Die droogte in die Namakwa-distrik van die Noord-Kaap neem kritieke afmetings aan. Boere hier vertel dat hulle in Desember 2012 laas goeie reën ontvang het en dat die landboutoestande haas onuithoudbaar geraak het. Sommige boere in die Williston-distrik wat ses jaar gelede behoorlike reën ontvang het, se veld het so erg verswak, dat baie reën nodig is om dit weer reg te kry.

Die boere het egter op Vrydag, 17 Mei 2019, verligting ontvang toe hulp uit verskeie oorde opgedaag het. Mielies, sojabale, korog, gars en springmielies is aan die boere uitgedeel. Die koöperasie het ook van die skenkings gefinansier.

“Hoewel hierdie hulp nie die droogtesituasie verander nie, bring dit hoop aan boere wie se reserwes nou uitgeput is,” sê Wilhelm Steenkamp, een van die bestuurslede van die Williston Boere-unie.

Die Williston Boere-unie doen baie moeite om voer vir boere in die distrik in die hande te kry. Van links is Dawid Louw, Hennie Theron, Peter Schoeman, Willem Schoeman en Wilhelm Steenkamp, almal bestuurslede van die Williston Boere-Unie.

Die ergste droogte in jare

“Ek boer reeds sedert 1987 in die Williston-distrik, maar hierdie is die ergste droogte wat ek nog beleef het,” sê Ferdinand Jordaan van die plaas Rietpoort. “Sake word verder bemoeilik deur die heersende ekonomiese toestande en die swak vleispryse wat boere kniehalter.”

’n Groot aantal bale voer is op 17 Mei aan Williston-boere geskenk. Die boere het van heinde en verre gekom om voer op te laai.

Die Williston Boerevereniging het hul dank uitgespreek teenoor almal wat ’n bydrae gemaak en hulp verleen het. Dit sluit in OVK vir mielies teen ’n afslagprys, die Van der Walts van Hopetown vir springmielies, Brits Jongboere vir sojabale, Johan Raster van Eendekuil vir korog, Willem Engelbrecht van Groenkol-boerdery by Graafwater vir gars, Williston Vleiskoöperasie en die Williston Boere-unie, asook vervoerhulp vanaf Gift of the Givers, Obaro en Atlanta Graanprodusente.

Om verdere hulp aan die boere te verleen, skakel Brand du Toit, voorsitter van die Williston Boere-unie, by 083 256 8697 en Coetzee Reitz, bestuurder van Williston Vleiskoöperasie, by 082 334 3703. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Een van die boere in die Williston-omgewing wat baie moeite doen om voer vir die boere in die hande te kry, is De Witt Hodgson (heel regs).