Die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie skop op 1 Januarie 2020 amptelik weer af as die inskrywings vir beide winter- en somergewasse afskop. Die 2020-kompetisie is die sewende van sy soort en is die vlagskip-projek in Plaas Media se stal van mediaplatforms en kompetisies.

Santam Landbou is weer aanboord as die naamborg van die kompetisie en al die 2019-prysborge het ook hul verbintenis tot die kompetisie herbevestig. PANNAR Saad, Nutribase en Strapping & Profile sal almal weer van jaar voorslag-pryse uitdeel by die kuilvoerkonferensie en aanwys van die kategorie- en algehele wenner op 25 September tydens NAMPO ALFA by Bredasdorp, Bothaville.

“Benewens die prysborge wat ons weer ondersteun,” sê Lynette Louw, hoof uitvoerende beampte van Plaas Media, “is ons werklik dankbaar vir Santam Landbou se ondersteuning. Hulle het die kompetisie van dag een af ondersteun en hulle toewyding is ‘n riem onder die hart. Ons hoop dat ons hierdie pad saam met hulle nog lank kan stap.”

2019 se hoogtepunte

Verlede jaar se kompetisie het op ‘n hoogtepunt geëindig toe Westend Landgoed vir die derde jaar agtereenvolgens as die nasionale #Kuilvoerkoning gekroon is. “Daarby het die kompetisie in 2019 weereens ‘n rekord-aantal inskrywings aangeteken. Ons hoop om in 2020 selfs meer inskrywings te ontvang, soos boere toenemend bewus raak van die belangrikheid van goeie kuilvoergehalte en die sentrale rol wat kuilvoer in ‘n voerbank speel.”

Die grootste waarde van die kompetisie lê waarskynlik in die verslae wat na afloop van die kompetisie aan alle deelnemers uitgereik word, is ‘n uiters waardevolle instrument wat deelnemers toelaat om hulself te meet teen die nasionale gemiddelde en om regstellende stappe te neem waar sekere aspekte van hulle kuilvoer verbeter kan word. Prof Robin Meeske van die Outeniqua-navorsingsplaas is die land se voorste kuilvoerkenner en voorsitter van die kompetisie se protokolkomitee. Sy kommentare en aanbevelings word ingesluit in die verslae en is van onskatbare waarde vir die ontvangers daarvan.

Indien jy ‘n insetverskaffer is wat graag jou kliënte wil inskryf vir die kompetisie, of indien jy as individu wil inskryf, kontak gerus vir Deidré Louw by 066 231 2430 of epos deidre@plaasmedia.co.za.

Klik hier vir meer inligting oor die kuilvoerdagboek vir 2020.