Die werklikheid van vuurwapenwetgewing in Suid-Afrika

0

In Suid-Afrika word geweldsmisdade grotendeels met messe, skerp voorwerpe en vuurwapens uitgevoer. Wat laasgenoemde betref, hang daar ’n ongemaklike vraagteken oor die werklike doel van vuurwapenwetgewing teen die agtergrond van ’n steeds groeiende misdaadsyfer.

Intussen het die vuurwapenamnestie vir die inhandiging van onwettige wapens, wat eienaars wat versuim het om hul lisensies te hernu insluit, op 31 Januarie vanjaar ten einde geloop. Die vergunningstydperk wat op 1 Augustus verlede jaar afgeskop het, het individue wat ’n wapen onder amnestie inhandig, die geleentheid gegee om dieselfde wapen wettig te besit deur doodgewoon binne die tydsbeperking weer vir ’n lisensie aansoek te doen.

Bekwaamheidsopleiding

Met die inwerkingtreding van die Wet op Beheer van Vuurwapens, 2000 (Wet 60 van 2000), oftewel die Vuurwapenwet, op 1 Julie 2004, het daar ’n hele stel nuwe reëls en voorskrifte bygekom. Byvoorbeeld, voordat ’n persoon ’n vuurwapen mag aanskaf, moet sekere stappe onderhewig aan wetgewing, die Grondwet en hofbeslissings op vuurwapenbesit, eers gevolg word.

Die beslommernis rondom die proses om ’n wapen wettig te besit en te lisensieer, begin met vuurwapenopleiding by ’n instansie wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) geakkrediteer is, om voldoende bewys aan die polisie te lewer dat die persoon ’n vuurwapen veilig kan hanteer.

Charlie Jonker, direkteur by Falcon Firearm Academy, waar opleiding in die hantering van vuurwapens verskaf word, benadruk dit dat ’n persoon doodseker moet maak dat die gekose opleidingsinstansie wel by die SAPD sowel as die Professionele Vuurwapenopleidingsraad van Suid-Afrika (PFTC) geakkrediteer is.

Bekwaamheidsopleiding sluit kennis oor vuurwapenwetgewing sowel as die hantering van ’n handwapen, haelgeweer, slotgeweer en ’n semi-outomatiese geweer in.

Ander voorvereistes

Buiten dié opleiding, moet die aansoeker in besit van ’n permanente Suid-Afrikaanse verblyfpermit wees, 21 jaar of ouer wees en bevoeg verklaar word. “Dit beteken dat die aansoeker oor die nodige kennis en vermoë moet beskik om ’n vuurwapen wettig en veilig te besit en hanteer, in ’n stabiele geestestoestand is en nie ’n kriminele rekord moet hê nie,” sê Jonker.

“Waar iemand jonger as 21 jaar is, kan ’n lisensie in terme van artikel 9(5) van die Vuurwapenwet toegeken word, indien die persoon ’n toegewyde jagter of sportskut is.”

Nadat die bekwaamheidsopleiding suksesvol voltooi is, moet die aansoeker met afskrifte van die nodige dokumente (die aansoeker behou die oorspronklikes) na hul naaste polisiestasie gaan om vir ’n bekwaamheidsertifikaat aansoek te doen.

“Dit kan enigiets tussen drie en ses maande duur voordat die sertifikaat deur die polisie uitgereik word,” sê Jonker. “Hierna kan ’n persoon aansoek doen vir ’n lisensie. Die proses word weereens voorafgegaan deur die invul van ’n aantal dokumente, sowel as ’n motivering oor waarom die betrokke wapen benodig word.”

Vergewis jou van wetgewing

Fred Camphor, hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging, is goed vertroud met wapenwetgewing in Suid-Afrika.

“Eerstens moet die aansoeker hom-/haarself van die Wet op Beheer van Vuurwapens vergewis. Tweedens moet die individu deeglike opleiding kry oor die tipe wapen of wapens waarvoor hul bevoeg verklaar wil word. Dit kan ’n handwapen, haelgeweer, slotgeweer, of karabyn (semi-outomaties) wees, en elke vuurwapen word afsonderlik gelisensieer.”

Hierdie is die mees algemene wapens wat deur die publiek besit sal word, maar daar is ook ander spesiale lisensies en permitte, byvoorbeeld vir versamelaars van wapens, ammunisieversamelaars, handelaars en wapensmede.

Kategorieë van besit

Daar bestaan ook meer as een kategorie vir vuurwapenbesit. Die Vuurwapenwet maak in die algemeen onderskeid tussen drie tipes vuurwapenbesit, naamlik artikel 13-lisensies vir vuurwapens wat vir selfverdediging gebruik word, artikel 15-lisensies wat voorsiening maak vir geleentheidsjag en sportskiet, en artikel 16-lisensies wat vir toegewyde jag en sportskiet toegeken word.

Daar bestaan meer as een kategorie vir vuurwapenbesit. Lisensies word uitgereik vir vuurwapens vir selfverdediging, vir geleentheidsjag en sportskiet, asook vir toegewyde jag en sportskiet.

Met betrekking tot lisensiehernuwing verval die ‘nuwe’ wit lisensiekaart vir selfverdediging na vyf jaar, en beide artikel 15- en 16-wapenlisensies moet elke tien jaar hernu word. Die Vuurwapenwet bepaal dat ’n persoon minstens 90 dae voordat ’n gegewe lisensie verval, aansoek moet doen vir die hernuwing daarvan.

Wanneer die aansoek vir hernuwing ingedien is, bly die ou lisensie geldig totdat die aansoek vir hernuwing afgehandel is – selfs al is dit heelwat later as die datum waarop die ou lisensie normaalweg sou verval.

“Saam met die hernuwing van die lisensie moet die persoon se bevoegdheid ook hernu word,” se Fred. “Die bevoegdheid behoort geldig te bly totdat die laaste lisensie van die tipe wapen verval, maar in praktyk moet lisensies vir selfverdedigingswapens en die bevoegdheid daarvoor, elke vyf jaar hernu word. Lisensies vir jag- en sportskietwapens neem ook ’n persoon se bevoegdheid in ag wanneer dit elke tien jaar hernu word.”

Huur of uitleen van wapens

“Wapens kan nie regtig gehuur word nie. Iemand mag, byvoorbeeld, wel my vuurwapen met my toestemming gebruik, onder my persoonlike toesig. Die vuurwapeneienaar moet dus te alle tye by die persoon wees wanneer hul wapen gebruik word. Dit is ook belangrik dat die wapen slegs gebruik mag word waar dit wettig en veilig is.

“Die enigste geval waar ’n vuurwapen verhuur mag word, is wanneer ’n professionele jagter ’n artikel 16A-lisensie het en die wapen teen vergoeding beskikbaar mag stel aan ’n kliënt, wat die wapen slegs onder sy/haar persoonlike toesig mag gebruik.”

Op die vraag oor hoeveel wapens een persoon mag besit, sê Fred dat ’n individu in beginsel nie meer as vier vuurwapens mag besit nie, en in terme van artikel 13 sluit dit ’n vuurwapen vir selfverdediging in. ’n Persoon wat meer as vier vuurwapens wil besit, moet ingevolge artikel 16 aansoek doen vir die vuurwapenlisensie en ook aan ’n geakkrediteerde vereniging of organisasie behoort.

Die persoon moet dan ook in een van die volgende kategorieë val: Toegewyde jagter en/of toegewyde sportskut, of wapenversamelaar. Versamelaars, toegewyde jagters en sportskuts mag dus meer as vier vuurwapens besit.

Die regte van vuurwapeneienaars

Vuurwapeneienaars het nie eintlik regte nie. Ingevolge ’n beslissing in die Grondwethof wat op ’n aansoek deur SA Jagters gevolg het, het die hof dit uitdruklik gestel dat dit in Suid-Afrika ’n voorreg is om ’n vuurwapen te besit, nie ’n grondwetlike reg nie. Dit is dus ’n vergunning van die staat om ’n individu toe te laat om ’n vuurwapen wettig te besit en slegs indien die persoon aan die nodige vereistes voldoen.

Hierdie beslissing laat vele vrae oor die kwessie van vuurwapeneienaars se regte. Kan iemand byvoorbeeld van hul eiendom vervreem word sonder vergoeding deur die staat indien die persoon vir enige rede as onbevoeg verklaar sou word om ’n wapen te besit?

Daar is ongelukkig ’n hele reeks soortgelyke vrae waarop daar nog nie antwoorde is nie en wat landsburgers met onsekerheid laat. Die individu kan dus slegs aandring op dit wat die Vuurwapenwet toelaat en niks meer nie.

Sekuriteitsmaatskappye

Die Vuurwapenwet bied wel sekere vergunnings, soos dat individue as versamelaars kan registreer en dan verskillende tipes wapens, ook dié wat eintlik verbied word, as versamelaar mag besit. Net so word daar ook voorsiening gemaak dat ’n vuurwapen vir besigheidsdoeleindes besit mag word.

Dit stel sekuriteitsmaatskappye in staat om vuurwapens te lisensieer om hul besighede te bedryf. Daar kan, onder meer, onder spesiale omstandighede ’n tydelike permit uitgereik word om ’n vuurwapen vir ’n beperkte tyd in jou besit te hê, of om ’n vuurwapen wat wettiglik aan ’n ander persoon gelisensieer is, vir ’n tyd veilig te bewaar.

Die Vuurwapenwet maak voorsiening daarvoor dat die individu die reg tot appèl het indien ’n aansoek om ’n lisensie nie toegestaan sou word nie. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Charlie Jonker by 084 560 3387
of charlie@falconacademy.co.za en Fred Camphor by 012 808 9300
of fredc@sahunt.co.za.

rivieroewer