Renosters soos dié op Piet Warren se plaas naby Gravelotte word deur uitwissing in die gesig gestaar as daar nie ’n nuwe bedeling in die verhandeling van renosterhorings kom nie.

Die Suid-Afrikaanse renosterbedryf in die algemeen en die verhandeling van renosterhorings in die besonder kan drasties verander ná die transaksie waarin die bekender wildboer, Piet Warren, twee plase van 2 700 hektaar met sowat 145 renosters daarop aan ’n Amerikaner verkoop het.

Piet, wat naby Gravelotte boer en veral bekend is vir die uitmuntende swartwitpense wat hy teel, sê die koper is oortuig daarvan dat hy met die lang geskiedenis, noukeurige rekordhouding en DNS-identifisering van dié kudde sal kan bewys dat diere vir twee geslagte en meer opgepas, gevoer, beskerm en geneties verbeter is.

“As dit bewys kan word, val renosters nie meer onder die beheer van die Internasionale Konvensie oor Handel in Bedreigde Spesies (CITES) se verbod op die handel in renosterhorings nie en kan die horings as algemene diereprodukte verhandel word, en nie as produkte van ’n beskermde spesie nie,” meen hy.

Hy glo die Amerikaner, wat in Suid-Afrika woon en die diere self gaan versorg, het die vermoë, kundigheid en dryfkrag om dié ommekeer in die bedryf moontlik te maak. Dit behoort die waarde van renosterhoring, wat nou sowat R40 000 per kilogram is, op te stoot na sowat R300 000 per kilogram.

As dit gebeur, sal die waarde van ’n lewende renosterkoei tot gemiddeld R5 miljoen en meer styg en dié van ’n renosterbul tot sowat R3,5 miljoen. Dit sal meebring dat ’n lewende renoster se waarde tienvoudig kan toeneem en die dier lewend meer werd sal wees as ’n dooie renoster waarvan die horing gestroop is.

“Die stelsel wat nou geld, werk nie en renosterboere kry feitlik geen finansiële voordeel uit dié boerdery nie. Dit is net die misdadigers en die ‘groenes’ wat deur die bestaande wetgewing bevoordeel word.”

Piet sê as hy en ander groot renosterboere as gevolg van finansiële druk al hul renosters moet verkoop en nie kopers vind wat die boerderye volhoubaar wil voortsit nie, sal dit die uitsterwing van die renosterspesie verhaas.

Soos sake nou staan, is renosters dood meer werd as lewend. Stropers maai nie net in wildtuine onder renosters nie, maar renosterboere loop ook deur. Piet het al meer as 20 van dié diere verloor, ondanks die miljoene rande wat hy daaraan bestee het om sy renosters deur wagte en elektriese heinings te beveilig. Jaarliks word meer as duisend renosters in Suid-Afrika gestroop.

Piet sê hy het onlangs op ’n karkas van ’n ou renosterbul afgekom wat aan natuurlike oorsake dood is. Hy sou die bul lewend vir sowat R180 000 kon verkoop, maar hy kan nou R380 000 vir die horing kry. “Dit maak mos geen sin nie, want as die renosters en handel in renosterhorings reg bestuur word, kan die renoster die winsgewendste dier word om mee te boer en kan sy produk geoes word sonder om diere dood te maak.

“Dit is ongelukkig so dat ’n renosterboer se somme nie meer klop as hy die diere moet voer en beskerm en relatief min vir die bemarkbare produk kry nie. Dit kos hom gemiddeld sowat R100 000 per maand per renoster aan voer en ’n verdere R200 000 per maand per renoster om hulle teen stropers te beskerm,” sê hy. – Andries Gouws, Veeplaas