snotsiekte
Alle wildebeeste dra die virus wat snotsiekte veroorsaak. Kalwers wat aankom, word normaalweg binne ses maande met die virus besmet. Wildebeeste toets net ‘skoon’ van die siekte as die virusdrempel laag is.

’n Entstof teen snotsiekte sal waarskynlik nie voor 2020 beskikbaar wees nie. Intussen het dié ekonomies belangrike en dodelike siekte ook begin versprei na van die seldsame wildspesies waarmee geboer word. Tans is die enigste oplossing om die siekte te bekamp om wildebeeste, wat die siekte dra, af te sonder van vatbare spesies.

Terselfdertyd is daar makliker maniere om geskille oor snotsiekte op te los as om hof toe te hardloop en uiters duur regsgedinge aan die gang te sit. Onderhandeling en goeie buurmanskap kan nie net die vrede in gemeenskappe bewaar nie, maar die betrokke partye ook derduisende rande se regskoste spaar.

’n Belangrike siekte wat aandag eis

Prof Moritz van Vuuren verduidelik tydens ’n boeredag
op Roedtan, wat die gevare van snotsiekte is
en dat boere geskille eerder buite die hof moet skik
om geld te spaar en vriendskappe te bewaar.

Die groot kommer wat oor die voorkoms van snotsiekte heers, is weerspieël deur die groot getal boere teenwoordig by ’n vergadering wat deur die Roedtan-suid Boerevereniging oor die siekte gereël is. Prof Moritz van Vuuren (emeritus) wat sowat 30 jaar lank as mikrobioloog aan die Universiteit van Pretoria onder meer ook oor snotsiekte navorsing gedoen het, sê daar is mense wat snotsiekte wil afmaak as onbelangrik. Dit is egter beslis nie onbelangrik nie.

Wanneer uitbrekings sporadies voorkom, is dit feitlik honderd persent dodelik en as daar diere oorleef, is hulle gewoonlik blind en het soveel letsels van die siekte dat hulle onbruikbaar in ʼn kudde is. Dit raak ook nie meer net beesboere nie. Al meer gevalle kom voor waar skaars inheemse wild waarmee geboer word, soos buffels, ook die siekte opdoen en vrek.

Wat is snotsiekte?

Dit is ’n algemeen sistemiese virussiekte wat gekenmerk word deur abnormale selgroei in die limfstelsel en inflammatoriese letsels in die bloedvat- en spysverteringsstelsel. Die siekte kom wêreldwyd voor waar daar draers voorkom (wildebeeste, mak skape en bokke), maar loop dood by die vatbare spesie. Beeste wat snotsiekte kry, kan dit dus nie verder versprei nie en dit kan ook nie mense besmet nie.

In Afrika is die siekte in Suid-Afrika van die grootste ekonomiese belang. Sekere tye van die jaar kom dit in tot ses van die nege provinsies van die land voor en sorg dit vir waarskynlik die grootste konflik tussen bees- en wildboere. ’n Reeks verwante spesies van die virusse wat snotsiekte veroorsaak, kom by verskeie wildsoorte in Afrika voor, maar sover bekend het nog nie een daarvan siektes veroorsaak nie. Net so is snotsiekte ook nog nie van wildebeeste, skape of bokke na ander wildspesies oorgedra wat vryelik saam rondbeweeg nie. Diere in aanhouding (dieretuine) en semi-aanhouding (wildplase) het al die siekte opgedoen en dit kom in die laaste tyd meer algemeen voor.

Die sondebokke

Daar is twee virusse wat snotsiekte by beeste veroorsaak, naamlik dié wat deur wildebeeste en dié wat deur skape en bokke gedra word. Die virus wat deur mak skape en bokke gedra word, kon nog nooit in die laboratorium geïsoleer word nie en kan net met DNS-ontledings uitgeken word. In die afgelope sowat 60 jaar waartydens navorsing oor snotsiekte gedoen word, kon nog geen bewys gevind word dat die virus wat skape dra, vrylopende wild besmet het nie. Dit het weliswaar verskeie wildsoorte in aanhouding aangetas en in Amerika is die skaap-geassosieerde snotsiekte die grootste oorsaak van vrektes in bison-voerkrale.

Die skaapverwante virus het sover bekend nog nie
vrylopende wild met snotsiekte besmet nie.

Prof Van Vuuren sê sowat 95% van die uitbrekings van snotsiekte onder beeste word veroorsaak deur die virus wat wildebeeste oordra en dat alle wildebeeste (swart-, blou- en goue wildebeeste) die virus dra. Buite die draer se liggaam is dit maar ’n tingerige virus wat normaalweg nie langer as 24 uur in die buitelug kan oorleef nie.

Presies hoe die siekte oorgedra word, is nie bekend nie, maar dit vind waarskynlik plaas deur die slymsproei wat vrygestel word wanneer die wildebeeste hoes, nies of proes. Daarby is die oordrag van die siekte baie onvoorspelbaar en lyk dit asof dit gebeur as verskeie toestande presies reg is en die wildebeeste onder spanning verkeer.

In Suid-Afrika is daar twee piektydperke van oordrag wat die rol van spanning beklemtoon, naamlik tydens kalf- en jagtyd. Navorsing is nog nie gedoen oor die invloed wat spanning in wildboerderytoestande op die verspreiding van die siekte kan hê nie. Elke wildebeeskalf wat aankom, word besmet en daar is geen ‘skoon’ wildebeeste nie. As die diere ‘skoon’ toets met die normale toetsing, is die virus-drempel waarskynlik net laag.

Siektetekens en vrektes

Die inkubasietydperk van die siekte in beeste is normaalweg van drie tot sewe weke, maar daar is aangetekende gevalle waar beeste tot so lank as ses maande nadat hulle in aanraking met wildebeeste was, eers siek geword het. Feitlik al die beeste wat siek word, vrek. Daar is gevalle waar ’n dragtige koei die siekte opdoen en terwyl sy siek is ’n oënskynlik gesonde kalf het, maar sulke kalwers vrek almal binne sowat drie weke.

Prof Van Vuuren sê die kliniese tekens van snotsiekte by beeste is dat hulle baie slym en speeksel afskei. Binne ’n  paar dae is van die diere se neuse so verstop, dat hulle met oop bekke asem haal. Die dier se oë begin van die boonste rand van die kornea af grys verkleur en dit versprei mettertyd oor die hele oogbal en die dier word blind. Bloederige letsels verskyn in die dier se bek, tandvleis en lippe en die limfkliere raak so geswel, dat dit op die liggaam van die dier sigbaar raak. Die letsels in die neus en bek versprei deur die dier se hele dermkanaal waar wonde, erosies en ulserasies vorm.

Minstens twaalf gevalle waar buffels snotsiekte gekry het,
is bekend. Dit kom veral voor waar diere in aanhouding is,
soos in dieretuine, maar daar was nou ook gevalle op
wildsplase waar buffels aan snotsiekte gevrek het.

Snotsiekte het nou ook na buffels begin versprei en tot nou toe is minstens twaalf gevalle bekend. Die eerste paar gevalle het in die Pretoriase Dieretuin voorgekom waar mak bokke in ’n kampie langs die buffelkamp aangehou is. Die siekte het nou ook sy verskyning op wildsplase gemaak waar met buffels in semi-aanhouding geboer word. Die buffels het dieselfde kliniese tekens as beeste getoon, al die klassieke letsels het voorgekom en die diere was binne sowat sewe dae nadat hulle siek geword het, vrek.

Planne vir ‘n entstof

ʼn Entstof is in Skotland deur die Moredun-instituut ontwikkel uit ’n virus wat oorspronklik uit Oos-Afrika kom. Die virus se DNS kom so nou ooreen met die virus in Suid-Afrika, dat die entstof hier ook gebruik kan word. Voordat die entstof kommersieel beskikbaar gestel kan word, moet dit eers in Suid-Afrika getoets en geregistreer word.

Daarvoor is ’n groot getal dosisse van die entstof nodig en die navorsingseenheid in Skotland het nie die vermoë om dit te produseer nie. ’n Vervaardigingsaanleg word nou in Suid-Afrika ingerig en dit sal waarskynlik twee jaar duur voordat die entstof geregistreer kan word. Die verwagte tydsduur van die beskerming wat die entstof sal bied, is ses maande.

Intussen is die enigste werkbare maatreël teen die siekte om beeste en wildebeeste weg van mekaar af te hou. Die afstand wat aanbeveel word, is ideaal gesproke 1 000m. Die risiko dat snotsiekte na beeste oorgedra kan word, neem eksponensieel af namate die afstand tussen die diere vergroot. As die diere saam loop, is die kans op besmetting 100%. As hulle egter 200m uit mekaar loop, verminder die kans van besmetting na 50%, op 400m is dit 80% en op 500m is die risiko van siekte-oordrag baie laag.

Prof Van Vuuren sê wanneer snotsiekte van ’n wildplaas na ’n beesplaas versprei, is die beste oplossing dat die boere die probleem self probeer oplos. Om hof toe te gaan, is ’n baie duur proses en lewer nie altyd die gewenste uitkoms nie, veral in ’n tyd wat die boeregemeenskap eerder moet saamstaan as verdeeld raak. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting kontak Prof Moritz van Vuuren by 072 444 1182 of Moritz@icon.co.za

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here