Eerste vroue skaapboerdery-boeredag gehou

0

OVK het, nadat vroue boerekliënte ’n versoek gerig het, besluit om hul eerste Vroue Boeredag te hou. Bykans 60 vroue het dié eerste vroue skaapboerdery-boeredag bygewoon, en die funksie is by die Pepper Tree Venue in Bloemfontein gehou.

Dit is ’n unieke geleentheid wat nog nie van te vore in die Vrystaat of ander streke gehou is nie. Vroue van sover as Bergville, Reitz, Sannieshof, Dewetsdorp, Dealesville, Bultfontein, Brandfort en nog ander dorpe het die dag meegemaak.

Bedryfskennis aan ’n leergierige gehoor

Jo-Anne Bester, streeksbestuurder vir vesel by OVK in die Richmond-distrik, was eerste aan die woord en het oor vesel en veselhantering gesels. Die tweede spreker was veearts dr Chantelle Erwee van Zoetis. Sy het ’n aanbieding oor dragtigheid en die bestuur van dragtige skape gedoen. Dr Francois van der Vyver van Voermol het oor skaapvoeding gesels. ’n Aktiewe vraag- en antwoordsessie het op die aanbiedings gevolg.

Die volgende vroueboeredag is reeds onder bespreking, aangesien daar ’n beduidende aanvraag hiervoor is. Uit die terugvoer van die vroue was dat hulle dit geniet het om saam met vroue uit verskillende streke om ’n tafel te sit en te hoor wat almal te sê het. Dié geleentheid het dit moontlik gemaak om skouers te skuur met ander vroue wat dieselfde uitdagings, ervaring en behoefte aan kennis het. – Persverklaring, OVK