’n Onlangse nuusbrief van Nemlab rapporteer dat hulle die afgelope paar weke verskeie wingerdmonsters (wortelmateriaal) ontvang het wat met filloksera besmet is. Filloksera is ’n wingerdsiekte wat deur die druifluis (Daktulosphaira vitifoliae) veroorsaak word. Dié luis beskadig die wingerdwortels deur met sy naaldagtige monddele aan die plant te suig, wat veroorsaak dat die wortels vervorm en die wingerd mettertyd verswak en selfs sterf.

Die fillokseraluis het ’n baie komplekse lewensiklus wat uit vier verskillende vorme bestaan. Die wortelvorm (radicicolae) van die luis kom baie prominent in Suid-Afrika voor en partonogeniese reproduksie, waar slegs vroulike luise geproduseer word, neem die voortou. Die voorkoms van die blaarvorm (gallicolae) hang af van die wingerdspesie, kultivar en omgewing. Die regte kombinasie hiervoor word selde in Suid-Afrika aangetref.

In Suid-Afrika vorm wingerdstok-filloksera meestal op wortelstokvariasies. Dit kan baie gevaarlik wees vir wingerde. Sedert Suid-Afrika wingerde met filloksera-bestande stamme begin inent het, het wingerdstok-filloksera nog geen groot ekonomiese impak gehad nie. Die luis is egter baie aanpasbaar en filloksera-biotipes hou ’n groot risiko in.

Inspeksie van wingerde

Aangesien geen doeltreffende bestrydingsmiddel nog gevind is nie, behalwe inenting met filloksera-bestande stamme, is dit belangrik dat wingerde gemonitor moet word. Wingerde wat nie gesond groei nie en onproduktief produseer, moet geïnspekteer word vir swelling en die teenwoordigheid van papies en volwasse filloksera. In gebiede wat vatbaar is vir filloksera, moet grond- en wortelmonsters tussen Desember en Februarie geneem word om vas te stel of daar wel filloksera-besmetting is.

Op hierdie stadium is die beste voorkoming die plant van filloksera-bestande wingerde. Wingerde moet in gesonde, ligte en sanderige grond geplant word om stres te voorkom. Dit is baie belangrik, aangesien filloksera in stresvolle toestande floreer. Masjinerie moet ook gesteriliseer word om te verhoed dat filloksera van plek na plek oorgedra word.

Diegene wat vermoed dat filloksera op hul plase teenwoordig is, kan ’n monster van wingerdwortels aan Nemlab stuur. – Michelle Verster, AgriOrbit

Om meer te lees oor filloksera, klik hier.