Die verbouing van uie in Suid-Afrika het so duur geword, dat die produsent alle faktore wat opbrengste negatief kan beïnvloed, na die beste van sy vermoë moet bestuur ten einde produksie te optimaliseer. Vir die doel van hierdie artikel, word slegs klem gelê op faktore soos saadbedvoorbereiding, grondgedraagde siektes, oordraagbare siektes, blaarsiektes, na-oessiektes, onkruiddoderskade, onkruidkompetisie, die belangrikste insekplae en nematodes.

Voorbereiding van die saadbed

Saadbedvoorbereiding is een van die mees beperkende faktore by uieverbouing, aangesien uiesaad as fynsaad geklassifiseer word. ‘n Growwe saadbed kan lei tot onegalige ontkieming. Daar word ongeveer 900 000 tot 1.1 miljoen sade per ha geplant ten einde ‘n plantestand van ongeveer 800 000 plante/ha te hê.

Indien die saadbed boonop oorbesproei word, swak dreineer en verdig is, kan dit bydra tot die voorkoms van saailingverdwynsiektes. Die belangrikste patogene wat verdwynsiektes op uie veroorsaak, is Pythium spp. asook Fusarium en Rhizoctonia spp. ‘n Goeie voorkomende spuitprogram met geregistreerde swamdoders kan saailingverdwynsiektes voorkom, maar dit is belangrik om die ander bydraende faktore ook aan te spreek.

Ken die blok se geskiedenis

Die blokgeskiedenis van die betrokke uieland is vir verskeie redes belangrik. Indien monokultuur toegepas word, kan dit lei tot witbolvrot (patogeen Sclerotium rolfsii). Witbolvrot is ‘n uiters vernietigende siekte waarvoor daar nog nie voorkomende behandeling beskikbaar is nie. ‘n Goeie gewasrotasieprogram en besproeiingskedule kan bydra tot die beperking van die siekte.

Geïnfekteerde wortelreste van voorafgaande gewasse soos sojabone en kommersiële mielies, kan op hul beurt lei tot pienkwortel (patogeen Phoma terrestris). Programme wat goeie wortelgroei aanspreek (dit sluit bemestingsprogramme sowel as blaarvoedings met ouksiene asook toedienings van geregistreerde Trichoderma spp. in) kan die voorkoms van die siekte grootliks beperk. Indien die siekte nie aangespreek word nie, kan dit lei tot ‘n afname in groeitempo en gevolglik opbrengste.

Blaarsiektes op uie

Die vernaamste blaarsiektes wat op uie voorkom is donsige meeldou (patogeen Peronospora destructor), ‘purple blotch’ (patogeen Alternaria porri) en Stemphyllium-blaarvlek. Aangesien gesonde blare van kardinale belang is vir goeie opbrengste, is die spuit van ‘n goeie voorkomende geregistreerde swamdoderprogram uiters belangrik.

Uieplante wat in ‘n goeie voedingstatus verkeer (veral hoë kaliumvlakke, maar ook mikro-elemente soos sink, yster en boor) kan blaarsiektes beter weerstaan. Die gereelde ontledig van blaar- en sapmonsters kan die produsent ‘n goeie aanduiding bied van plante se voedingstatus.

Korrekte aanwending van onkruiddoders

Die verkeerde gebruik van onkruiddoders lei dikwels tot gewasskade. Die nakoming van gebruiksbeperkings op geregistreerde onkruiddoders se etikette is uiters belangrik om fitotoksisiteit op die gewas te beperk. Weersomstandighede asook die fenologiese stadium van die gewas, moet in ag geneem word.

‘n Voorbeeld van die skade wat onoordeelkundige aanwending van onkruiddoders kan meebring.

Die gebruik van geregistreerde onkruiddoders is belangrik om onkruidkompetisie tot die minimum te beperk. As gevolg van die fynheid van uiesaad, is dit uiters gevoelig vir onkruidkompetisie.

Die belangrikste ekonomiese insekplaag op uie is blaaspootjie (Thrips tabaci). Blaaspootjie veroorsaak nie net voedinggroeiremming nie, maar ook letsels waardeur blaarsiektes die blare maklik kan penetreer. Thrips tabaci tree ook op as vektor van virussiektes soos Iris ‘yellow spot’. Hierdie virussiekte vertraag groei en lei tot ’n afname in opbrengs. Bolle is dikwels te klein vir bemarking of is van minderwaardige kwaliteit. ‘n Goeie blaaspootjieprogram is dus baie belangrik.

Die rol van nematodes

Nematodes is ‘n beperkende faktor op uie wat op ligte gronde verbou word. Daar is tans slegs een aktiewe bestanddeel vir uie geregistreer en dus is gewasrotasie met nie-gevoelige gewasse soos hawer noodsaaklik.

Na-oessiektes beïnvloed die raklewe van uie. Botrytis cinerea veroorsaak na-oesbederf. Dié siekte ontwikkel egter reeds in die land. Die siekte kom voor onder die skubblare van die bol en het ‘n kenmerkende reuk en kleur. Die blaredak van die gewas is só dig teen die tyd dat infeksiedruk op sy hoogste is, dat die bespuiting nie die bolle bereik nie. Die natuurlike waslaag van die gewas bemoeilik ook penetrasie en benatting. Die gebruik van byvoegingsmiddels (penetreerders) is dus baie belangrik.

Botrytis cinerea is ‘n siekte wat in die land ontwikkel, maar na-oesbederf veroorsaak.

’n Geïntegreerde bestuursbenadering

Goeie geïntegreerde bestuursprogramme is deel van die sleutel tot suksesvolle gewasverbouing. Plantgesondheid is nie net ‘n funksie van goeie plaagbeheer nie, maar ook van gewasrotasie en die uitskakeling van onkruidkompetisie.

‘n Goeie wegspring begin met saadbedvoorbereiding, die beheer van grondswamme en inagneming van die blokgeskiedenis. Tussendeur moet blaarsiektes, insekte en nematodes beheer word. Heel laaste moet na-oes bederfsiektes beheer word om raklewe te verseker. – Anna van der Merwe, Bsc. Agric (Hons.)

Vir meer inligting, kontak Anna van der Merwe van Laeveld Agrochem by epos anna@laeveld.co.za of skakel 082 820 8980. Besoek ook die LAC-webwerf by www.laeveld.co.za. Klik hier om meer te lees oor belangrike oorwegings wanneer dit kom by volhoubare uieproduksie.