Estimated reading time: 2 minutes

’n Kleiner volume van 7 665 wolbale is aangebied nadat 712 bale voor die veiling onttrek is. Die algehele verkoopspersentasie het 92,69% beloop.

Read it in English

Die wolmark het met 0,9% verbeter en teen R156,96/kg gesluit, nieteenstaande die rand wat met 1,6% teenoor die Amerikaanse dollar versterk het nie. Die mark het met 2,4% in Amerikaanse dollarterme toegeneem.

Altesaam 70% van die aanbod het uit 20 mikron- en fyner wol bestaan, met soortgelyke volumes vir lang en medium wol wat aangebied is.

Die fyner mikronwol het beter as die markgemiddeld presteer, terwyl die sterker mikrons swakker vertoon het en die mark afwaarts gedwing is.

Die Australiese mark het Dinsdag goed presteer en Woensdag ’n geringe afname getoon om 1,63% bo verlede week se veiling op Donderdag 15 April, te sluit.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron styg met 2,7% en sluit teen R209,44/kg.
  • 18,5 mikron neem met 1,4% toe en sluit teen R197,68/kg.
  • 19 mikron verhoog met 1,3% en sluit teen R186,65/kg.
  • 19,5 mikron versterk met 0,5% en sluit teen R170,93/kg.
  • 20 mikron is met 0,7% op en sluit teen R153,16/kg.
  • 20,5 mikron is 1,5% sterker en sluit teen R147,99/kg.
  • 21 mikron styg met 0,4% en sluit teen R145,36/kg.
  • 21,5 mikron het met 2,8% afgeneem en sluit teen R137,61/kg.
  • 22 mikron daal met 2,1% en sluit teen R135,20/kg.
  • 22,5 mikron is 1,4% swakker en sluit teen R129,55/kg.

Die volgende veiling is vir 28 April 2021 geskeduleer, waar sowat 9 224 bale aangebied sal word. – Persverklaring, Cape Wools SA