In een van die ergste brande nóg die seisoen en die afgelope paar jaar, is sowat 100 000ha in die Boshof/Dealesville/Hertzogville-omgewing verwoes. Honderde stuks vee, wild en selfs huise is in die brande verwoes.

Volgens dr Jack Armour, bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou (VL), is van die brande deur betogers gestig wat glo oor swak dienslewering betoog het. Die erge hitte en sterk wind wat die naweek in die Vrystaat geheers het, het die situasie vererger.

“Beeste het in sommige gevalle sewe plase ver gehardloop om van die vuur te ontsnap,” sê Armour. “Alhoewel daar geen lewensverlies was nie, is ons bewus van produsente wat ernstige brandwonde opgedoen het en ons wens hulle ’n vinnige herstel toe.”

Kontak my as jy ons boere kan help, met voer of weiding asseblief.0839912149 Video-Brandspuitbende.

Posted by Martin Nel on Saturday, 17 October 2020

Bestekopname van skade en ondersoek na brandstigting

Met behulp van hul grondvlakstrukture is VL reeds besig om ’n opname te maak van die skade, maar op hierdie stadium blyk dit dat veral voerskenkings ’n ernstige behoefte is. Armour bevestig dat alhoewel die brande tans onder beheer is, die Wes-Vrystaat steeds ’n risiko bly weens die hittegolf wat heers.

“Vrystaat Landbou verwelkom die nuus dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) reeds ’n saak van brandstigting ondersoek en beskuldigdes reeds gearresteer is. Ons kan nie toelaat dat produsente en plaaswerkers se lewens verder bedreig word as gevolg van kriminele aktiwiteite soos brandstigting nie,” sê Armour.

VL gaan R100 000 uit hul rampfonds beskikbaar stel vir brandstof vir vervoerskenkings. Dit sal deur die VL-kantoor geadministreer word en die toekenning van skenkings aan geaffekteerde produsente sal deur die plaaslike landbouverenigings gekoördineer word.

VL doen ’n beroep op enige instansie of individu wat betrokke wil raak, om Elize Spence by die VL-kantoor te kontak op 051 444 4609 of ’n epos te stuur na elize@vslandbou.co.za. Finansiële bydraes kan aan VL se rampfonds gemaak word. – Persverklaring, Vrystaat Landbou