Pieter Möller skryf die volgende in ‘n onlangse uitgawe van Veeplaas:

Vanjaar was ’n geskenk aan ons elkeen en ons behoort dit so te vier. Persoonlik wil ek die jaar op ’n besondere manier afsluit met ’n lied in die hart.

Uit ’n landbou-oogpunt was dit verseker ’n baie beter jaar as verlede jaar. Ondanks die lae mieliepryse was dit lekker om weer iets op die land en veld te sien wat groen is. En daarmee saam was die gemoedere baie meer positief en kon ons almal meer van dankbaarheid getuig. Dit, in teenstelling met verlede jaar se droewige gesigte, was al klaar iets om oor te juig.

Imbesiele rakkers

Op die sport-, ekonomiese en politieke gebied was daar maar min om oor te juig. Die rand se status het tot onder op die seebodem gedaal as gevolg van ’n paar imbesiele rakkers se belaglike besluite.

Dan het die krieket- en rugbyspanne teen Engeland en Frankryk gespeel, met die krieket se uitslae lag-lag die swakste in jare. Die rugbyspan het die Franse se vierde span met rekordtellings getroef, wat rugby-entoesiaste weer laat glo het ons is terug op die wenpad van vroeëre gloriejare. Totdat die All Blacks ons vinnig aarde toe gebring het!

Aan die politieke front was dinge meer deurmekaar as in baie jare. Oom Jakob het framboos-melkskommels van sy kabinet gemaak en kort-kort mense vervang, weggejaag of in sy mooi woorde “herontplooi”. Hy en sy maats uit die suide van Indië het van regeringsinstellings ’n grap gemaak, hoewel dit die plaaslike en internasionale joernaliste genoeg stof gegee het om komedies van wêreldstandaard te skryf.

Positiewe terugblik

Oor die landboutoestande kan ons nie veel kla nie, maar tog het sekere politici dit reggekry om ons warm onder die kraag te kry oor hul onvermoë om dié sektor reg te bestuur.

Alles in ag geneem, kan ons terugkyk op ’n baie suksesvolle en positiewe jaar vol uitdagings. Ek en my familie was persoonlik baie geseënd met baie voorregte en ek kon die meeste van die tyd my dagtaak met ’n glimlag aanpak. Daar is gewoonlik die meeste van die tyd geleenthede om vrolik en opgewonde te wees en innerlike vrede te ontdek.

Die grootste skat …

Selfs die donkerste van tye bied aan ons geleenthede om van die Here te getuig soos nog nooit tevore nie. Te midde van tekens van duisternis, onsekerheid en pyn, is daar ontelbare skatte om te ontdek, insluitend die grootste skat, die liefde van Bo. Ons kan hardvogtige mense laat sag word, skeptici laat luister en saam met medegelowiges ander wat nie so gelukkig soos ons is nie, bemoedig en ondersteun.

Mag ons elkeen vandeesmaand ’n wonderlike Christusfees beleef, die waarde in ander ontdek en dit in oormaat aan mekaar uitdeel. Mag dit ons almal se wens wees om ’n positiewe verskil in ander se lewens te maak en mag ons ’n volmaakte voorbeeld stel aan ons kinders en hul geslagte, sodat ons kan voortbou op ’n pragtige toekoms vir hulle wat ná ons op hierdie aarde gaan leef. Geniet die feestyd en pas jouself en jou geliefdes op. Hulle is kosbaar.

2018, hier kom ons!

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here