Feedtek Choc Grain 69 is ’n melassepoeier-gebaseerde proteïen-, mineraal-, spoormineraal- en vitamienkonsentraat met verskeie unieke eienskappe en gepaardgaande voordele.

Die volgende eienskappe is veral voordelig:
  • Dit bevat byna geen vog of draers nie, en dit minimaliseer die vervoerkoste per eenheid voedingstof.
  • Melassepoeier is nie net ’n uitstekende kleefmiddel nie, maar vorm ook ’n lagie bo-op los lekke om dit teen wind- en reënverliese te beskerm.
  • Dit bevat gebluste kalk, wat ’n uitstekende kleefmiddel en ’n baie goeie buffer is.
  • Dit bevat twee medikamente, wat verteringsteurnisse voorkom en voeromset verbeter.
  • Dit bevat twee ammoniumsoute, wat die vorming van blaasstene by kleinvee op hoë-kragvoer rantsoene verhoed.
  • Word in 20kg-sakke verpak vir maklike hantering en die vermenging van kleiner hoeveelhede voer sonder om sakke uit te weeg.

Die ideale balanseerder

Choc Grain 69 is vanweë sy unieke samestelling en eienskappe die ideale produk om heelgrane se voedingstofsamestelling te balanseer. Dit skakel heelgraan om in ’n uitstekende, maar ekonomiese kragvoer. Hierdie kragvoer kan as gebalanseerde aanvullings vir weidende diere, asook as prikkelvoeding voor en tydens die dekseisoen, aangewend word. Dit word ook vir die uitgroei en afronding van diere op veldweiding of oesreste, sowel as in die voerkraal, gebruik.

Heelgrane kan op ’n harde vloer, in voermengers en in mengkarre met Choc Grain 69 gemeng word. Die grane word aangeklam met water, waarna die Choc Grain 69 bygevoeg en goed deurgemeng word sodat elke graanpit volledig met Choc Grain 69 bedek is. Hierna word die behandelde graan vanuit die menger verwyder en gelaat om droog te word voordat dit in sakke geplaas word. Dit is belangrik om mengers waarin grane met Choc Grain 69 behandel is, dadelik met water uit te was om te verhoed dat dit aanpak.

Vervlugtiging van stikstof

Wanneer die nie-proteïen stikstof in Choc Grain 69 in aanraking kom met gebluste kalk in die teenwoordigheid van vog, vervlugtig ’n klein fraksie van die stikstof. Dit lei tot ’n ammoniakreuk. Aangesien ammoniak nie ’n aangename reuk het nie, is dit altyd raadsaam om heelgrane in goed geventileerde areas met Choc Grain 69 te behandel.

Dit is belangrik om te noem dat ammoniak selfs teen geweldige lae vlakke ’n skerp reuk het. Dus is die verlies aan stikstof weglaatbaar klein en het dit geen nadelige invloed op die heelgraankragvoer se finale proteïeninhoud nie.

Voordele van heelgraankragvoere

Die voer van heelgraankragvoere hou talle voordele vir die boer in, waaronder:
  • Geen hamermeul word benodig nie en geen maalverliese vind dus plaas nie.
  • Heelgrane is goedkoper as gemaalde grane omrede daar energie- (brandstof/elektrisiteit) en arbeidskoste aan die maalproses verbonde is.
  • Geen lekbakke word in weikampe benodig nie, want verrykte heelgraan word op harde oppervlaktes in stroke gestrooi.
  • Daar is geen verliese weens wind en reën nie, want elke pit word deur die diere opgetel.
  • Daar is geen lekbakspasiebeperking nie. Alle diere kan terselfdertyd hulle daaglikse voorsiening inneem, mits genoeg vreetspasie beskikbaar is.
  • Die risiko vir suurpens is kleiner by afronding. Heelgrane verteer stadiger in die dier se grootpens as gemaalde grane. Heelgrane word ook doeltreffend herkou en meng dus met speeksel, wat as ’n ekstra buffer dien.
  • Verrykte heelgrane kan vir maande lank in ’n koel, droë plek gestoor word sonder dat die gehalte daarvan afneem. – Ewie Coetze (Pr.Sci.Nat.), Feedtek

Vir meer inligting oor mengaanbevelings en voerinstruksies, kontak u naaste Feedtek-verteenwoordiger. Skakel Feedtek alternatiewelik by 086 111 5362, stuur ’n epos aan info@feedtek.co.za of besoek die webtuiste www.feedtek.co.za. Registrasienommer (Wet 36/1947): V16147.