Die opwinding loop hoog na die aanlynveiling van suiwer Drakensberger-speenkalwers wat op Maandag 22 Junie met groot sukses afgehandel is. Die hoogste prys wat vir ’n groep kalwers behaal is, was R32,50/kg. Die verkoper van hierdie lot was Scalla van Schalkwyk.

Burger Marais van Kameeldrift Voerkraal was die grootste koper op die dag. Ander voerkrale wat deelgeneem het sluit Beefcor, EAC, Karan Beef, Morgan Beef, Sparta, Mussel & Dow en Waltkon in.

’n Eerste vir Drakensberger SA

“Dit was vir Drakensberger Suid-Afrika ’n eerste, maar ons is dankbaar vir die uitstekende resultate,” het Willie Landman, president van die Drakensberger Beestelersgenootskap, gesê.

Victor Mattfield van GWK Veewinkel het die volgende bygevoeg: “GWK Veewinkel wil die genootskap bedank dat hulle ons met hul speenkalwerveiling vertrou het asook al die voerkrale wat GWK Veewinkel se aanlynplatform vertrou het. – Persverklaring, Drakensberger Beestelersgenootskap