Die tweede Nampo Kaap vind van 4 tot 6 September 2019 by Bredasdorp Park in Bredasdorp plaas. Die hekke open daagliks om 08:00 en sluit om 17:00. Die 2019-tema, ‘Winde van vooruitgang’, is uiters gepas vir die mooie Kaap.

Besoekers sal beslis nie teleurgestel wees nie, want daar is iets vir almal om na uit te sien. Daar sal vanjaar 200 buite-uitstallers wees en ongeveer 270 uitstallers in die sale, wat die vee-uitstalling insluit. Besoekers kan ook uitsien na ’n baie groter Nedbank blomme-uitstalling.

Nog ’n eerste by Nampo Kaap is die aanbieding van Landbou Boereplanne. Inskrywingsvorms is op Graan SA se webblad beskikbaar en groot pryse is op die spel. Inskrywings sluit 26 Augustus 2019.

Die Media24-damesprogram beloof om weer ’n treffer te wees. Kevin Leo is die gaskunstenaar en hy sal die dames vermaak met sy sang, asook sy liefde vir kos en kook. Hy word deur AFGRI geborg.

Daaglikse paneelbesprekings

Nasie in Gesprek sal daagliks die gebruiklike aktuele onderwerpe deur middel van paneelbesprekings aanvat. Sake na aan elke landbouer se hart, soos onder andere die landboutoekoms in die Kaap, alternatiewe gewasse vir graanprodusente en die wingerd- en vrugtebedrywe, is op die agenda.

Die Engen 4×4-baan is na die saadplot-area op die terrein verskuif, wat beteken dat die voertuiguitstallers vanjaar demonstrasies kan aanbied. Demonstrasies word daagliks om 10:00 en 14:00 gedoen.

Voorsiening is ook gemaak vir meer parkeerplekke en meer toegangshekke. Dit gee aan besoekers maklike toegang tot die terrein sonder dat hulle ver hoef te loop. Meer kiosks sal ook verseker dat besoekers die hongerpyne kan stil en die dors vinnig kan les.

Die FNB-tent is vanjaar ’n nuutjie by Nampo Kaap. Dié tent huisves daagliks ’n volledige dagprogram met ontbytsessies, lesings, aanbiedings en talle ander aktiwiteite, waarvan verskeie aanbiedinge op nuwe era-produsente gefokus is.

Uitgebreide veeprogram

’n Vol en interessante veeprogram word daagliks in die Voermolsaal aangebied – in die verskeie veeringe sowel as in die hoofarena. Die Agri Expo Jeugskou, ALFA Kleivee- en interrasskou, perde- en ponievertonings en die Overberg Jerseyskou vorm als deel van die program.

Toegangskaartjies is by TicketPro beskikbaar, met ’n R10-besparing op aanlyn-kaartjies. Die toegangsgeld is R60 aanlyn en R70 by die hekke vir volwassenes, en R20 vir skoolgaande kinders.

Vir meer inligting, besoek die webtuiste www.grainsa.co.za, of kontak Toit Wessels by 086 004 7246 of toit@grainsa.co.za.