Die droogtetoestande in die meeste dele van die land het steeds ’n erge impak op die volhoubaarheid van baie plase. Landbouers in die Noord-, Wes-, Oos-Kaap en Limpopo gaan steeds gebuk onder die voortslepende droogte.

Read it in English.

Agri SA doen opnuut ’n beroep op Suid-Afrikaners om op enige moontlike manier tot Agri SA se droogterampfonds by te dra. Bydraes van voer, diesel, vragmotors en geldelike skenkings bly welkom. Sedert 2015 het duisende landbouers en plaaswerkers uit die fonds voordeel getrek – dié gemeenskappe het al die hulp nodig wat ons kan gee.

Agri SA kon, met die hulp van verskeie skenkings, tot op hede meer as 200 vragte voer in droogtegeteisterde gebiede aflewer. Kospakkies en water is in 2016 aan landbouers, plaaswerkers en landelike gebiede gelewer.

“Agri SA snoer kragte saam met ander nie-regeringsorganisasies en rolspelers, om sodoende nog meer mense te help,” sê Christo van der Rheede, adjunk-uitvoerende direkteur van Agri SA. “Die samewerking is van uiterste belang om te verseker dat droogtehulp so koste-doeltreffend, deursigtig en regverdig as moontlik versprei word.”

Die Agri SA se droogterampfonds verseker dat plase in produksie bly en dat werkgeleenthede en voedelsekerheid beskerm word.

“Kom ons staan ons landbouers en hul werkers by deur hulle in hul tyd van nood te ondersteun.” – Persverklaring