spuite is nog ’n noodsaaklikheid. Dit maak nie saak of jy weggooibare of herbruikbare spuite gebruik nie, solank jy dit volgens die aanwysings gebruik en deeglik ná gebruik skoonmaak. Dit is ook belangrik dat jy genoeg naalde van verskillende lengtes en diktes vir onderhuidse of binnespierse inspuitings het.

Wat van wonde?

Arnold sê dit is belangrik om ’n goeie ontsmettingsmiddel in jou noodhulpkas in te sluit. Dit kan enige algemene ontsmettingsmiddel soos Dettol, Savlon of waterstofperoksied wees. Dit is ook handig om ’n bottel jodium beskikbaar te hê om wonde mee te ontsmet. Geen kiem kom verby ’n jodiumgrens nie.

Dit is verder nuttig om verskillende verbande beskikbaar te hê. Die eerste is ’n teerverband, wat ’n mens byvoorbeeld om ’n hoef kan draai as daar ’n hoefbesering is. Hierdie verbande is waterbestand en val nie maklik af nie. Hegpleister van tussen 50 en 75mm breed is belangrik om wonde mee toe te plak, asook ’n kleefverband waarmee wonde toegedraai kan word. Gaasdeppers en watte, waarmee die antibiotika op die wond aangewend kan word, is ook handig.

Nog ’n doeltreffende item vir wondbehandeling is hegmateriaal waarmee wonde toegewerk kan word. ’n Mens kry ’n stelletjie met ’n naald en hegtingsdraad van 1,5 of 3m wat steriel verpak is en gereed is om te gebruik.

Ander gereedskap

Dit is belangrik om ’n tangetjie beskikbaar te hê om voorwerpe wat dalk in ’n wond steek, te kan vasvat en uittrek. Daar is baie handige chirurgiese tangetjies met skerp knypers wat spesiaal vir dié doel ontwerp is. Behalwe vir vreemde voorwerpe binne-in wonde, is dié tangetjies net so nuttig om die naald mee vas te vat as jy ’n wond moet toewerk.

’n Skalpel en lemmetjies om byvoorbeeld absesse en swere mee oop te maak, is ook nodig. Die higiëniese bestuur van hierdie lemme is egter uiters belangrik. Moet onder geen omstandighede ’n vuil of besmette lem op ’n dier gebruik nie.

Onthou om die noodhulpkas gereeld na te gaan vir items wat naby aan klaar is of naby hul vervaldatum is. Maak seker alles is in werkende toestand en is nie oud nie. Vul jou kissie aan wanneer nodig sodat jy nie onkant gevang word wanneer die nood druk nie. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak die outeur by izak@plaasmedia.co.za.