Dok Faffa ontvang toekenning vir lewenslange werk

31

Estimated reading time: 2 minutes

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het op 15 April 2021 oor die bekronings vir 2021 bekend gemaak. Dr Francois Malan, beter bekend as Dok Faffa in die veebedryf en landboukringe, is met die MT Steyn-prys vir natuurwetenskaplike en tegnologiese prestasie vereer.

Dié prys word toegeken aan ’n persoon vir sy/haar skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskap en/of die tegnologie (of vertakkings daarvan) en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband en landsbelang. Die prys word as ’n kroon op ’n lewenstaak gesien en kan daarom net een maal aan ’n persoon toegeken word.

Dr Malan vertolk tans verskeie rolle in die Suid-Afrikaanse dieregesondheidsbedryf, vernaam in die veebedryf, wat tot voedselsekerheid en -veiligheid in die land bydra.

Vyftig jaar se bydrae tot dieregesondheid

Dr Malan se loopbaan strek oor meer as 50 jaar sedert hy sy opleiding as veearts voltooi het. Na ’n loopbaan van agt jaar in ’n privaatpraktyk, was hy in diens van farmaseutiese maatskappye waar hy as navorser, wetenskaplike bestuurder, tegniese bestuurder en uiteindelik as ontwikkelingskoördineerder vir die Suidelike Halfrond aangestel was.

Die mees opvallende komponente van dr Malan se skeppende bydrae tot die natuurwetenskap, lê in die ontwikkeling van die FAMACHA-stelsel om weerstandigheid teen haarwurminfestering by kleinvee te bepaal, die gebruik van media om boerderygemeenskappe te bereik en toe te rus, asook die Nasionale Maandelikse Siekterapporteringstelsel, wat uit inligting verkry van bykans 160 veeartspraktyke en ander instansies, opgebou word. Hierdie siekterapporteringstelsel is ’n belangrike hulpbron vir alle instansies en individue betrokke by dieregesondheid, insluitend die regering en die Fakulteit Veeartsenykunde by die Universiteit van Pretoria.

Op 75-jarige ouderdom is hy nog elke dag besig om ’n bydrae op die gebied van parasietbeheer te lewer, deur die beginsel van Doelgerigte Selektiewe Dosering (DSD), wat wêreldwyd gebruik word, te bevorder.

Sy prys sal tydens ’n virtuele bekroningsplegtigheid later vanjaar oorhandig word. – Persverklaring, Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns