Die Europese Unie (EU) het onlangs bekendgemaak dat hy die invoer van alle wildsvleis vanuit Suid-Afrika opskort as gevolg van residue wat nie op standaard getoets word nie. Ten spyte van pogings deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) om die situasie te beredder, duur die verbod steeds voort. Die nuwe verbod sluit krokodil-, volstruis- en wildsvleis in. Piet Neethling van Game SA het onlangs op Grootplaas hieroor gesels.

Wild met gesplete hoewe se vleis kan al vir die afgelope agt jaar nie meer na die EU uitgevoer word nie as gevolg van bek- en-klouseer uitbrekings in Suid-Afrika. Net sebravleis kon dus vir dié tydperk uitgevoer word.

Volgens Neethling gaan die verbod nie soseer oor die siekte nie, maar eerder oor die swak bestuur daarvan. Hy meen die wildbedryf in Suid-Afrika sal bestuursprogramme vir bek-en-klouseer in plek moet kry. Dit behels dat die grense van die land beheer moet word sodat diere van elders nie die land binnekom nie. Bewegingsbeheer en die identifikasie van diere sal ook aansienlik verbeter moet word om hierdie probleem te probeer oplos.

Die finansiële impak van die verbod was ongeveer 700 direkte werksgeleenthede en R700 miljoen tot R800 miljoen aan buitelandse valuta in die afgelope agt jaar.

Wat die onlangse strenger verbod betref, meen kenners Suid-Afrika se nasionale plan vir die beheer van chemiese residue is weens ernstige tekortkominge deur die laaste oudit van die EU afgekeur.

Is daar ander markte?

Volgens Neethling is die Verre Ooste en Midde-Ooste, wat dikwels na aanloklike markte lyk, moeilik om te nader weens onder andere geloofsuitdagings en die feit dat die Ooste nie vertroud is met Suid-Afrikaanse wildsvleis nie.

Die binnelandse mark is ongeveer 40 tot 50% minder betalend as die uitvoermark, maar die bedryf hoop dat Suid-Afrikaanse boere plaaslik beter pryse vir hul vleis sal kry. Hiervoor sal heelwat regulasies egter in plek moet wees.

Neethling meen die bedryf sukkel al vir dekades om regulasies vir Suid-Afrikaanse wildsvleis by DAFF te kry vir die plaaslike mark. Slegs hierdeur kan produkte van ’n hoë gehalte bevorder word. – Elmarie Helberg, AgriOrbit

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here