Landbou en veral skaapboerdery lê baie na aan Stephan van der Westhuizen van OVK en Jan-Paul Kempen, wat op Amerika Landgoed boer, se hart.

Die OVK-groep, met sy hoofkantoor in Ladybrand, is ’n vooruitstrewende landboumaatskappy in Suid-Afrika. Die groep streef deurentyd na die uitbreiding en verbetering van sy dienste aan alle belangstellendes.

Een van OVK se toonaangewende kliënte, Jan-Paul Kempen, boer sedert 2001 saam met sy pa, Marius, op die plaas Amerika Landgoed in die Bredasdorp-distrik in die Wes-Kaap. Hulle het ’n gemengde boerdery wat Dohne Merino’s insluit, asook ’n wisselboustelsel met gewasse soos koring, gars, kanola, hawer en droëland-lusern. Jan-Paul is met Linden getroud en hulle het vier dogters.

“Ek het sowat 15 jaar gelede, ná heelwat navorsing oor die Dohne Merino-ras, besluit om ’n suiwer Dohne Merino-kudde op die been te bring. Dit was ’n goeie besluit wat baie vrugte afgewerp het en vandag strek dit tot groot finansiële voordeel van ons besigheid,” sê Jan-Paul.

OVK se betrokkenheid

“Wat OVK se betrokkenheid by ons boerdery betref, werk ons ten nouste saam met Stephan van der Westhuizen. Hy is ons skaap- en woladviseur en sy uitstekende kennis van skape in Suid-Afrika, asook dié van Australië, is van onskatbare waarde. Dit word tot groot voordeel van ons boerdery op die plaas aangewend. Uit die aard van sy posisie by OVK bemark ons Amerika Landgoed se wol by OVK.”

Jan-Paul is baie ingenome met die verskillende bemarkingsvoordele wat OVK bied. “Een goeie voorbeeld hiervan is OVK se lojaliteitskema, wat tot die finansiële sukses van ons veeboerdery bydra.”

Stephan werk al sedert 1995 by OVK (voorheen CMW) op Bredasdorp. “Ek is ’n stoetvee-adviseur, en my werk behels hoofsaaklik die seleksie en identifisering van aanteelooie en ramme vir die teel van stoetvee en kuddediere vir my kliënte. Verder bied ek voorligting oor veeboerdery en doen ek bemarking vir my kliënte, wat hoogs mededingende boerderye in die Suid-Kaap bedryf,” sê hy.

Produksiegedrewe skaapboerdery

As ’n OVK-werknemer is Stephan al bykans 22 jaar by Amerika Landgoed betrokke, wat al verskeie kere die meeste wol in Suid-Afrika vir OVK gelewer het. Hy verwys na die feit dat hul skaapboerdery produksiegedrewe is en dat geweldig baie klem op die sowat 8 000 ooie se reproduksie, hoë bemarkingspersentasie en goeie gehalte lang, wit wol gelê word.

“Met die aankoop van ramme by die Suidplaas Dohne Merino-stoet word baie klem op BLUP- en reproduksie-eienskappe gelê, asook woleienskappe soos wollengte, mikron en skoonopbrengs.

“Die ooie word elke ses maande geskeer om die kudde se hoë reproduksie voortdurend te verhoog en te handhaaf. Dit vergemaklik die paar- en lamtye, en uitwendige parasiete is ook minder. Die sesmaandelikse skeertye pas maklik by die wisselboustelsel in.”

Drie lamtye per jaar

Jan-Paul het drie lamtye per jaar en die ooilammers word ná speen vir die eerste keer geklas. “Nadat die jong ooitjies gelam het, word die vervangingsooie dan slegs uit die ooie wat lammers gespeen het geselekteer.”

Stephan sê hy het aanvanklik saam met Marius gewerk, totdat Jan-Paul later plaas toe gekom het. “As ek dit kort en bondig kan opsom, is dit ’n absolute plesier om saam met Jan-Paul te werk. Hy is lief vir sy familie, ’n hardwerkende mens met integriteit, lief vir die landbou en lojaal aan OVK.”

Vir meer inligting, kontak Jan-Paul Kempen by 082 827 7773 of amerikaplaas@whalemail.co.za, en Stephan van der Westhuizen by 082 854 8916 of svdwesthuizen@cmw.co.za. – Carin Venter, Veeplaas

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here