Veilings is die prysvormingsmeganisme, oftewel die hartklop, van die veebedryf. Die afgelope paar maande was veilingshuise onder geweldige druk en moes hulle noodgedwonge nuwe planne maak om te oorleef.

Veeplaas het by ’n paar veilingshuise gaan kers opsteek om te hoor hoe hulle die veilingsbedryf van die toekoms sien.

GWK Veilings

Willie Meyer

Willie Meyer, hoof van veilings en verkope by GWK Veilings, beskryf die COVID-19- en bek-en-klouseerprobleme van die afgelope maande as die perfekte storm vir die veilingsbedryf. “Hierdie terugslae het nuwe denke rondom volhoubare veilings na vore gebring. Dit was veral wildveilings wat die voortou geneem het.”

Hy glo tradisionele veilings sal steeds voortbestaan, maar sekere veilings, soos stoetveilings, gaan begin plek maak vir aanlynveilings, of dit sal ten minste deur aanlynveilings gerugsteun word. Volgens hom sal kommersiële veilings voorlopig aangaan soos altyd, maar aanlynveilings gaan ’n al groter rol begin speel, veral waar daar groot aanbiedinge is soos met speenkalfveilings.

“Veilings sal hul plek in die landbou behou, maar die nuwe metodes bring groot voordele teweeg, onder meer die besparing van kostes vir beide die produsent en die veilinghuis. Ek dink die ouer boere hou ook van tegnologie en soveel te meer as hulle die voordele van hierdie metode beleef. Dit is egter die jongboere wat makliker sal inkoop. Die groot voordeel is dat daar opsies beskikbaar is vir die produsent en die veilingshuise is gerat om hierdie opsies aan te bied,” sê hy.

Vleissentraal Bosveld

Johan Vosser

Johan Vosser, besturende direkteur van Vleissentraal Bosveld, sê die kwessies rondom bek-en-klouseer en COVID-19 het al die partye betrokke by veilings meer bewus gemaak van die belangrikheid van biosekuriteit. Die COVID-19-pandemie het ’n onsekerheid veroorsaak by vee-eienaars oor hoe veilings gedoen moet word, hoe die regulasies in verskillende gebiede toegepas moet word en so meer.

Bek-en-klouseer het hulle weer bewus gemaak van aspekte soos biosekuriteit by veilingskrale, gesondheidsertifisering van diere, naspeurbaarheid in die waardeketting en ander wetlike voorskrifte.

Die veilingsbedryf gaan deur ’n moeilike tyd, maar Johan is nie bang vir veranderinge of die tegnologie nie. “Toe daar destyds van handgeskrewe na rekenaargedrukte fakture oorgeskakel is, was kliënte baie bekommerd oor die korrektheid van die fakture.

“Vandag is dieselfde mense angstig dat die stelsels nog vinniger moet wees en dat sy geld dadelik in die bank moet wees vóór die dag se veiling nagegaan kan word vir menslike foute, en hulle benader nou die aanlynveilings met dieselfde bekommernisse. Veilingshuise het beslis aangepas by veranderende omstandighede en het in sommige gevalle die voortou geneem in terme van ontwikkeling,” vertel hy.

Vir Johan is aanlynveilings hier om te bly. Dit sal meer gefokus wees op stoet-, groot produksie- en speenkalfveilings. Die koste verbonde aan die ontwikkeling en gebruik van ’n aanlynplatform teenoor die omset van die veiling, speel ’n belangrike rol. “Toe wildveilings se omsette so erg hoog was, het dit sin gemaak om dit  aanlyn aan te bied. Een aanlynbod op een lot was destyds maklik meer werd as die koste om die aanlynplatform te gebruik vir die dag.”

Hy glo egter dat die tradisionele, weeklikse of maandelikse veilings in die platteland nie vinnig dieselfde roete gaan volg nie. “Kieskeurigheid van kopers, die beskikbaarheid van korrekte vee-inligting, die getalle en verskeidenheid van diere wat elke verkoper bring en gebrekkige datakommunikasie is van die aspekte wat aanlynveilings belemmer.”

Hy sê ook groot kopers van vee, soos voerkrale, verkies om op een plek ’n groot aantal diere aan te skaf, in plaas daarvan om op verskillende plekke te koop. Dit is een van tradisionele veilings se groot voordele.

Noordkaap Lewendehawe

Neels Scheepers

Neels Scheepers, bestuurder van Noordkaap Lewendehawe, glo daar moet nog heelwat water in die see loop voordat aanlynveilings ’n algemene praktyk word. Hy sê saam met die aanlynveilings van die verlede, het daar heelwat probleme opgeduik wat toeskryf kan word aan die gebreke aan etiek, tegnologiese infrastruktuur en gehaltebeheer.

Volgens hom sal  aanlynveilings meer gewild raak by stoettelers as die koper weet die diere is gekeur. “Daar is egter heelwat boere wat sê hulle sal nie stoetdiere ongesiens koop nie, ten spyte van die katalogus en al die skriftelike inligting.”

Nog ’n probleem wat Neels voorsien is gehaltebeheer. “Jy kan nie gehaltekontrole soos die gradering van mielies of ouderdomsklassifikasie van karkasse toepas nie. Met elektroniese veilings word kalwers verkoop op geskatte gewig en dan later geweeg. As die gewig verkeerd geskat is en die kalwers is te swaar, pas die koper die prys aan. Dit het al ’n paar keer gelei tot struwelinge en die agent moet dan die saak tussen die koper en verkoper beredder. Etiek sal op die ou end bepaal of aanlynveilings gaan werk of nie.”

Hy is ook van mening dat elektroniese veilings net kan werk as die infrastruktuur reg is. Die tegnologie moet aan die koper geleentheid gee om te bie en die verkoper moet kan besluit of hy tevrede is met die aanbod.

’n Onafhanklike perspektief

Dawid Botha

Volgens Dawid Botha, ’n afgetrede veilingsbestuurder, boer en onafhanklike konsultant, het die veebedryf oor die afgelope paar jaar stelselmatig begin verander en telers geleidelik voorberei vir ’n hervormde veilingsbedryf. “Omstandighede het die veilingslandskap onherroeplik verander en die twee groot terugslae – bek-en-klouseer en COVID-19 – het produsente en veilingshuise genoop om nuut na veilings te kyk.”

Hy sê bemarkingsmetodes het reeds baie verander omdat sosiale media goedkoper is en die meeste kopers direk bereik word. Telers gebruik al hoe meer tegnologie op hul plase en dit het hulle ook meer ontvanklik begin maak vir aanlynveilings en digitale bemarkingsmetodes. Ongelukkig word kopers so oorval deur sosiale media-bemarking dat hulle nie meer na alles wil kyk nie. Daarom moet tradisionele bemarkingsmetodes steeds deel van die benadering vorm.

Hy glo daar sal ’n mengsel van tradisionele en moderne aanlynveilings wees en dit sal in die komende maande baie meer gedefinieer word. Ervaring het geleer dat megaboere, kommersiële boere en bestaansboere elk hul eie veilingsbehoeftes het. Veilingshuise moet daarom gerat wees om in elke behoefte te voorsien.

Dawid is van mening dat alle vee- en wildveilings aanlyn aangebied kan word en dat kopers oor die hele land betrokke kan raak sonder om noodwendig hul kantore te verlaat. Aan die ander kant is daar verkopers wat nie op so ’n groot skaal bemark nie. Vir hulle moet daar ook ’n bemarkingsplek wees. Hul kopers is gewoonlik die kleiner voerkraal of abattoir wat verkies om op een plek ’n vragmotor vol te koop.

“Ek glo wel die tradisionele veilings gaan ook ’n nuwe baadjie moet aantrek. Daar is soveel tegnologie tot ons beskikking dat hierdie tipe veilings ook mettertyd gaan verander.”

Iets wat mens in ag moet neem is die koste van tradisionele veilings vir al die partye. “Die veilingshuis moet meer personeel aanstel, die verkoper moet sy vee aanry en kopers moet oor ver afstande ry en ’n hele dag se werk opsy skuif. Die direkte koste om op ’n tradisionele veiling te verkoop kan tot so hoog as 7 tot 9% van die verkoper se omset uitmaak. Die voordeel van ’n aanlynveiling is dat baie van dié kostes gesny word.”

Elektroniese veilings is nie onmoontlik nie, maar daar moet nog baie klippe uit die pad gerol word. Intussen bly mense lief vir tradisionele veilings omdat dit ’n sosiale geleentheid is waar veeboere bymekaarkom en saam kan kuier.

Luister na wat Mike Killassy in ’n onlangse onderhoud op Plaas TV gesê het oor die toekoms van veilings: https://youtu.be/i8rHd-qovZ8.Koos du Pisanie, Veeplaas