Met droogtes en waterskaarste wat toenemend druk op gewasverbouing plaas, word die wyse waarop water deur besproeiing aan plante toegedien word, baie belangrik. Willem Botha, bemarkingsbestuurder van Netafim, sê dit is die belangrikste aspek waardeur drupbesproeiingstelsels van ander besproeiingstelsels onderskei word.

“Die manier waarop die water toegedien word, is bepalend in hoe die water deur die grond versprei word. Wanneer ’n mens byvoorbeeld ’n drupstelsel met ’n mikrospuitstelsel vergelyk, word water in die geval van drup deur die grond eerder as die besproeiingstelsel versprei, wat baie besparing en ander voordele inhou.”

Willem sê die proses word moontlik gemaak deur adhesie- en kohesiekragte. “ ’n Druppel water val by die uitstraler uit en op die grond. Vandaar word dit deur dié kragte gedryf en beweeg dit deur die grond na waar dit nodig is.

Drup- of mikrospuit?

“In die geval van mikrospuitbesproeiing is daar ’n uitstraler wat die water deur die lug spuit. As ’n mens die twee vergelyk, maak drupbesproeiing ’n klein area en mikrospuitbesproeiing ’n groot area nat, beide met dieselfde doel. Drup is dus meer doeltreffend.”

Hy meen dié groter doeltreffendheid is hoofsaaklik as gevolg van die verdampingskomponent. “Hoe groter die gebied is wat jy benat, hoe groter is die verdampingskomponent. Net so kan die water ook nie deur die wind weggewaai word in die geval van drupbesproeiing nie.”

Hoewel die werklike besparing nie noodwendig vasgestel kan word nie, is die algemene norm dat drupbesproeiing tot ’n waterbesparing van 20 tot 30% lei. “Daar is egter altyd ’n ‘maar’. Onthou, die besparing is afhanklik van goeie beplanning, gepaste installasie, korrekte bestuur, goeie monitering en akkurate skedulering. Jy kan beslis ook met drupbesproeiing water mors as dit nie reg bestuur word nie,” verduidelik hy.

Faktore by beplanning

As dit kom by die beplanning van ’n drupbesproeiingstelsel, is daar ’n paar belangrike faktore waarna gekyk moet word. Willem meen die belangrikste is om by die uiteindelike doelwit te begin. “Word die stelsel geïnstalleer om beter oesgehalte te verseker, om ’n groter oes te kry, of vir groter beheer oor kunsmistoediening en besproeiing?”

Faktore wat verder in ag geneem moet word, is:

  • Grondtipe.
  • Klimaat.
  • Beskikbaarheid van water.
  • Watergehalte.
  • Beskikbaarheid van energie.
  • Kunsmisbehoeftes

“Onthou, dit is beslis nie eenvoudig nie. Elke plaas en situasie is verskillend. Daarom is dit so belangrik om van kundiges gebruik te maak.”

Willem moedig boere aan om slegs gesertifiseerde stelselontwerpers te gebruik en om grondkundiges, voedingkundiges, landboukundiges, gewaskundiges en enige ander relevante kundiges deel van die beplanningsproses te maak. “Die grootste fout wat ’n boer kan maak, is om die beplanning van die besproeiingstelsel slegs saam met die stelselontwerper aan te pak. Dit is ’n geïntegreerde proses en al die partye moet koppe bymekaar sit.”

Grondtipes

Alle tipes grond kan besproei word. Die bepalende faktor is die bestuursinsette en besluite wat nodig is om dit suksesvol doen. “Een van die belangrikste feite om te onthou as jy drupbesproeiing wil verstaan, is dat water verskillend beweeg in verskillende tipes grond,” sê Willem.

Hy sê die tipe grond beïnvloed dus alles – die vloeitempo, spasiëring, besproeiingstye en baie meer. “Kleigrond en sandgrond het byvoorbeeld totaal verskillende besproeiingspatrone. Onder drupbesproeiing neem water die vorm van ’n ui aan, met ’n bol en verskillende lae. In sandgrond kry jy ’n dieper maar nouer verspreiding, terwyl jy in kleigrond ’n baie wyer maar vlakker verspreiding van water kry.”

Soos reeds genoem, lê die grootste voordeel van drupbesproeiing in die waterbesparing wat meegebring word deurdat ’n kleiner oppervlakte benat word. Verdere voordele sluit in ’n energiebesparing te danke aan laer vloei en waterdruk. Daar is ook ’n arbeidsbesparing as gevolg van laer onderhoudsbehoeftes.

Daar is egter ook slaggate. Die grootste risiko by drupbesproeiing is ’n verstoppingsgevaar. Alle besluite moet dus geneem word met die gedagte om die verstoppingsrisiko so laag as moontlik te hou.

Monitor teen stres

Hoewel drupbesproeiing talle voordele inhou, is dit, soos enige ander stelsel, nie onfeilbaar nie. “Oor- en onderbesproeiing is beslis moontlik en beide lei tot stres in die plant, hoofsaaklik as gevolg van sekere fisiologiese prosesse wat onder druk geplaas word. Dit lei natuurlik tot produksieverliese,” verduidelik Willem.

Om dit te voorkom, is goeie monitering belangrik. Monitering kan gedoen word deur visuele waarnemings, waarnemings met elektroniese toerusting of om gewoonweg ’n graaf nader te trek, ’n gat te grawe en te kyk wat aangaan. “Met elektroniese waarneming kan ons kyk na staminkrimping of -uiteensetting, kapasiteitsmeting en vogmeting.

“Die slotsom is eenvoudig, maar belangrik: Beplan deeglik, benut al die kundigheid tot jou beskikking en monitor voortdurend. Dan hou drupbesproeiing wonderlike resultate in,” sê Willem. – Marike Brits, AgriOrbit

Vir meer inligting oor Netafim Suid-Afrika se produkte en dienste kontak 021 987 0477 of besoek www.netafim.co.za.  

Netafim

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here