Die wêreldwye handel in wildleweprodukte is ’n massiewe bedryf. Inligting oor die onwettige verhandeling van sulke produkte is vrylik bekombaar, terwyl die goeie syfers oor wettige handel nie so gereeld aan die groot klok gehang word nie. Volgens wêreldwye doeanestatistiek in 2012, was wildleweprodukte ter waarde van $187 miljard wêreldwyd ingevoer en die waarde van wilde diere, wat vis en plantprodukte uitsluit, het sowat $3 miljard beloop.

Wetenskaplikes sê egter dat dié syfers baie hoër is, aangesien dit nie die binnelandse handel van lande insluit nie en alle doeane-unies nie noodwendig hul syfers bekendmaak nie. Daarby word beraam dat sowat 50% plantprodukte en 70% diereprodukte waarskynlik onder algemene kategoriehoofde ingevoer word.

Daar word byvoorbeeld volgens berigte in die Europese media bereken dat die wettige handel in natuurleweprodukte in die Europese Unie alleen, meer as €100 miljard beloop.

Impak van trofeejag

In ’n navorsingstuk oor die ekonomiese impak van trofeejag in Suid-Afrika wat in 2018 gepubliseer is, skryf Andrea Saayman dat navorsing daarop wys dat die impak van takbokjag op die ekonomie van Mississippi in Amerika van $761 miljoen tot $1,03 miljard beloop en dat dit tussen 26 489 en 37 888 tydelike en voltydse werkgeleenthede skep. Dertien state in die suide van Amerika geniet ook groot voordele uit die jagbedryf.

Adri Kitshoff-Botha, hoof uitvoerende beampte van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA), sê navorsing deur die Noordwes-Universiteit gedurende 2018, beraam die ekonomiese waarde van die Suid-Afrikaanse jagbedryf op R11,6 miljard per jaar. Volgens die jongste syfers van die Departement van Omgewingsake wat in 2018 beskikbaar gemaak is, beloop die bydrae van internasionale jagters vir spesie- en daggeld alleen R2,1 miljard per jaar.

Impak van ander bedrywe

Afgesien van die regstreekse inkomste vir die wildbedryf, is daar talle byvoordele wat afskilfer na ander bedrywe. Andrea skryf dat elke jagter wat Suid-Afrika besoek sowat R500 000 tydens sy besoek in die land bestee.

Daarvan bestee hy 47% aan die wild wat hy jag, 20% aan vervoer na en in Suid-Afrika, 13,2% aan verblyf en spyseniering en 10% aan verskepingskoste van trofeë. Die res gaan vir kos, ammunisie, klere, bykomende toere, ensovoorts.

Impak van onwettige handel

Die verbod op die jag van olifante het hul getalle in
Botswana só laat toeneem, dat hulle die habitat
verwoes en ander spesies se voorbestaan bedreig
het. Selektiewe jag van dié spesie word nou weer toegelaat.

Hierteenoor word die monetêre waarde van die wêreldwye onwettige handel in natuurleweprodukte op tussen $7 miljard en $23 miljard geraam. As dit so moeilik is om werklike syfers van wettige handel te kry, moet mens aanvaar dat dié syfer waarskynlik ook baie hoër kan wees. Dit maak dit die vierde winsgewendste misdaad ter wêreld ná dwelm-, mense- en wapenhandel.

Science Direct, die wêreld se voorste bron van inligting oor wetenskaplike, tegniese en mediese navorsing, sê in ’n dokument dat hoewel sekere handel in natuurleweprodukte wettig is, bly dié handel grootliks onwettig en wetenskaplikes beskryf stroping as een van die grootste bedreigings vir die voortbestaan van bedreigde spesies.

Die omvang van die wildlewespesies wat deur onwettige handel geraak word, is enorm en sluit volgens Science Direct die meeste spesies in waarvoor daar ’n mark bestaan sonder ’n bron wat in die behoefte kan voorsien. Vir baie van dié spesies is en was die sluikhandel katastrofies. Die vraag na tiervelle en -bene het byvoorbeeld daartoe gelei dat 97% van die wêreld se tierbevolking uitgewis is.

Verskeie kenners erken dié handel het ’n komplekse interaksie tussen mense en die omgewing wat dikwels nie verstaan word nie. Vir mense in armer lande is dit dikwels hul hoofbron van oorlewing. Baie van die spesies is egter gevoelig vir onbeplande en onbeheerde oes en die willekeurige benutting daarvan hou ’n groot gevaar vir die bewaring van diversiteit in.

Renosters is deur die model van privaatgrond- en wildeienaarskap van uitwissing gered.

Die mark vir bedreigde spesies

Die internasionale gemeenskap het besluit om bedreigde spesies in drie klasse in te deel en die verhandeling daarvan aan te pas by die mate waarin die groepe se voortbestaan bedreig word. Dit wissel van ’n totale verbod tot streng voorwaardes vir verhandeling. Die Konvensie op Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (CITES) het die reëls neergelê waarvolgens lidlande die regulasies moet nakom en polisieer.

Sir Winston Churchill, eertydse eerste minister van Engeland, het gesê: “Meng met die vryemark in en jy skep ’n swartmark.” Niemand het dit skynbaar verwag nie, maar dit is presies wat gebeur het. Baie natuurleweprodukte wat onwettig verkoop word, is op CITES se lyste van bedreigde spesies.

Dit blyk dat bewaring en die afhanklikheid van mense van natuurleweprodukte die beste gedien kan word deur die volhoubare voorsiening van sulke produkte uit bestaande, opgehoopte voorraad of die volhoubare produksie en benutting daarvan.

Impak op natuurbewaring

Inger Andersen, direkteur-generaal van die Internasionale Unie vir Natuurbewaring, sê die volhoubare, wettige en billike handel in natuurleweprodukte kan ’n kragtige natuurlike oplossing wees vir die dubbele uitdaging om landelike oorlewing te bevorder en die omgewing te bewaar.

Aan die ander kant is sy bekommerd dat die verhandeling van wildleweprodukte ’n ernstige bedreiging vir bewaring kan inhou, want immer stygende pryse vir sulke produkte kan tot die stroping van die natuur lei, wat verdere verarming onder mense en groter druk op die voortbestaan van spesies kan plaas.

Arancha González, uitvoerende direkteur van die Internasionale Handelskommissie, sê die wêreld se ekonomiese bronne is onder druk weens klimaatsverandering, verstedeliking, indringerspesies en die toenemende vraag van die mensdom na kos en vesel.

Biodiversiteit voorsien noodsaaklike goedere en dienste aan die mens en die natuur word selfs beskryf as die ‘bruto binnelandse produk’ van arm mense. Daarom sê sy bestaan daar ’n behoefte dat beleidmakers, projekontwerpers, gemeenskappe en die private sektor die impak van handel op die wêreld se wildlewe en hoe dit moontlik getemper kan word, verstaan.

Bewaring uit private belegging

Adri sê dat die Suid-Afrikaanse model van privaateienaarskap van grond en wild, ’n sprekende voorbeeld is van hoe private belegging lei tot die bewaring van spesies en die vermeerdering van wildgetalle. Daar is verskeie voorbeelde in Suid-Afrika waar wildspesies soos renosters, Kaapse bergkwaggas, bontebokke, swartwildebeeste en meer, van uitwissing gered is deur privaateienaarskap. Sy sê dit is ’n goeie voorbeeld van bewaring in die 21ste eeu.

Ondanks kritici se bewerings dat wildboerdery nie tot bewaring bydra nie, het Suid-Afrikaanse wildboere verskeie spesies waarvan die getalle die afgelope eeu dramaties gedaal en na uitwissingsvlakke geneig het, met nougesette teling weer opgebou tot lewensvatbare wildgetalle. Die meeste van die wild is aangepas om weer in die natuur vrygelaat te word indien dit nodig sou wees.

Internasionale kenners sê dat stropery die grootste bedreiging vir wildspesies inhou en dat wetstoepassers nie daarin kan slaag om dit aan bande te lê nie. Niemand is egter dapper genoeg om by te voeg dat die beperkings op die volhoubare benutting van wild en wildprodukte grootliks verantwoordelik is vir die skep van ’n florerende swartmark nie.

Moontlike oplossings

In ’n werkstuk van Science Direct word voorwaardes genoem waaronder wild-boerdery bedryf en handel gewettig behoort te word om ’n beduidende bydrae tot natuurbewaring te lewer. Dit sluit in dat die wettige produk ’n vervanger van swartmarkprodukte moet wees, daar in ’n beduidende deel van die vraag voorsien moet kan word, die wettige produk meer kostedoeltreffend moet wees om swartmarkpryse te demp, wildboerdery nie moet staatmaak op natuurlike wild om hul getalle aan te vul nie, en dat onwettige produkte nie deur die wettige kanale op markte moet beland nie.

Dit wil voorkom asof Suid-Afrika en Namibië se wildbedrywe grootliks aan dié voorwaardes voldoen en dat hulle ’n beter oplossing vir die volhoubare bewaring van diversiteit bied as voorstaanders van strenger handelsbeperkings.

Vir meer inligting, kontak Wildbedryf Suid-Afrika by 012 335 6994 of epos info@wrsa.co.za. – Andries Gouws, Veeplaas