Doelgerigte predasiebeheer verg die regte metodes én bestuur

0

Estimated reading time: 6 minutes

Die impak van ’n geïntegreerde bestuursprogram om veeverliese weens predasie te verminder, word duidelik weerspieël in statistiek wat oor ’n tydperk van 13 jaar op monitorplase in ses provinsies van die land ingesamel is. In 2008 was die verlies aan vee 3 320 diere, teenoor 1 133 diere in 2020 – ’n verbetering van 65,5%.

In sy verslag oor die vordering wat op hierdie monitorplase gemaak is, getiteld ‘2008 – 2020: Monitor farms to assess management tools in support of predation management training in South Africa’, kom die bekende predasiespesialis, Niël Viljoen, tot die slotsom dat predasiebestuur nie net oor die uitskakeling van alle roofdiere gaan nie (algemeen bekend as roofdierbeheer), maar eerder oor roofdierbestuur.

Dit behels die gebruik van alle beskikbare bestuursmetodes, dodelik én nie-dodelik, om veeverliese te verminder en speenpersentasies op die plaas te verhoog. Dit impliseer eerstens die bestuur van die vee en, in die tweede plek, die beheer en bestuur van roofdiere. Die oogmerk is om verliese te bekamp, speenpersentasies te verhoog en finansiële stabiliteit op plase te verbeter.

Bevindings van die verslag

Altesaam 27 monitorplase in ses provinsies – die Wes-, Oos- en Noord-Kaap, Vrystaat, KwaZulu-Natal en Mpumalanga – wat altesaam sowat 136 214 hektaar beslaan, is in 2008 deur die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) geïdentifiseer om as navorsingsplatform te dien. Op dié plase word die impak van roofdiere voortdurend in verskillende produksieomgewings gemonitor en gemeet, en nuwe idees kan ontwikkel word om die volhoubaarheid van die veebedryf te bevorder.

Hierdie afname in verliese as gevolg van roofdiere is ’n merkwaardige prestasie, sê Niël in die verslag. Op die 27 monitorplase was die gemiddelde verlies aan vee in 2008 ‘n hele 13,2%. Met goeie bestuur het die verlies tot slegs 2,7% in 2020 verminder.

Die aanpasbaarheid van sommige roofdierspesies, veral die rooijakkals en rooikat, is egter verstommend. Hulle het byvoorbeeld vinnig geleer dat vee wat snags op kraal gehou word, ’n maklike prooi is. Rooijakkalse het ook gou geleer om Anatoliese honde bedags te uitoorlê. (Sien ons artikel in die Wild-afdeling van hierdie uitgawe.)

Wat hulle in die tydperk van die verslag op die monitorplase geleer het, word in Tabel 1 uiteengesit en dien as goeie aanduiding van hoe predasie in die toekoms doeltreffend bestuur kan word.

Tabel 1: ’n Tweevoudige benadering tot predasiebestuur.

Die sukses, lui die verslag, staan op drie pilare, naamlik eksperimentering met verskillende bestuurs- en beheerstrategieë (die sogenaamde gereedskapskis van strategieë), opleiding en navorsing.

Strategieë, opleiding en navorsing

Die voordeel daarvan om ’n verskeidenheid bestuurs- en beheerstrategieë in die gereedskapskis beskikbaar te hê, sê Niël, kan nie oorbeklemtoon word nie. Dit gee die veeboer ’n wye keuse van benaderings waarmee geëksperimenteer kan word of wat gekombineer kan word om die beste praktyk vir ’n spesifieke stel omgewings- en bestuursomstandighede te vind.

Die sukses van enige kombinasie van metodes hang natuurlik van die produsent se bestuursvermoë af. Dit is ewe belangrik om te onthou dat wat vandag suksesvol is, so gou as more ondoeltreffend kan wees. Die vermoë van roofdiere om vinnig te kan aanpas, is hul sleutel tot oorlewing. Daarom moet produsente hul eie benadering nét so vinnig kan aanpas as hulle suksesvol wil bly.

Die antwoord lê in voorkomende bestuur van roofdiere, in kombinasie met die afwisseling van verskillende goed-bestuurde beheermetodes, selfs binne die bestek van een lamseisoen.

In hierdie verband bied die NWKV opleiding aan produsente, plaaswerkers en roofdierbestuurspesialiste in roofdierbeheer. Die belangrikheid van opgeleide, kundige produsente en plaaswerkers om die probleem van predasieverliese hok te slaan, is onmisbaar vir sukses. Dit is egter net so belangrik om die omgewing te beskerm en ’n gesonde biodiversiteit te bewaar.

Die aanpasbaarheid van roofdiere, en rooijakkalse in die besonder, vereis dat produsente deurgaans ingelig moet bly en in staat moet wees om hul strategieë aan te pas. Volgehoue navorsing sal die nodige tegnologie meebring wat veeboere sal help om hul benadering tot predasiebestuur aan te pas en af te wissel, omdat hulle die predasiebestuursprogram verstaan binne die konteks van ’n volhoubare boerdery-onderneming.

Die veeboer se gereedskapskis

Die arsenaal wat op die monitorplase getoets is, bestaan uit nie-dodelike én dodelike maatreëls. Nie-dodelike maatreëls sluit afskrik-halsbande soos klokkies- en bewegingsensitiewe halsbande (sommige met GPS toegerus) in, asook ander afskrikmiddels soos ligte, sirenes en skaapwagters. Beskermende halsbande en beskermingsdiere soos honde, donkies en alpakkas is aangewend en jakkalswerende en elektriese heinings is ook getoets. Skaapwagters pas bedags en/of snags die kuddes op en diere word snags gekraal.

Die dodelike maatreëls behels onder meer blokjag (roep of helikopters), vangysters of vanghokke, jaghonde (georganiseerde jag), gifhalsbande, skiet uit die lug (helikopters) asook roep en jag (snags én bedags).

Niël beklemtoon egter dat suksesvolle roofdierbestuur van die boer se bestuursvermoë afhanklik is, en dat hy sy benadering vinnig en voortdurend moet kan aanpas. Die sleutel tot ’n hoër speenpersentasie is voorkomende roofdierbestuur, gekombineer met die afwisseling van verskillende beheermaatreëls wat deeglik bestuur word.

Verfyn jou strategie en metodes

Prof HO de Waal, geaffilieerde professor aan die Universiteit van die Vrystaat en ’n kenner van groot roofdiere, sê produsente bestee jaarliks miljoene rande om verliese te bekamp, maar verloor steeds diere. Die beskikbare gereedskapkis bevat talle dodelike en nie-dodelike metodes, sê hy, en hoewel elkeen ’n plek het, moet dit steeds korrek gebruik en bestuur word.

“Doeltreffende heinings om roofdiere uit te hou, is die eerste linie van roofdierbestuur en moet gereeld geïnspekteer en herstel word. Veetroppe moet gereeld getel, tekorte opgevolg en die spesifieke oorsaak van tekorte, byvoorbeeld siektes, slangbyte, weerlig, veediefstal of predasie, moet bepaal word.

“ ’n Rooijakkals, rooikat en luiperd, asook rondloperhonde, het kenmerkende maniere om hul prooi te vang en aan karkasse te vreet. Bepaal of ’n dier gevang is en of daar op ’n dooie dier geaas is. Skadebeheer is meer doeltreffend indien roofdiere uitgeken en die regte beheermetode gebruik word.

Dit is ’n rooikat wat só vreet.

“Rooikatte, luiperds en jagluiperds word met vanghokke gevang en rooijakkalse met vangysters. Die korrekte gebruik en plasing van toerusting is dus belangrik. Die oogmerk is nie om roofdiere lukraak uit te roei nie, maar eerder om ’n spesifieke roofdier wat skade aanrig, te teiken.”

Verstaan sosiale gedrag

Prof De Waal voeg by dat dit deurslaggewend kan wees om roofdiere se sosiale gedrag te ken. “Rooikatte kry byvoorbeeld regdeur die jaar kleintjies en mannetjies se loopgebiede oorvleuel met verskeie wyfies. Rooijakkalse, daarteenoor, het een werpsel kleintjies per jaar en familiegroepe se kosbehoefte styg met sogende tewe, met die gevolg dat predasieverliese dan meer word.”

Hy beveel aan dat produsente saam moet staan en predasiebestuur oor aaneenlopende gebiede koördineer, anders bly dit ’n nimmereindigende alleenstryd om predasieverliese te voorkom. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Niël Viljoen by 082 381 8227 of prof HO de Waal by 083 645 8958.

noodhulpkas, Dormers, predasiebeheer