Eben Rautenbach

Is jy gelukkig oor die besluite wat jy in 2017 geneem het? Dit is maklik om jouself oor jou vorige besluite te kasty, aangesien die uitkoms van dié besluite nou bekend is. Ander emosies en redenasies was egter betrokke toe daardie besluite geneem is, en die uitkoms van jou besluite en die gepaardgaande risiko’s en belonings, was nog nie bekend nie.

Die begin van 2018 bied ons ’n gulde geleentheid om op die suksesse van die vorige jaar voort te bou of om nuwe uitdagings te identifiseer. ’n Doelwit vir 2018 behoort te wees om ’n behoorlike finansiële plan in plek te kry, en om met dié stap lang-termyn welvaart en gemoedsrus te skep.

Kry professionele raad

Die beginpunt van die reis na lang-termyn welvaart is om professionele advies oor jou plan te kry, veral as beleggings en belasting nie jou velde van kundigheid is nie. Maak ’n afspraak met ’n onafhanklike adviseur en kry ’n omvattende finansiële plan in plek.

’n Goeie onafhanklike adviseur kan jou help om op koers te bly en om belangrike besluite te neem. Dié adviseur kan jou help om jou verwagtinge te bestuur, om jou finansiële posisie in oënskou te neem, en om enige ongemak of spyt te bestuur wat jy moontlik kan ervaar.

Maak seker jou adviseur is van ’n betroubare maatskappy, het al die nodige kwalifikasies, is geregistreer as ’n gesertifiseerde finansiële beplanner (CFP®) en is by die Finansiële Beplanningsinstituut (FPI) geregistreer.

Verhoog jou spaarbydraes

Een van die maklikste maniere om oor die lang termyn ’n voorsprong te kry, is om jou bydrae tot jou uittree-annuïteit te verhoog. Jy sal nie net ’n groter belegging ná aftrede hê nie, maar jy sal ook ’n belastingaftrekking kry.

Beleggingsgroei is belastingvry, jou bydraes is belastingaftrekbaar tot by ’n spesifieke limiet en ’n gedeelte van jou beleggingsopbrengs sal met aftrede belastingvry wees. ’n Klein bedrag ekstra elke maand kan ’n aansienlike verskil in jou reis na ’n meer gemaklike aftrede maak.

Wanneer ’n mens na die verkryging van lang-termyn voordele kyk, kan ’n belastingvrye beleggingsproduk ’n wonderlike voertuig wees om jou aftreegeld mee aan te vul. Hoewel die bydraes per individu beperk is, word geen belasting op enige rente, dividende of gerealiseerde kapitaalwins met ’n belastingvrye beleggingsproduk betaal nie. Die lang-termyn belastingvoordeel sal reusagtig wees.

Die belasting-jaareinde

Met die belastingjaar wat op 28 Februarie 2018 eindig, het ’n mens nog ’n geleentheid om jou belastingbesparings te maksimeer. Deur die maksimum moontlike bedrag tot belastingaftrekbare spaarprodukte by te dra (bv. ’n ekstra bydrae tot jou uittree-annuïteit), sal jy in staat wees om jou belastingrekening te verminder.

Die spertye om hierdie bydraes te belê is egter streng, so maak seker dat jy bewus is van die datums waarop jou papierwerk afgehandel moet wees. Bestuur is die hart van die plan wat dit vorentoe kan dryf. Moenie dat spertye die ondergang van jou reis beteken nie.

Kom ons begin met die reis. Gaan sit en dink waar jy teen die einde van hierdie jaar wil wees en onthou dat dit sal afhang van die besluite wat jy vandag neem. Om met ’n behoorlike begroting te begin, is die beste metode om die groter prentjie raak te sien. Dit mag dalk nie altyd maklik wees om by jou begroting te hou nie, maar ’n begroting sal jou in ’n beter posisie plaas om jou doelwitte te bereik.

Beplan holisties

Kyk na aftreebeplanning om ’n gemaklike aftrede te verseker. Wanneer ’n mens behoorlike beleggingstrategieë het, sal dit verseker dat jy jou beleggingsdoelwitte bereik en in staat is om vir onverwagse uitgawes te betaal. Beleggings speel ’n groot rol in die skep van lang-termyn welvaart en het daarom behoorlike beleggingsadvies nodig.

Rampe kan ’n mens enige tyd tref en dan kan versekering en mediese hulp groot verligting bring. Elke onderneming soek gelukkige kliënte en werknemers. Jou werknemers speel ’n groot rol in jou sukses – maak dus seker dat goed na hulle omgesien word.

Opvolgbeplanning is baie belangrik as ’n mens jou eie onderneming bedryf. Beplanning vir die oordrag van die onderneming in tye van dood, siekte en aftrede verseker kontinuïteit in die besigheid. Is jou testament op datum en wanneer laas het jy na jou trustakte gekyk?

Slotgedagte

Moenie net oë toeknyp en vir die beste hoop nie – ons het tyd en toewyding nodig om ’n blink finansiële toekoms te verseker.  Alles sal dalk nie tegelykertyd in plek val nie, maar onthou dit is ’n reis en die beste ding om nou te doen, is om te begin. – Eben Rautenbach, PSG Wealth-adviseur

Vir meer inligting, kontak Eben Rautenbach van PSG Wealth by eben.rautenbach@psg.co.za of 072 958 5228.

 

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here