‘n Genetiese katalogus van die insekplae wat op inheemse en verboude olyfboomspesies in Suid-Afrika voorkom, word tans saamgestel deur ‘n klein span genetici. Hulle word gelei deur dr Barbara van Asch van die Fakulteit Agriwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch se departement genetika.

Dr Barbara van Asch van die Fakulteit Agriwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, saam met Chante Powell, ‘n student wat deel vorm van die span.

Die werk word voltooi in samewerking met Suid-Afrikaanse en oorsese medewerkers. Die span het reeds hul werk oor olyfvlieë en olyfwespe voltooi, en hoop nou om ook hul werk te kan uitbrei na olyf-netvlerkbesies en vlooikewers.

Insekspesie navorsing is belangrik

Die navorsing spruit uit soortgelyke navorsingsprojekte waarby dr Van Asch betrokke was by die Universiteit van Porto in Portugal, voordat sy in 2015 na Suid-Afrika en die Universiteit Stellenbosch verhuis het.

“Dit is nuttig vir die landbou- en omgewingsektor om te weet watter insekspesies daar is, en hoe om sonder twyfel een soort van ‘n ander te kan uitken,” sê dr Van Asch. “Dit help ook die bedryf om op hoogte te bly oor  die voorkoms  van indringerspesies wat moontlike skade aan plaaslike boorde kan aanrig.”

DNS maak alles makliker

‘n Baie vaardige oog is nodig om insekspesies bloot op grond van hul uiterlike kenmerke te kan uitken. Vir so ‘n taak word ‘n ervare taksonoom se hulp gewoonlik ingeroep. Hierdie uitkenningsproses is die afgelope jare vergemaklik danksy die ontwikkeling van molekulêre en genetiese metodes wat navorsers in staat stel om tussen verskillende spesies te onderskei op grond van elkeen se eie besonderse DNS-kode.

“Ons hoef nie meer te wag totdat ‘n verdagte insek volwassenheid bereik voordat ‘n positiewe identifikasie gemaak word nie, maar kan dit al doen deur bloot die DNS in die eiers of larwes te ondersoek,” verduidelik dr Van Asch. “Dit is ‘n groot voordeel, want dit beteken ‘n mens kan vroeër eerder as later beheermaatreëls in ‘n bepaalde gebied instel indien nodig.”

Kommersiële boorde en inheemse bome geraak

Kommersiële olyfboerdery in Suid-Afrika het in 1925 begin met die vestiging van die eerste boord in die Paarl-streek.

Volgens dr Van Asch is Suid-Afrikaanse kommersiële olyfboere gelukkig omdat hul bome nie soveel skade lei weens insekpeste soos wat die geval is in olyfproduserende gebiede in die Mediterreense streek en Kalifornië nie.

Dieselfde soorte insekte word dikwels in sowel inheemse olyfbome as in kommersiële Suid-Afrikaanse olyfboorde gevind. Die verskeidenheid insekte in die Wes-Kaap is besonders, veral in vergelyking met ander wêreldstreke. Van hierdie insekte word as landbouplae beskou, soos die olyfvrugtevlieg byvoorbeeld. In Suid-Afrika word heelwat meer soorte insekspesies in inheemse olyfbome as in kommersiële boorde gevind. Dit sluit saadwespes, parasitiese spesies en olyfvrugtevlieë in.

Dr Van Asch hoop om verdere befondsing uit die industrie of vanaf navorsingsliggame te kan ontvang om die genetika van olyfpeste soos netvlerkbesies en olyftorre ook te kan ondersoek. Hierdie spesies is ook landboupeste wat skade aan olyfboorde kan aanrig, maar is nog nie in detail bestudeer nie.

Wespe-spesies in olyfbome

Van die span se bevindinge het onlangs in vaktydskrifte verskyn. ‘n MSc-student in die US departement genetika, Chante Powell, was die hoofskrywer van ‘n artikel in die vaktydskrif Genome. Dit fokus op die tien soorte wespe wat in en om inheemse en gekweekte olyfbome in die Wes- en Oos-Kaap gevind word. Dit is die eerste omvattende studie van olyfwespspesies in die streek vandat die era van molekulêre studies aangebreek het.

Die artikel bevat onder meer gedetailleerde foto’s (geneem by die Iziko Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad) van vier spesies Braconidae en ses spesies Chalcidoidea. Hul gedetailleerde DNS-strepieskodes en inligting oor hoe die spesies aan mekaar verwant is, word volledig daarin uiteengesit.

Powell se studie

Vir die doeleindes van haar studie het Powell meer as 83 000 olyfvrugte in inheemse en gekweekte bome in 16 streke van die Wes-Kaap en een in die Oos-Kaap gepluk. Sy het toe gewag vir die larwes om uit te broei en die wespes om volwassenheid te bereik sodat sy elke spesie kon identifiseer en genetiese studies op hulle kon doen.

Die werk is gedoen in samewerking met navorsers van die Universiteit van Palermo en die Universiteit van Napels in Italië, die Iziko Suid-Afrikaanse Museum en die Landbounavorsingsraad van Suid-Afrika.

Powell en haar medewerkers het bevind dat wespes soos Eupelmus spermophilus en Utetes africanus ‘n groter voorliefde vir die sade van inheemse olywe het en op hulle parasiteer as wat die geval is vir kommersiële olyfbome.

“Dit is waarskynlik omdat die insekte al soveel langer saam met die inheemse olyfbome in hierdie streek ontwikkel het, lank voor die redelik onlangse aanplanting van gekweekte olywe,” verduidelik Powell.

Verskillende wespsoorte

Sommige wespsoorte ontwikkel in die saad en word daarom saadwespe genoem, terwyl ander parasities hul eiers in die olyfvrugte self lê. Ander wespes is sogenaamde hiperparasitoïdies, omdat hulle hul eiers in die ontwikkelende larwes van ander wespsoorte lê en dan op hulle teer.

“Ons is nog nie seker watter wespe almal parasitoïede, hiperparasitoïede of eerder saadwespe is nie,” verduidelik dr Van Asch. “Verdere navorsing in hierdie verband is nodig.”

Sy reken die studie van olyfwespes is van waarde, aangesien hierdie insekte dalk gebruik kan word in die beheer van olyfvrugtevlieë wat ‘n probleem vir kommersiële boere kan raak.

Studies oor olyfvrugtevlieë

Dr Van Asch se navorsingsgroep aan die Universiteit Stellenbosch het ook saamgewerk aan ‘n artikel in die vaktydskrif International Journal of Biological Macromolecules waarvan dr Luis Teixeira da Costa van die Universiteitshospitaal van Oslo in Noorweë die hoofouteur was. Dit het gefokus op die genetika van die Afrika olyfvrugtevlieg (Bactrocera biguttula).

Hierdie olyfvlieg in endemies aan Afrika suid van die Sahara. Dit val nie aangeplante olywe aan nie, maar ontwikkel eerder in die vrugte van inheemse olyfboomsoorte.

Die navorsing vergelyk die genetika van die Afrika-olyfvrugtevlieg met dié van ‘n wydverspreide susterspesie, Bactrocera oleae. Dié is ‘n landbouplaag wat beide gekweekte en wilde olyfbome aanval. Die twee spesies olyfvrugtevlieë het meer as tien miljoen jaar gelede ‘n gemeenskaplike voorouer gedeel. – Universiteit van Stellenbosch