Die knellende droogte in die Wes-Kaap plaas vrugteboere en landelike gemeenskappe onder geweldige finansiële en sosiaal-maatskaplike druk, meen die sagtevrugtebedryf-diensorganisasie, Hortgro. Hortgro is bekommerd oor die ongegronde en onverantwoordelike uitsprake deur politici en oningeligte gebruikers van sosiale media oor watergebruik deur die landboubedryf. Landbou in die algemeen, en die vrugtebedryf in die besonder, het die afgelope jare groot vordering gemaak met die uiters doeltreffende aanwending van water deur die gebruik van nuwe tegnologie.

Read it in English. 

Hortgro se bestuurder vir handel en markte, Jacques du Preez, het in ’n verklaring gesê oesvooruitsigte is nie rooskleurig nie, met afnames in oesvolumes wat uitvoer sowel as die plaaslike mark onder druk plaas.

“Dit is beslis nie ’n maklike seisoen nie en die jongste oesskattings vir mid- tot laat pruime, laat nektariens, appels en pere dui op laer volumes as verlede jaar. Die syfers vertel egter nie die volle verhaal nie. Ons is midde-in ’n droogtesiklus, so wanneer die volle potensiaal van die bedryf in aanmerking geneem word, is oesskattings in sommige gevalle tot 25% minder.”

Grootste uitdaging

Vroeë steenvrugte het wel gebaat by die sporadiese laat reënval in Oktober en November. Gevolglik was heelwat produsente beter daaraan toe as wat aanvanklik verwag is. Hierdie voordeel is egter nou daarmee heen. Die werklike uitdaging wat waterbeskikbaarheid en vruggroei betref, word in die somer en herfs verwag, wanneer die grootste volumes vrugte oesgereedheid bereik.

Du Preez meen die ekonomie en voortbestaan van die meeste landelike dorpe in die Wes-Kaap is afhanklik van die landboubedryf. Die afsny van water aan landbouers kan ’n verwoestende sosiaal-maatskaplike uitwerking op die provinsie hê.

Daar is meer as 308 000 werkers en hul afhanklikes op plase in die vrugtebedryf – sonder inagneming van al die ander werkgeleenthede in die waardeketting. Die grootste impak is op seisoenswerkers met ’n beraamde 22 000 werkgeleenthede wat geraak word. Verskeie boere beoefen gemengde boerderye met ’n permanente vrugtegewas asook eenjarige groentegewasse. Vanweë die beperking in water, het sulke produsente nie hierdie seisoen eenjarige gewasse geplant nie om eerder water vir die permanente gewasse te prioritiseer. Dit het egter weer ’n verdere impak op werkskepping asook op dié produsente se inkomste gehad. Werkloosheid lei tot verstedeliking, wat nog druk op stedelike hulpbronne plaas, meen Du Preez.

Die impak van die droogte verskil dramaties tussen streke en selfs tussen aangrensende plase, wat dit moeilik maak om ’n eenvormige prentjie van die vrugtebedryf te skets. “Produsente wat die infrastruktuur en kapasiteit het, het tot ’n groot mate goeie krisis-strategieë aangewend, maar sommige produsente – veral dié wat van nasionale waterskemas afhanklik is – is onder geweldige druk.”

Volgende seisoene onder druk

Buiten die droogte is daar ook hierdie seisoen weergebeure soos hael, windstorms en erge sonbrand wat die vrugtebedryf verder knel. Onder erge droogtestres is bome se blominisiasie (wat vir die volgende seisoen reeds in die huidige seisoen moet plaasvind) swakker en is die blomme se gehalte swakker met min selle en ʼn kort leeftyd. ʼn Droogte het dus ʼn aansienlike oordrag-effek wat produksie in volgende seisoene ook onder druk kan plaas. Vrugteboorde is ’n hoëkoste-belegging. Dit duur tot vyf jaar vir ’n boord om in produksie te kom. Indien bome ’n droogtesiklus oorleef, duur dit soms jare vir die bome om heeltemal te herstel.

Wes-Kaapse vrugteprodusente is dekades lank reeds bewus van die skaarste van water as ’n hulpbron en wend noukeurige en innoverende produksiestrategieë aan om water so optimaal as moontlik te gebruik. So byvoorbeeld is vrugteboere van die ywerigste gebruikers van die FruitLook-tegnologie wat deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou beskikbaar gestel word. Met dié tegnologie wat satellietdata genereer, kan landbouers presies vasstel waar besproeiing nodig is.

Die impak van die droogte is nie net finansieël nie, maar ook sielkundig. Daarom is ongegronde politiekery onverantwoordelik, sê Du Preez. Wetgewing maak nie daarvoor voorsiening dat vrugteprodusente van die regering droogtehulp kan kry nie. Die Land Bank staan wel lenings toe, maar die administrasie en aansoekproses is kompleks en tydrowend. Daar is wel belanggegroepe wat saamwerk om humanitêre hulp in sekere streke te verleen.

Droogtestrategieë

Droogtestrategieë wat vrugteprodusente aanwend, is:

  • Die uitkap van ouer boorde. Om ʼn appelboord te vervang, kos maklik R250 000 per hektaar en indien nette bygereken word, kan die syfer maklik tot naby R500 000 beloop. Boorde wat uitgehaal word om water te probeer bespaar, het dus ʼn groot impak op boerderyondernemings.
  • Die gebruik van nette. Teen R250 000 per ha, is dit nie ’n opsie wat vinnig oor ’n groot area toegepas kan word nie. Navorsing wys dat waterbesparings van tot 25% egter verkry kan word.
  • Drupbesproeiing wat verdamping verminder, kan water bespaar, maar nie alle gronde is geskik nie en ouer boorde se verspreide wortelstelsels kan aanvanklik moeilik aanpas by die beperkte area van benatting. Dit kan die oes negatief beïnvloed.
  • Vrugte word van die bome verwyder.
  • Vrugteboere hersien weekliks hul watergebruik en pas strategieë dienooreenkomstig aan. Hoë-inkomste-boorde kry meer water as gemiddelde boorde en swakker boorde word uitgehaal. Indien strenger waterbeperkings ingestel word of minder water beskikbaar is, kry van die beter boorde ook minder water.
  • Die gebruik van vogmeters en skedulering van besproeiing op grond van streng riglyne.
  • Die gebruik van FruitLook (http://www.fruitlook.co.za/) om oorbesproeiing te identifiseer.
  • Grawe van profielgate in boorde om worteldiepte te bepaal en dan besproeiing daarvolgens aan te pas.

Hortgro het reeds in Augustus (Wes-Kaap) en September 2017 (Oos-Kaap) droogteseminare aangebied waar moontlikhede om water te bespaar onder produsente se aandag gebring is. Sowat 400 produsente het die seminare bygewoon. – Persverklaring