Druiwepulp kan voerkrale ’n ekonomiese hupstoot gee

829
Jong bulle in die voerkraal op die druiwepulpdieet.

Vleisbeesboere kan gerus die ekonomiese voordele daarvan oorweeg om gedroogde druiwe- en sitruspulp as ’n bron van vesel te voer vir diere wat in voerkrale grootgemaak word. Só sê die veekunde-navorser, dr Tawanda Tayengwa, van die Universiteit van Stellenbosch (US).

Deur sy navorsing wou hy vasstel of dit vir veeboere in lae- en middel-inkomste lande van waarde is om uitgedroogde druiwe- en sitruspulp as alternatiewe veselbronne te gebruik, en of dit hul rande kan help rek.

Van sy bevindinge is reeds in internasionale vaktydskrifte gepubliseer, waaronder Meat Science en Sustainability. Dr Tayengwa het die navorsingswerk vir sy PhD in Veekundige Wetenskappe by die US Fakulteit vir AgriWetenskappe onlangs voltooi, onder leiding van dr Cletos Mapiye, ’n senior lektor verbonde aan die US Departement Veekundige Wetenskappe.

’n Plan met vrugte-afval

Sitrusvrugte en druiwe tel onder die vrugte wat die meeste in die wêreld verbou word. Tot 100 miljoen en 80 miljoen ton daarvan word onderskeidelik jaarliks geoes. ’n Derde hiervan word gebruik vir die maak van sap en wyn. In Suid-Afrika word daar jaarliks onderskeidelik 2,9 miljoen en 2 miljoen ton geoes. Na dit verwerk word, is daar sowat 225 000 metrieke ton sitruspulp en 280 000 metrieke ton druiwepulp waarmee ’n plan gemaak moet word.

“Om maniere te vind om hierdie beskikbare vrugte-afval te gebruik maak nie net sin op ekonomiese vlak nie, maar is ook goed vir die omgewing,” sê dr Tayengwa, wat ’n MSc in veekunde in Zimbabwe voltooi het voordat hy in 2017 met sy PhD-navorsing aan die Universiteit van Stellenbosch begin het.

Hy sê dat vleisbeesproduksie op Suid-Afrikaanse weivelde redelik laag is. Daarom word meer as 80% van alle beeste in voerkrale grootgemaak sodat daar in vleisliefhebbers se behoeftes voldoen kan word. Weens watertekorte en beperkte voorraad veevoer, funksioneer die meeste voerkrale egter nie so optimaal soos wat hulle kan nie. Dit beteken dat verbruikers hoë pryse vir beesvleis betaal en produsente se winsmarges knap is.

“Ons moet alternatiewe en onderbenutte voedingsbronne soos vrugte-afval ondersoek om hierdie bedryf meer volhoubaar te maak,” verduidelik dr Tayengwa oor die motivering agter sy studie.

Veselryke opsie

Sitruspulp en druiwedoppe bevat albei baie vesel. Dr Tayengwa het ’n reeks eksperimente uitgevoer om te sien hoe die gebruik daarvan as voerbron vergelyk met die gebruik van koringsemels, wat gewoonlik as veselbron vir voerkraalbeeste gevoer word. Gedroogte afval is gebruik omdat dit andersins te veel water en tanniene bevat.

Dr Tayengwa het voerkraalstudies gedoen op 24 Angusbeeste van sewe maande oud. Die studies is uitgevoer op Mariendahl, een van die Fakulteit AgriWetenskappe se proefplase buite Stellenbosch. Elke bul het 150g gedroogde sitruspulp, droë druiwepulp of koringsemels per kilogram voer ontvang.

Hy het onder meer met verteerbaarheidstoetse en groeiprestasietoetse gemonitor tot watter mate die diere die alternatiewe veselopsies vreet en verteer. Daar is deeglik gelet op die diere se groei, hoeveel gewig die bulle daagliks aangesit het en hoe doeltreffend die voer gebruik is.

Die chemiese en fisiese eienskappe van die vleis is ook ontleed, en die vetsamestelling en rakleeftyd daarvan is onder andere ook vasgestel. Die vleis het ook proetoetse ondergaan.

“Bulle wat gevoer is met ’n dieet wat gedroogde vrugte-afval bevat het, het daagliks meer gewig aangesit en uiteindelik meer geweeg as dié by wie se dieet koringsemels gevoeg is. Hulle het ook hoër karkasgewigte en uitslagpersentasies gehad,” som dr Tayengwa van die belangrikste bevindings op.

“Met betrekking tot produksiekoste het dit meer winsgewend uitgewerk om die  beeste veselryke druiwepulp te voer, gevolg deur sitruspulp en koringsemels.”

Rakleeftyd van vleis

Dr Tayengwa het ook ondersoek of die voer van pulp ’n invloed het op die rakleeftyd van vleis wat in lugdeurlaatbare verpakking verpak word, asook die gehalte van die vleis as dit gaargemaak is.

“Die bevindinge het daarop gedui dat gedroogde druiwepulp moontlik ’n meer doeltreffende natuurlike preserveermiddel kan wees as sitruspulp,” sê hy. “Die vleis van beeste wat druiwepulp gevreet het, het ’n langer raklewe gehad in vergelyking met dié van die diere wat sitruspulp en koringsemels geëet het.”

Hierdie bevinding is van waarde, aangesien talle produsente tans sinteties vervaardigde antioksidante in voer en vleis gebruik om die raklewe daarvan te verleng. Verbruikers maak egter toenemend hul stemme dik hieroor, en benadruk ’n voorkeur vir die gebruik van natuurlike produkte soos antioksidantryke vrugte-afval.

In ’n smaaktoets is gevind dat die vleis van beeste wat sitrus- of druiwepulp gevoer is, sowat 10% taaier was as dié van die bulle op die semeldieet.

Daar is ook bepaal of die aanvulling van vleisbeesdiëte met sitrus- en druiwepulp ’n invloed gehad het op die vetsuur- en aromaprofiel van die vleis. Die vleis van beeste wat die vrugte-afval gevoer is het ’n beter profiel getoon ten opsigte van gesonde vetsure en gewenste geur as dié van beeste wat koringsemels ontvang het.

“In die geheel dui die resultate daarop dat die gebruik van druiwepulp die grootste potensiaal vir vleisbeesboere inhou,” het dr Tayengwa gesê. – Persverklaring, Fakulteit AgriWetenskappe, Universiteit van Stellenbosch