Ede Holsteins maak geskiedenis met aanlyn-boeredag

947
‘n Genoomgetoetsde bul, Ede Supersaver, het die hoogste prys op die veiling behaal. Hy is ‘n Supersire-seun uit ‘n Super-dogter. Hy spog met ‘n syfer van 130 vir kuddeleeftyd en ‘n positiewe melksyfer van 1075kg.

Op 9 Junie 2020 het Ede Holsteins geskiedenis gemaak deur die eerste virtuele suiweldag aan te bied en ook die eerste suiwelveiling per WhatsApp. Dié veranderinge is genoodsaak deur die grendelstaat waarin die land tans verkeer.

Die tema vir die suiweldag was ‘Kuddegesondheid en biosekuriteit – ‘n mite of ‘n moet’. Die sprekers wat deel was van dié virtuele boerdag, was dr Pieter Vervoort, dr Danie Nolte en Willie Fraser.

Plaas Media  het die opname en verspreiding deur Plaas TV se kanaal op YouTube moontlik gemaak. Die video het 240 kykers op 9 Junie gehad, terwyl 2019 se suiweldag deur 100 mense bygewoon was.

Biosekuriteit-onderwerpe

Dr Vervoort was baie betrokke gewees by die bekamping van die uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo oor die laaste twee jaar. Hy het ook ‘n rol gespeel in die inwerkingstelling van ‘n naspeurbaarheidstelsel wat die Suid-Afrikaanse veebedryf se integriteit op ‘n internasionale vlak sal plaas.

Dr Vervoort het die belangrikheid beklemtoon van die opstel van ‘n plan om jou kudde te beskerm teen siektes wat deur biosekuriteit bekamp kan word. Hy het dit ook benadruk dat siektes verskillende benaderings verg om bekamp te word en gesê dat indien diere ingekoop word, die gesondheidsintegriteit van die kudde waaruit daar gekoop word, ongeskonde moet wees.

Indien diere in die kudde inkom, moet hulle in kwarantyn geplaas en getoets word vir die siektes waarvan jou kudde vry is of vry wil wees. Hy het ook die moontlike bronne van besmetting bespreek soos vuil toerusting, vuil vragmotors en diere van aangrensende plase. In alle gevalle moet daar protokolle in plek wees om besmetting te voorkom.

Dr Danie Nolte het hierby aangesluit en die belangrikheid van ‘n inentingsprogram beklemtoon. Hy sê die goedkoopste en doeltreffendste inenting vir ‘n kalf is om kolostrum binne die eerste vier ure na geboorte in te neem. Die belangrikheid van ‘n werkbare plan met goeie rekordhouding is van kardinale belang. Hy het prof Jan Bonsma aangehaal wat gesê het dat ‘n kort potloodjie baie beter werk as ‘n lang geheue.

Willie Fraser, personeelbestuurder van Ede Farming, het die stappe bespreek wat hulle in plek gesit het om aan die reëls en regulasies rakende die bekamping en voorkoming van COVID-19 te voldoen. Hy het die tienpuntplan bespreek wat hulle in plek gestel het asook die belangrikheid van sosiale distansiëring en persoonlike higiëne beklemtoon.

Ede Holsteins se Fivestar 18117 het die hoogste prys vir ‘n vroulike dier behaal. Sy ‘n Fivestar-dogter uit ‘n Colby-dogter. Sy spog met ‘n kuddeleeftydsyfer van 124 en het positiewe afwykings vir persentasie bottervet en proteïen.

Virtuele Holsteins-produksieveiling

Die 2de Ede Holsteins-produksieveiling is op 9 Junie vanjaar per WhatsApp aangebied. Alle voornemende kopers is op die produksieveiling se WhatsApp-groep geregistreer en persone wat belang gestel het om te bie kon ‘n bod op ‘n spesifieke lot plaas deur die lotnommer, bedrag en kopersnaam op die groep te plaas. Daar het 15 voornemende kopers geregistreer en al 24 diere is verkoop. Die gemiddelde prys van die twee bulle was R46 000 terwyl die 22 vroulike diere verkoop is vir gemiddeld R18 182.

Die hoogste prys op die veiling is betaal vir die genoomgetoetsde bul, Ede Supersaver. Hy is ‘n Supersire-seun uit ‘n Super-dogter. Hy spog met ‘n syfer van 130 vir kuddeleeftyd en ‘n positiewe melksyfer van 1075kg. Sy halfsuster is die nommer een vroulike dier in die Ede-kudde. Hy is verkoop vir R47 000 aan Johan Langenhoven van Delmas.

Die hoogste prys vir ‘n vroulike dier was R26 000. Sy is Ede Fivestar 18117 en is aan dieselfde koper verkoop. Sy is ‘n Fivestar-dogter uit ‘n Colby-dogter. Sy spog met ‘n syfer vir kuddeleeftyd van 124 en het positiewe afwykings vir persentasie bottervet en proteïen.

Die veiling is aangebied deur Gert Coetzee van Net Auctions. – Persverklaring, Ede Farming