Die boere in die Noord-Kaap wroeg vir die vierde agtereenvolgende jaar met erge droogte. Veral die gebied vanaf Carnarvon en Fraserburg weswaarts tot by die see is erg getref.

Henk van Wyk, president van Agri Noord-Kaap en self ook ’n boer in die Calvinia-omgewing, sê die knellende droogte is besig om al meer boere se kele toe te druk. Volgens hom het die meeste boere in dié geteisterde gebied reeds hul kuddes met 50% en meer verminder, net om te oorleef.

Baie van dié boere het reeds hul ooie en lammers aan voerkrale verkoop. Al meer boere oorweeg dit tans sterk om alles te verkoop en elders ’n nuwe heenkome te gaan soek. Sommige van hulle kyk selfs na moontlike uitkomste in die buiteland.

Agri Noord-Kaap het 3 400 lede en die gebied waar die droogte rampspoedige afmetings aanneem, is die grootste oppervlak van die provinsie. Van Wyk sê hy skat dat 1 500 tot 1 700 boere deur die ramp geraak word.

Hy het bygevoeg dat dit nie net die veeboere is wat gebuk gaan onder hierdie erge droogte nie. In die gebied tussen Clanwilliam en Vredendal mag boere nie enige kontantgewasse aanplant nie aangesien die Clanwilliam-dam ook nie genoeg water het nie.

Die rimpeleffek hiervan is dat verwerkingsaanlegte soos die tamatiepuree-fabriek op Lutzville nie vanjaar in produksie kan gaan nie. Werkers wat hier op ’n inkomste staatgemaak het, se hoop is ook daarmee heen.

Hy het ook genoem dat medeboere in ander dele van die land reeds enorme bydraes gemaak het om die boere te help. Die Departement van Landbou in die Noord-Kaap het ook R1 miljoen beskikbaar gestel vir die vervoer van hierdie bydraes.

Van Wyk bedank almal wat ’n bydrae gelewer het om die boere te help. Hy sê die droogte is nog nie gebreek nie en nog bydraes sal welkom wees, veral kontantbydraes, wat in die Provinsiale Noodfonds inbetaal kan word en van daar na diegene sal gaan wat dit die nodigste het. – Koos du Pisanie, AgriOrbit

Vir meer besonderhede oor die noodfonds, skakel Henk van Wyk by 071 606 4461 of 027 341 2246, en Agri Noord-Kaap se kantoor in Kimberley by 053 832 9595.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here