Die Slenkdalkoors-geval in Jacobsdal is op die stadium ‘n geïsoleerde geval en die risiko vir verspreiding is laag. Dit is volgens Nelius Ferreira van die Vrystaat Dieregesondheidsforum. Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het die afgelope week die voorkoms van voorkoms van Slenkdalkoors op ’n plaas in die Jacobsdal-omgewing in die Vrystaat te bevestig. Volgens die Departement se verklaring is dit die enigste plaas waar die siekte aangemeld is en word verdere ondersoeke nou deur plaaslike veeartsenykundige dienste uitgevoer.

Die uitbreking kan toegeskryf word aan verhoogde reënval, wat ’n toename in muskiete veroorsaak het. Ferreira sê dat die feit dat die uitbreking aan die begin van winter gebeur het, beteken dat daar ‘n baie goeie kans is dat dit ‘n geïsoleerde geval sal bly. “Winter is reeds hier en hopelik gaan ons binnekort nog genoeg ryp kan kry om alle muskiete en muggies wat die siekte versprei, dood te maak.”

Hy herinner egter aan 2010, toe ‘n groot uitbreking in die somerseisoen gevolg het op ‘n geïsoleerde geval in die winter. “Om dit te voorkom, moet daar in die komende wintermaande teen Slenkdalkoors ge-ent word.” Inenting teen die siekte bly die beste verweer en jaarlikse enting moet ‘n normale praktyk in die boerdery wees. Net so belangrik is die rapportering van moontlike gevalle. “Rapporteer skielike vrektes en aborsies aan jou plaaslike veearts en staatveearts,” maan hy.

Fereira stel ook die verbruiker gerus. “Volgens die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) is dit ‘n soönotiese siekte wat na die mens kan versprei slegs deur muskietbyte of as jy in aanraking kom met liggaamsvloeistof of weefsel van Slenkdalkoors-besmette dooie diere of fetusse of deur ongepasteuriseerde (rou) melk en rou vleis van besmette diere in te neem.” Hy beklemtoon dus dat rooivleis wat op winkelrakke beskikbaar is, steeds baie veilig is om te verbruik en dat ‘n Slenkdalkoors-besmette karkas nie vleisinspeksies sal slaag nie. “Solank jy vleis by ‘n betroubare slaghuis of kleinhandelwinkel koop, is dit veilig om te eet.”

“Daar is dus geen rede vir kommer by die produsent of verbruiker nie. Produsente moet kalm bly en sorgvuldige beheer neem oor dit wat hy kan beheer. Dit beteken om getrou jaarliks alle diere teen die siekte in te ent.” – Marike Brits, AgriOrbit

Klik hier om meer te lees oor die uitbreking.