Dis uiters belangrik dat veeboere hulle vee teen Slenkdalkoors inent vóór die eerste reën kom, waarsku dr Ariena Shepherd, ’n veearts op Bergville in KwaZulu-Natal. Beide ’n geïnaktiveerde en ’n lewende entstof is by Onderstepoort Biologiese Produkte beskikbaar.

Die voordeel van die geïnaktiveerde entstof is dat beide dragtige en nie-dragtige diere daarmee geënt kan word. ’n Skraagdosis moet egter drie weke later toegedien word, wat die proses duurder maak en ook langer tyd vereis voordat die dier genoegsame beskerming geniet. Hoewel die lewende entstof vinniger beskerming bied, kan dit nie op dragtige diere gebruik word nie.

Boere moet dus goed beplan en die twee entstowwe in kombinasie gebruik sodat al hulle diere betyds beskerming geniet. Dr Shepherd beklemtoon dat die Slenkdalkoors-uitbreking van vroeër vanjaar nie geïgnoreer moet word nie.

Die waarskuwingstekens is daar dat nuwe uitbrekings moontlik in die somer kan voorkom, wat die veebedryf uiters kwesbaar sal maak as genoegsame beskerming nie deur middel van inentings verkry word nie. – Izak Hofmeyr, Veeplaas