Geenbewerking: ’n Vars benadering tot konvensionele praktyke

491
Rolspelers tydens die boeredag. Van links is Manuel Ferrari, Hendrik Odendaal junior, Hendrik Odendaal senior, Javier Esteban Figueroa, Argentynse ambassadeur in Suid-Afrika, Hendrik Jordaan van Laurik International, wat die dag gereël het, en Carlos Galarza.

Dit is ongelooflik watter verreikende uitwerking nuwe tegnologie of ’n nuwe benadering tot ’n gevestigde bedryf kan hê, op die tegnieke en implemente wat oor die jare vir dié bedryf ontwikkel is. Dit is weer onlangs bevestig tydens ’n bewaringslandbou-boeredag op Hendrik Odendaal se plaas, Klippoort, op die banke van die Vaalrivier tussen Standerton en Villiers.

Die Odendaals het die boeredag in vennootskap met die Argentynse landbounavorsingsinstansie, INTA, aangebied. Verskeie bemarkers van Argentynse implemente en tegnologie het tydens die geleentheid hulle ware uitgestal en gedemonstreer.

Filosofie van geenbewerking

Die Argentyne is al vir dekades met geenbewerking besig. Hulle is waarskynlik die voorlopers in die wêreld in terme van hulle begrip van dié filosofie en tegnieke, asook die implemente wat hulle ontwikkel het om by die nuwe benadering aan te pas.

Dit begin by planters wat aangepas word om deur die deklaag te sny en die saad deeglik in die grond te plaas. Dan volg aanpassings om nouer rywydtes te akkommodeer, en stropers wat dié nouer rywydtes moet kan hanteer. Dit word gevolg deur kultivarontwikkeling van geskikte dekgewasse.

Die mikpunt is dat daar elke dag van die jaar ’n lewende wortel in die grond moet wees, en daarmee saam groen lower bo-op die grond. Hierby ingesluit is spesifieke plantspesies met wortelstelsels wat enige verdigtingslaag in die grond kan deurboor sodat ’n tandimplement nie meer nodig is nie. Laastens volg elektriese omheinings om hoëdigtheidsbeweiding van vee op hierdie dekgewasse te vergemaklik.

Nuwe tegnologie onder die soeklig

Een tipe tegnologie wat prominent op die boeredag was, is DeltaForce. Hiervolgens word elke planteenheid, of plantkarretjie soos dit algemeen genoem word, individueel deur middel van hidrolika en skokbrekers beheer.

Dit bring mee dat die druk op die grond volgens die grondhardheid aangepas word. Die mikpunt is dat die saad oor die hele land konstant teen dieselfde diepte neergelê word, sodat dit binne 24 uur van mekaar sal ontkiem en sodoende die opbrengs op die land verhoog.

Verskeie sprekers wat aan INTA verbonde is, het gedemonstreer hoe belangrik diepgaande kennis van die grond en dekgewasplante is. Dit help om optimale voordele uit geenbewerking te kry sodat die praktyk tot bewaringslandbou lei.

Die uitwerking van die nuutste inokuleringstegnologie op die Rhizobium-nodes van peulplantwortels is gedemonstreer.

Die rol van wortelstelsels

Carlos Galarza, ’n opgeleide landbou-ingenieur, het ’n profielgat gebruik om die uitwerking van wortelwerking in die grond op die grondstruktuur te illustreer.

Manuel Ferrari het gewys hoe verskillende plantspesies se wortelstelsels gesamentlik kan help om:
• Die grondstruktuur te bevorder.
• Verdigtingslae mettertyd teen te werk.
• Voedingstowwe in die grond te hersirkuleer.
• Grondvrugbaarheid op te bou.
• Organiese materiaal in die grond te verhoog.
• Die koolstofinhoud van die grond uiteindelik te verhoog.

Die uitstallers by die boeredag het bekende handelsname soos Apache, Pierobon, Ombu, Mainero, Abelardo, Cuffia, Rizobacter, Don Mario, Southern Hemisphere Seeds, Peon en Aurovant ingesluit.

Inokulasie van gewasse

Tegnologie wat ook nie in die konteks van geenbewerking uit die oog verloor moet word nie, is vordering op die gebied van inokuleringstegnologie. Stikstofbinding deur peulgewasse vorm ’n belangrike deel van bewaringslandbou. Hiervoor is dit nodig om peulgewasse met die beste moontlike tegnologie rondom Rhizobium-bakterieë te ent.

Twee geenbewerkingsplanters se voordele is gedemonstreer deur mieliepitte op verskillende plekke, meters uitmekaar, in die grond te plaas. Dit is op ’n land met ’n wisselende laag organiese materiaal en groot verskille in gronddigtheid gedoen.

’n Proefsimulasie is gedoen om te demonstreer wat op kaal, pas bewerkte grond gebeur as ’n harde bui reën daarop val. Dit is vergelyk met dieselfde hoeveelheid water, teen dieselfde intensiteit, as die grond met ’n digte deklaag bedek is. Die verskil behoort enige saaiboer te oortuig dat ’n nuwe benadering tot konvensionele akkerboupraktyke nodig is.

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan Hendrik Jordaan in Argentinië by consultancy@laurik.com.ar.