Agri Wes-Kaap het in ’n persverklaring gesê hy het kennis geneem van die R25 miljoen wat die nasionale regering vir droogte-ondersteuning in die Sentraal-Karoo en Tuinroete-distrik bewillig het.

Die Sentraal-Karoo is vanjaar in ‘n sesde jaar van droogte. Agri Wes-Kaap lewer steeds droogtehulp aan veeprodusente in die gebied.

Vrae oor veeprodusente

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê enige bydrae tot droogtehulp word verwelkom. “Agri Wes-Kaap wil weet hoe die bedrag tussen die onderskeie projekte waarvoor die geld geoormerk is, ingedeel gaan word en wat die bedrag is wat na veevoer vir produsente gaan.

“Projekte om die impak van die droogte te versag is eweneens noodsaaklik en Agri Wes-Kaap het waardering vir die provinsiale Departement van Landbou se visie om belangrike intervensie-projekte soos bewaringslandbou en die uitwissing van indringerspesies aan te pak,” sê hy.

Kliprand- en Bitterfontein-omgewing kritiek

Strydom sê die droogtetoestande in die Kliprand- en Bitterfontein-omgewing in die Weskus-distrik is ook geweldig kritiek, met veeprodusente wat ook hier in ‘n sesde jaar van droogte is. “Selfs met goeie reën dié winter, gaan die natuurlike weiveld hier etlike jare neem om te herstel,” sê hy. – Persverklaring, Agri Wes-Kaap