Agri Wes-Kaap bedank graag alle skenkers wat dit moontlik gemaak het om in 2020 R4 miljoen se droogtehulp aan produsente in die provinsie te lewer. Danksy bydraes tot die Agri Wes-Kaap Droogtehulpfonds, kon Agri Wes-Kaap voer wat deur middel van die fonds aangekoop én dit wat geskenk is, na produsente in die droogtegebiede versprei.

Read this in English

Ten spyte van welkome reën wat hierdie somer tot dusver plek-plek in die Sentraal-Karoo geval het, gaan droogtehulp aan die streek voort – groot dele het nog krities reën nodig en ervaar nog erge droogtetoestande. Slegs die Gamkadam in Beaufort-Wes het ’n noemenswaardige styging getoon en het op 25 Januarie op 62,6% gestaan, teenoor die 16,8% dieselfde tyd verlede jaar.

Agri Wes-Kaap lewer ook steeds droogtehulp aan produsente in die Kliprand-, Bitterfontein- en Landplaas-gebiede in die Weskus-distrik, asook in die Klein Karoo wat tot dusver vanjaar ook nog geen noemenswaardige reën gehad het nie. Die Stompdrift- en Kammanassie-damme naby Oudtshoorn staan onderskeidelik op 17,9% en 0%, en die Poortjieskloofdam by Montagu is ook dolleeg.

Wye en harde neerslae benodig

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê danksy die Wes-Kaap se goeie 2020-wintergraanoes is baie skenkings van ruvoer ook ontvang. Dit was van groot waarde vir veeboere in die droogtegebiede omdat ruvoer die afgelope vyf jaar baie skaars was, vanweë ondergemiddelde reënval en opbrengste in verskeie van die provinsie se saaigebiede

“Ons voorspel dat droogtehulp aan die Klein- en Sentraal-Karoo nog vir lank gaan voortduur as daar nie binne die oorblywende paar weke van die somerreënseisoen wye en harde neerslae in die streek is nie.

“Die droogte in die Karoo is nie gebreek nie, maar Agri Wes-Kaap is dankbaar vir elke lid van die publiek wat steeds tot die Agri Wes-Kaap Droogtehulpfonds bydra,” sê Strydom. – Persverklaring, Agri Wes-Kaap