Dit is ’n bekende feit dat winsgrense in die landboubedryf onder druk is, veral as dit kom by rygewasse soos mielies, sonneblom en boongewasse. Ten spyte van die druk is daar tog boere wat van krag tot krag gaan en ekonomies vooruitgaan. Wat doen hulle anders?

En dan is die vraag natuurlik ook of ons by hulle kan leer. Of verkies jy as produsent om eerder jou eie skoolgeld te betaal?

Produsente soek dikwels na eenvoudige antwoorde, maklike wenresepte of programme wat hulle vooruit sal laat gaan. Wanneer ’n mens egter kyk na die lesse wat ons by topprodusente leer, is die bestuur van al die veranderlikes in landbou die hart van sukses. Daar is nie ’n kortpad vir persoonlike betrokkenheid, energie en moeite om goeie bestuursbesluite te neem nie. Kom ons kyk saam na die belangrikste bestuurslesse wat ons by ons topprodusente kan leer, veral wat plaagdoders betref.

Die wins/ha-beginsel

Uitstaande winsgewende produsente neem alle boerderybesluite volgens die beginsel van wins per hektaar. Dit is nie goedkoper insette of maksimum opbrengs alleen wat wins per hektaar lewer nie. Eerstens moet jy dit presies kan meet. Daarom span Laeveld Agrochem saam met topvennote soos Agri Technovation, wat die platform in presisieboerdery ontwikkel het om winsgewendheid per oppervlakte presies te meet.

Totale insette, direk en indirek, moet saam met presiese opbrengs per land per hektaar ingebou word om die som sinvol te kan maak. ’n Mens bluf jouself deur te dink dat jou wins gaan styg as jy net deel is van die beste koopgroep en jou insette so laag as moontlik maak.

Ons sien in meeste gevalle dat die winsgewendste boere meer spandeer, maar op die regte plekke. Winsgewende produsente kies dus vennote asook plaagdoderprodukte wat wins per hektaar gaan verhoog as eerste prioriteit in hul boerdery.

Die regte produk vir die regte doel

’n Tweede les is om plaagdoderprodukte te kies wat geregistreer is vir die probleem wat hanteer moet word. Duisende rande word jaarliks deur produsente verloor weens die ongeregistreerde gebruik van produkte. Daar is niks so duur soos ’n goedkoop produk wat nie werk nie, of die skoolgeld wat ’n produsent betaal oor hy nie die etiket gelees het nie.

Multinasionale maatskappye spandeer etlike miljoene om ’n produk te ontwikkel en die registrasies te doen, met spesifieke dosisse en watervolumes. Tog hanteer ons jaarliks baie hektare se klagtes as gevolg van ondoeltreffendheid weens onderdosering of gewasskade weens oordosering. Dit verlaag winsgewendheid direk en neem kosbare bestuurstyd in beslag wanneer probleme reggestel moet word.

Die regte hoeveelheid op die regte manier

’n Derde les wat ons kan leer, is dat die toediening van plaagdoders net so belangrik is as die keuse van die middel self. Spuittoerusting, die regte druk, spuitnewels (“nozzles”), watervolume, watergehalte en spoed van toediening is van kardinale belang vir doeltreffende beheer.

Ek het onlangs ’n klagte ondersoek van ’n boer wat sukkel om porselein (Portulaca) te beheer. Eerstens was die onkruid veel groter as die registrasie-aanbeveling (onderdosering), en tweedens was die watervolume van 80 liter per hektaar nie genoeg om werklike benatting te veroorsaak onder midsomer-hittetoestande en vir sulke groot hoeveelhede onkruid nie.

Die oomblik toe ons die regte dosis en watervolume gebruik het, was daar beheer. Die koste van oorspuit het egter sy goedkoop aankoop van glifosaat totaal oorskadu. Sy insette was dus baie hoër as wat dit moes wees as gevolg van verkeerde bestuurspraktyke.

Die regte aksie op die regte tyd

’n Vierde les wat winsgewendheid kan verhoog, is die korrekte tydsberekening met die toediening van plaagdoders. Tydsberekening gaan alles oor bestuur. As jy vandag ’n probleem sien, is die skade reeds daar. As jy boonop nog ’n paar dae wag voordat jy spuit, is die verlies aan inkomste soveel meer.

Voorkoming bly maar goedkoper as die reaktiewe behandeling van enige plaag. Winsgewende produsente doen dinge om probleme te voorkom, eerder as om reaktief te wees. Daar is nie ’n plaasvervanger vir die boer en sy agent se voetspore in die lande nie.

Die regte mense met die regte opleiding

’n Vyfde les is dat winsgewende produsente altyd mensepotensiaal optimaal benut om hul winsgewendheid te verhoog. Een fout deur ’n werknemer wat ’n spuit meng en die verkeerde mengvolgorde volg, kan maklik R5 000 aan die verlies van plaagdoder kos. ’n Spuitoperateur wat aanhou spuit in winderige en droë toestande, kan die produsent sy plaagdoder- en spuitkoste laat verloor.

Die opleiding en bestuur van mense gaan dus werklik jou winsgewendheid verhoog, soms baie meer as enige beter-inset-aankope of hoër opbrengs. Topprodusente spandeer tyd aan hulle mense. Bestuur bly die basis van ’n winsgewende boerdery en is die belangrikste boerdery-aspek wat die manne van die muise skei. Moenie bestuursbesluite uit vrees neem nie. Leer uit ander se foute en kies die regte vennote wat jou daarmee kan help. Laeveld Agrochem wil jou vennoot wees, want saam boer ons vooruit. – George Prinsloo, besigheidsbestuurder, Laeveld Agrochem

Vir meer inligting besoek www.laeveld.co.za.