Die handhawing van produksie en ekonomiese lewensvatbaarheid in die lig van besmetting deur inwendige parasiete, is ’n uitdaging vir boere in Suid-Afrika. In hierdie situasie maak die meeste boere staat op die gebruik van kombinasieprodukte om die belangrikste inwendige parasiete hok te slaan.

Veeartse en boere is egter bekommerd oor die gebruik van kombinasie-ontwurmingsprodukte. Die moontlikheid bestaan dat wurms oor ’n korter tydperk weerstandig kan raak teen meer as een aktiewe bestanddeel.

Die parasiet wat seker die meeste aandag in enige bespreking oor weerstand geniet, is haarwurm by skape. Nie alleen is dit ’n ekonomies beperkende wurm nie, maar dit is ook die wurm wat die grootste weerstandprobleme gee. Ander inwendige en ook sekere uitwendige parasiete is ook van belang, maar haarwurm is sekerlik een van die mees ekonomies beperkende parasiete.

Dinamika van die wurm

’n Paar belangrike punte moet in ag geneem word, veral met die gebruik van kombinasie-ontwurmingsmiddels. Eerstens moet die dinamika van die wurm wat die dier besmet duidelik verstaan word. Wanneer ’n mens bv. na haarwurm by skape kyk, hou in gedagte dat die wyfiewurm sowat 5 000 eiers per dag kan lê.

Indien die dier ’n lae besmetting van 300 wurms het, kan elke dier daagliks sowat 1,5 miljoen eiers op die weiveld deponeer. ’n Kudde van 30 skape kan in drie weke een miljard eiers op die weiveld deponeer. Dit neem minder as drie weke nadat ’n wurmlarwe uit die weiding gevreet word om ’n bloedsuiende wyfie te word wat eiers lê. Dis uit hierdie dinamika duidelik dat weidingbesoedeling die grootste risiko inhou en ook dat die lewensiklus van hierdie tipe wurms baie vinnig en akuut kan wees.

Aktiewe bestanddele

Dis belangrik om presies te verstaan wat ’n “kombinasiewurmmiddel” is, aangesien sommige middels die voorkoms van ’n “kombinasie” het, maar eintlik ’n “mengsel” van aktiewe bestanddele is wat verskillende wurmtipes behandel. ’n Kombinasiemiddel bevat twee of meer aktiewe bestanddele wat elk dieselfde wurm teiken.

Dit skep ’n groter kans dat wurms wat teen een aktiewe bestanddeel bestand is deur die ander een gedood kan word. Dis ook nuttig omdat baie plase wurms het wat weerstand teen meer as een aktiewe bestanddeel toon. Voorbeelde van kombinasiemiddels is produkte wat bv. levamisool en fenbendasool kombineer, of makrosikliese laktone en bensimidasoolmiddels.

’n Mengsel bevat twee of meer aktiewe bestanddele, maar die bestanddele teiken verskillende wurmsoorte. Dit gee die gemak van ’n enkele dosering wanneer heelwat verskillende wurmspesies geteiken word. Hier word die aktiewe bestanddeel in die mengsel as ’n “enkel-aktief” beskou, wat spesifiek ’n sekere wurmspesie doodmaak.

’n Voorbeeld van ’n mengsel is die kombinasie van moksidektien, praziquantel en triklabendasool. Hier het elke bestanddeel ’n spesifieke parasiet wat hy sal aanval en doodmaak. In dié geval sal moksidektien rondewurms doodmaak, praziquantel sal lintwurms doodmaak en triklabendasool is gemik op die beheer van lewerslakparasiete – alles dus in een dosering.

Figuur 1: Verskillende ontwurmingsmiddelformulasies.
Moksidektien in liggaamsvet

Moksidektien is ’n aktiewe bestanddeel wat daarvoor bekend is dat dit in liggaamsvet geberg word. Wanneer ooie voor lamtyd daarmee behandel word, sal daarvan in die ooie se vetreserwes geberg word en dus ook in die melk uitgeskei word.

Tydens ’n onlangse Australiese proefneming (Dever en Kahn) is bevind dat die wurmeiertellings van lammers met 51% gedaal het, sewe dae nadat die ooie met moksidektien ontwurm is. Die eiertellings van onbehandelde ooie se lammers het toegeneem.

Proefneming met lammers

In ’n meer gedetailleerde Nieu-Seelandse studie (Leathwick et al.) is tweelinglammers tussen die ouderdomme van vier en tien weke weekliks met wurmlarwes gedoseer. Een tweeling het wurmlarwes gekry wat teen moksidektien bestand was. Die ander tweeling het larwes ontvang wat vir moksidektien vatbaar was.

Die helfte van die lammers het aan ooie gesuip wat tien dae voor lam met moksidektien behandel is en die ander lammers het aan ooie gesuip wat nié moksidektien ontvang het nie. Die lammers is op die ouderdom van twaalf weke geslag en die aantal wurms in hul mae is getel.

Sleutelbevindings was dat moksidektien in die bloed van lammers wat aan behandelde ooie gesuip het, opgespoor kon word tot hulle agt weke oud was. Die aantal moksidektien-vatbare wurms in die mae van lammers wat aan behandelde ooie gesuip het, was 70% minder as die aantal in die mae van lammers wat aan onbehandelde ooie gesuip het.

Daar was geen verskil in die aantal moksidektien-weerstandige wurms in die mae van lammers wat aan behandelde ooie gesuip het in vergelyking met lammers wat aan onbehandelde ooie gesuip het nie.

Lintwurm en lewerslak

Hoewel baie besmettings van skape deur inwendige parasiete slegs met ’n mikroskoop gediagnoseer kan word, is lintwurmbesmetting duidelik sigbaar. Lintwurmsegmente kan duidelik in die mis van onbehandelde diere gesien word.

Hoewel dit oor die algemeen beskou word as van min patogeniese betekenis, is daar ’n aantal verslae wat verwys na waar swaar besmettings swak groei, diarree en selfs dermobstruksies veroorsaak het. Praziquantel verwyder beide die kop (skoleks) en segmente, terwyl ’n aktiewe bestanddeel soos niklosamied slegs die segmente verwyder.

Lewerslak is ’n ekonomies belangrike en potensieel dodelike siekte in skape wat met bepaalde streke regoor die land geassosieer kan word. Die parasiet se voorkoms hou direk verband met die habitat van die akwatiese modderslak.

Aanbevole behandeling

Die aanbevole behandeling sal van die aard van die siekte afhang. Sommige van die beskikbare lewerslakmiddels is nie doeltreffend teen onvolwasse parasiete nie en die gebruik daarvan word nie aanbeveel waar ’n akute voorkoms van dié parasiete is nie. Hierdie middels is ook minder doeltreffend vir die strategiese beheer van lewerslak.

Die beste voorkoming en beheer van lewerslak kan met middels soos triklabendasool gedoen word. Die bestanddeel is teen die vroeë onvolwasse én volwasse stadiums van lewerslak doeltreffend.

Figuur 2: Vergelykende doeltreffendheid van die mees gebruikte lewerslakmiddels teen verskillende stadiums van Fasciola hepatica.

Daar is toenemende bewyse dat ooie in ’n goeie voedingstoestand wurmbesmetting beter kan beheer. Voeding is dus van kardinale belang in die beheer van wurms by skape.

Verwysings is van die outeur beskikbaar. Vir meer besonderhede, skakel dr Johan van Rensburg by 082 336 5498.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here