Eenheid in georganiseerde landbou by derde Oos-Kaapse NWKV/RPO-kongres

800
Die derde Oos-Kaapse NWKV/RPO kongres het vanjaar by ’n nat Aloe Grove Farm plaasgevind. Voor staan Dave Osborne van Number Two Piggeries. Agter van links is Aubrey Fincham, ’n produsent van Queenstown, Willie Clack, nasionale ondervoorsitter van die RPO, Grant Fletcher van Tylden Landbouvereniging en Willem Goosen, produksie-adviseur by die NWKV.

Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het hul derde gekombineerde Oos-Kaapse kongres op 12 Maart vanjaar by Aloe Grove Farm naby Queenstown gehou.

Daar was ’n goeie opkoms vanuit verskeie oorde, met onder andere Agri Oos-Kaap se president, Dougie Stern, die nasionale voorsitter van die NWKV, Guillau du Toit, en Willie Clack, nasionale ondervoorsitter van die RPO, wat die geleentheid bygewoon het. Die borge was BKB, OVK, Vleissentraal, Voermol en Zoetis.

Keith Lockwood, ’n ekonomiese en besigheidskonsultant van Johannesburg, is as gasspreker van die dag verwelkom. Alhoewel Suid-Afrika se ekonomiese prentjie tans nie rooskleurig lyk nie, is hy van mening dat daar nog hoop is indien sekere sektore in die land hul kaarte reg speel.

Rolf Pretorius, voorsitter van die RPO Oos-Kaap (links) en Keith Lockwood, wat die gasspreker was.

Wol bied ’n ligpunt

Voorsitter van die NWKV in die Oos-Kaap, HB van der Walt, het opgemerk dat boerderyomstandighede in die provinsie oor die algemeen bevredigend is, behalwe vir die droër westelike dele wat nog swaar trek.

HB van der Walt, voorsitter van die NWKV Oos-Kaap, glo dat dit ’n makliker jaar vir produsente sal wees ná welkome reën in die Oos-Kaap geval het.

In sy verslag het hy na die aanvraag na hoë-gehalte wol met ’n goeie lengte verwys. “Hoewel die wolmark aan die begin van die seisoen heelwat laer oopgemaak het as gevolg van die bek-en-klouseerverbod op veilings, het sake intussen heelwat verbeter,” het hy gesê. Ten tyde van die kongres het die markprys vir wol op R187/kg gestaan, wat volgens HB nie te versmaai was nie.

Hy het ook gesê dat dit blyk dat kommunale produsente al hoe meer op wolskape eerder as vleisskape begin fokus. Een van die redes wat hy hiervoor aangevoer het, was dat produsente wat slegs met vleisskape boer, se inkomste erg bedreig word deur roofdiere en die wisselende vleispryse.

HB het ’n beroep op produsente gedoen om te sorg dat hul inentingsprogramme op datum is en baie streng toegepas word. “Ons almal weet hoe groot die impak van bek-en-klouseer op die bedryf was en siektes soos bloutong en Slenkdalkoors kan nou baie maklik na die reën kop uitsteek. Daarom moet veeprodusente die regte prosedures streng volg om biosekuriteit te verseker.”

Wenners te midde van uitdagings

Guillau het daarna verwys dat finansies in die bedryf tot op die been gesny word sodat besighede kan aanhou funksioneer. “Die wolmark is stadig maar seker besig om weer sy kop op te tel, hoewel die koronavirus ’n bekommernis is. As ons gehalte wol verantwoordelik en met integriteit produseer, sal ons wenners wees.”

In sy verslag het Lawrence Maduna gesê dat hoewel kommunale produsente ’n moeilike jaar agter die rug het, daar steeds met die hoop op beter toestande aangehou produseer word. Hy het ook oor die oprigting van nuwe skeerhuise in kommunale gebiede gepraat en na verskeie trop- en skeerkompetisies verwys.

Saamspan maak sin

Rolf Pretorius, voorsitter van die RPO in die Oos-Kaap, glo dat die gekombineerde kongres sin maak, omdat 90% van die lede van die RPO ook wolprodusente is en almal deur sake soos droogte en bek-en-klouseer geraak word.

“Ek vra dikwels waar die wolbedryf sou gewees het sonder die insette van die NWKV, die rooivleisprodusente sonder die RPO, en die landbou sonder Agri Oos-Kaap en Agri SA. Die organisasies doen baie van die werk wat ons as produsente nie self kan doen nie.”

Hy het verder gesê dat die RPO die afgelope jaar op verskeie terreine bedrywig was en dat die Veediefstalvoorkomingsforum operasioneel bly ten spyte van min ondersteuning. “Dit is ’n riem onder die hart dat daar tog verskeie veediefstaleenhede is wat ongelooflik toegewyd is en met wie produsente ’n goeie verhouding moet bou,” het hy bygevoeg.

Sy boodskap aan die jonger generasie produsente was dat hulle betrokke moet raak by georganiseerde landbou. “Die maklikste manier is om by jou naaste landbouvereniging aan te sluit. So kom jy by die geleenthede uit waar jy vrae kan vra en van sake soos risikobeperking en wat op die markte aangaan, leer.”

Bestuursake

Die bestuur van die RPO en NWKV in die Oos-Kaap bly onveranderd, met onderskeidelik Rolf Pretorius en HB van der Walt as voorsitters, Charles van der Spuy en Niel du Preez as ondervoorsitters en Lawrence Maduna as kommunale ondervoorsitter van beide organisasies.

Vir meer inligting oor die RPO of NWKV in die Oos-Kaap, kontak Lynette van der Walt by 049 802 6734 of stuur ’n epos na ecredmeatpro@gmail.com of lynettevdw@nwga.co.za. – Carin Venter, Plaas Media