Die knellende en langdurige droogte tesame met stygende insetkoste, gee al hoe meer relevansie aan die vraag of daar alternatiewe produksiestelsels vir vleisbeesboere is om volhoubaar te kan aanhou boer, al meer relevant. Elke alternatiewe stelsel het sy voordele, maar ook sy unieke uitdagings.

Kenners sê 75 tot 80% van die beesvleis wat in Suid-Afrika verbruik word, kom uit voerkrale en dus vanaf speenkalfprodusente. Dié produksiestelsel hou verskeie voordele in, maar die grootste nadeel is waarskynlik dat die produsent ’n prysnemer bly, wat nie waarde tot sy produk toevoeg nie. Boonop is die stelsel nie baie soepel om droogtes te bestuur en risiko’s te verminder nie.

Voerkrale is die afgelope paar dekades die markplek vir speenkalfprodusente.

Met dié stelsel kan ’n produsent sy kalwers aan voerkrale, voerkraalagente of op veilings verkoop. Die prys wat voerkrale kan betaal, word deur faktore soos voerkoste (die mielieprys), ander bedryfskoste en die verwagte prys wat hulle vir die karkas gaan kry, bepaal.

Voor- en nadele van ’n speenkalfstelsel

Die voordele van ’n speenkalfstelsel is dat die pryse ’n sikliese neiging het, wat soms baie aantreklik is. As ’n produsent sy produksiestelsel kan aanpas om te bemark wanneer speenkalwers skaars is, kry hy baie goeie pryse. Aangesien ’n produsent met ’n speenkalfstelsel die volle weidingskapasiteit van sy plaas met teelkoeie kan benut, kan hy groter seleksiedruk toepas en sy koeikudde geneties vinniger verbeter.

Wanneer droogtes toeslaan, is hy gewoonlik verplig om van sommige van sy koeie ontslae te raak en kan hy ’n baie goeie kernkudde behou. Daarby word al die speenkalwers weggelaai en is daar geen risiko ná speen nie.

Die nadele verbonde aan dié stelsel is dat as die produsent sy kalwers op die normale tyd speen, terwyl al die produsente met dieselfde stelsel dit ook doen, lei dit gewoonlik tot ’n ooraanbod van speenkalwers, met laer pryse.

Seleksie van vervangingsverse

Vervangingsverse moet in hierdie stelsel ook baie jonk geselekteer word, wat dit in die afwesigheid van goeie rekords (teelwaardes en prestasiesyfers) moeiliker maak om die beste verse te hou om in die kudde opgeneem te word.

Wanneer droogtes toeslaan en diere verminder moet word, verklein die teelkudde en moet die produsent normaalweg koeie verkoop, terwyl ander boere in dieselfde bootjie is. Hy moet dan met laer pryse tevrede wees.

Wanneer die droogte verby is, is diere om sy koeikudde weer op te bou skaars en duur. Hy kan ook meer vervangingsverse terughou, wat sy getal bemarkbare diere minder maak en druk op sy kontantvloei kan plaas.

Alternatiewe produksiestelsels

Dit is juis dié faktore, tesame met hoë voerkoste ná die droogte, wat produsente opnuut laat kyk na alternatiewe produksiestelsels wat hulle ’n groter aandeel in die waardeketting kan gee en hul kwesbaarheid deur droogtes kan verminder.

Daar is hoofsaaklik twee ander stelsels wat gebruik kan word, naamlik ’n tolliestelsel, waar die speenkalwers tot op tussen 18 en 20 maande gehou word en dan verkoop word, of ’n osstelsel, waar die diere op die veld markgereed gemaak en laat slag word.

Die uitdagings om van ’n gewone speenkalfstelsel na een van dié stelsels oor te skakel, is normaalweg baie groot. In albei dié stelsels moet die produsent minder teelkoeie aanhou om ruimte te laat vir die tollies en osse, wat langer op die plaas vertoef. Dit hou voor- én nadele in.

Druk op weidings

Droogtes kan beter hanteer word omdat die aanteel, van speenkalwers tot by osse, op enige tydstip bemark kan word om druk op die weiding te verlig. Die koeikudde kan normaalweg onveranderd gelaat word.

Osse wat slaggereed is, produseer gewoonlik net soveel vleis as byvoorbeeld twee speenkalwers. Die vleis het ook ’n hoër waarde, wat die produsent verder by die waardeketting betrokke maak.

Die nadele is dat ’n produsent soms verplig is om sy diere te verkoop wanneer hulle nie markgereed is nie, byvoeding is nodig vir oorwintering, ’n afrondingsrantsoen sal dikwels nodig wees, die diere loop langer op die plaas en kan siek word en/of vrek, en kontantvloeiprobleme kan opduik.

Waardetoevoeging by ZZ2-beesboerdery

Dr Danie Odendaal, bekende veearts wat nou by ZZ2 se beesboerdery by Mooketsi betrokke is, sê hulle het begin om ’n osstelsel te gebruik om meer waarde tot hul produk toe te voeg en bergkampe, wat nie ideaal vir koeie met kalwers is nie, beter te benut. Hulle probeer aansteeklike geslagsiektes beperk in kampe wat aan bure grens, wat nie altyd nougeset teen dié groot probleem waak nie.

“Die welslae van so ’n stelsel sal grootliks bepaal word deur die omgewing waarin ’n mens boer. Suid-Afrika se weidings is hoofsaaklik in twee hoofgroepe verdeel, naamlik suur- en soetveld. Op suurveld bevat die weiding vir vier tot vyf maande tydens die somer genoeg voedingstowwe om diere beduidend te laat groei.

Die afronding van vleisbeeste op natuurlike veld is ’n voordelige manier van waardetoevoeging.

“Deur die wintermaande verloor vee gewoonlik gewig op dié weidings, tensy goeie byvoeding verskaf word. Die koste van die ekstra byvoeding moet verreken word deur die groei wat daarmee bewerkstellig kan word. Op soetveld kan diere egter tot agt maande lank op weidings loop en groei,” sê hy.

Veldafronding in soetveld

Volgens Danie is min navorsing nog oor veldafronding in die soetveldstreke gedoen. In 2004 is die resultate van ’n proefneming deur I du Plessis van die Mara-navorsingstasie in die noorde van Limpopo en LC Hoffman van die Universiteit van Stellenbosch gepubliseer.

Hierin is gesê dat al meer produsente in die droër soetveldgebiede tollies produseer, wat hulle op die ouderdom van twaalf maande bemark, of osse, wat hulle op die veld slaggereed maak en laat slag as hulle 30 tot 36 maande oud is.

Hulle het bevind dat ’n produsent wat tollies of osse van die veld af bemark en die voordele van diere se goeie groei wil benut, die beeste aan die einde van die nat seisoen van die hand moet sit, wanneer hulle 18 of 30 maande oud is. Sulke diere se karkasse het aan die einde van die nat seisoen ’n beter vetbedekking gehad as aan die einde van die droë seisoen. Die vetgradering was die beste vir diere wat 30 maande oud was.

Verskillende beesrasse se prestasie

Danie sê dit is bekend dat alle beesrasse nie ewe goed in voerkrale en op die veld presteer nie. “Die grootraambeesrasse presteer gewoonlik beter in voerkrale. Dié rasse, wat laatryp-tipes is en eers later in die groeitydperk vet begin aansit, kan langer gevoer word. Só kan meer vleis aan die karkas gekry word, sonder dat die gradering deur vetneerlegging benadeel word.

“Inheemse rasse, wat gewoonlik klein tot mediumraambeeste en vroegryp-tipes is, begin vroeër vet aansit. Dit maak hulle minder geskik vir voerkrale en beteken dat hulle dus makliker op die veld afgerond kan word.

Alle beesrasse en -tipes kan nie die ideale karkas van die veld af produseer nie. Ouderdom en vetneerlegging speel ’n groot rol in die gradering van ’n karkas.

“Elke produsent sal self moet besluit of dit vir hom lonend is om ’n ander stelsel te gebruik. Elke stelsel is uniek, het voor- en nadele en hou finansiële implikasies vir die boer in, wat hy noukeurig moet oorweeg,” verduidelik hy. – Andries Gouws, Veeplaas.

Vir meer inligting, skakel dr Danie Odendaal by 082 454 0532 of stuur ’n epos aan vnet@absamail.co.za.