Met die 2018-weergawe van die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie wat by ALFA 2018 afgehandel is, is dit nou tyd vir finaliste om vir die 2019-kompetisie te kwalifiseer. Klik hier om meer oor die 2018-weergawe te lees. 

Die kompetisie sal in 2019 vir die sesde keer in samewerking met die veetydskrifte, Veeplaas en Stockfarm, aangebied word. Die eerste streekrondte vir die 2019-weergawe van die kompetisie is pas by Agri-Expo Livestock 2018 afgehandel.

Die drie deelnemers in die jong-kategorie (19 tot 30 jaar) is deur ’n ervare afslaer, Len Bornman, beoordeel vir hulle vertoning op die rostrum, veekennis en bedryfskennis. Die deelnemers was JP Marais, Dieter Schutte en Neil Jordaan. JP Marais het as streekwenner uit die stryd getree en Dieter Schutte het die tweede plek behaal. Hulle het albei deurgedring na die nasionale rondte, wat in September aanstaande jaar by ALFA 2019 aangebied sal word.

Volgens Len is al drie deelnemers uiters talentvol en was daar slegs ’n verskil van vier punte tussen die wenner en die derde plek. “Al drie manne het ’n blink loopbaan wat vir hulle voorlê in die afslaersbedryf, mits hulle hard werk. Hulle het ritme, spoed en die regte afslaershouding.” – Marike Brits, Veeplaas

Sien die drie deelnemers in aksie: