Dié maand se hoofartikel in is die laaste in ‘n kort reeks wat oor landelike veiligheid handel en daar word veral gefokus op die rol wat georganiseerde landbou in die beveiliging van landelike gebiede vervul.

Landelike veiligheid-rolspelers

Die hoof rolspelers binne die nasionale Landelike Beveiligingstrategie (LBS) is die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die Nasionale Vervolgingsgesag, produsente, en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag langs die Lesotho-grens.

Dit moet in gedagte gehou word dat die LBS nie ’n reaktiewe strategie is nie, maar ’n proaktiewe strategie om bowenal plaasaanvalle en -moorde te voorkom. Die aanmelding van misdaad by die SAPD dra verder by tot die skep van ’n proaktiewe teenmisdaadomgewing.

Ten einde veiligheid doeltreffend aan te spreek, moet die impak en omvang van alle misdade op landbougrond, dus ernstige geweldsmisdade, wat plaasaanvalle insluit, en eiendomsverwante misdade, wat grootliks veediefstal en skroot-/koperkabeldiefstal insluit, bepaal word. Tendense en patrone moet geïdentifiseer word sodat ’n voorkomende strategie daargestel kan word.

Die verwantskap tussen die misdade en kriminele wat dit pleeg moet ook bepaal en aangespreek word, ten einde groter veiligheid in landelike gebiede te verseker.

Wat Vrystaat Landbou (VL) se struktuur aanbetref, is daar tans 61 distriksboere-unies (DBU’s) en 161 boereverenigings in die Vrystaat. Daar is verder tien streekveiligheidsverteenwoordigers wat op die VL se landelike veiligheidskomitee en VKB-veiligheidslessenaar dien, wie se primêre taak dit is om na die veiligheid van landbouers om te sien.

Die rol van beheerkamers

Daar is tans 19 beheerkamers of plaaswagstrukture in die Vrystaat, wat die boerderygemeenskappe van nagenoeg 32 dorpe bedien. Sommige beheerkamers bedien 50 tot 100% van die produsente in hul onderskeie gebiede.

Dit is belangrik om daarop te let dat vier van die beheerkamers nie net in die landelike gebiede werksaam is nie, maar ook die dorpsgemeenskappe bedien met hoofsaaklik die installering en monitering van alarms en kamerastelsels.

Die beheerkamers wat dorpsgebiede bedien, word 24 uur per dag deur toegewyde personeel gemonitor. Waar beheerkamers nie ’n 24-uur diens lewer nie, kan hulle steeds enige tyd van die dag en of nag gekontak word tydens noodgevalle.

Wanneer ’n plaasaanval of ’n ernstige insident soos grondbesetting of grootveediefstal plaasvind en wat mobilisasie van die boerderygemeenskappe vereis, tree die noodplan in werking en word ’n gesamentlike operasionele sentrum saam met die SAPD vanuit die beheerkamer se perseel gestig.

Die feit dat beheerkamers vir jare al bestaan, dui daarop dat hulle ’n eiesoortige diens aan boerderygemeenskappe in hul streke lewer, geskoei op die behoeftebepalings van daardie gemeenskappe. Hierdie beheerkamers is onontbeerlik ten opsigte van groter veiligheid, en die bekamping en voorkoming van misdaad op plase.

Die algemene funksies van beheerkamers sluit die volgende in:

  • Misdaadvoorkomingspatrollies gebaseer op prioriteitsmisdade in hul geografiese gebiede.
  • Weeklikse besoeke aan grondeienaars en/of werkers op plase, wat in baie gevalle met die versameling van inligting rakende verdagte persone of voertuie saamhang.
  • Bewaring van misdaadtonele totdat dit aan die SAPD oorgelaat kan word.
  • Reaktiewe monitering van kamerastelsels of -netwerke, hoewel meer as die helfte van beheerkamers nou ook vir proaktiewe monitering ten opsigte van verdagte persone en voertuie ingestel is.
  • Skakeling tussen die polisie en die produsente in ’n gemeenskap. Baie rapporteer die misdaad aan die polisie en verseker dat die polisie die klaglegging bywoon. Dit gaan ook in baie gevalle gepaard met die opvolg van ’n saak, veral nadat arrestasies plaasgevind het.
  • Bywoning van veiligheidsvergaderings met produsente en polisielede binne die LBS.

Die oorgrote meerderheid van beheerkamers het ’n gevestigde kommunikasienetwerk in plek, gegrond op die nood-/gebeurlikheidsplan in hul onderskeie streke, ten einde veiligheid in dié boerderygemeenskappe te bevorder.

Die integrasie en koördinering van inligting rakende misdaadbedreigings en -risiko’s vanaf beheerkamers, stel VL se VKB-veiligheidslessenaar in staat om die impak en omvang van misdade op die kommersiële landbousektor te bepaal.

Dit beteken dat daar op plaaslike, kluster- en provinsiale vlak aandag aan bedreigings gegee kan word. Inligting, en die beskikbaarheid, skakeling en deurgee daarvan op ’n konstante en deurlopende basis, is van die belangrikste funksies wat beheerkamers vervul.

Georganiseerde landbou

Veiligheidsverteenwoordigers van georganiseerde landboustrukture en landelike veiligheidskoördineerders van die SAPD, het ten doel om koördinering met boerderygemeenskappe te bewerkstellig.

Hul primêre funksies sluit in om maandelikse vergaderings op plaaslike en klustervlak te reël en by te woon, waartydens ernstige geweldsmisdade (plaasaanvalle) en eiendomsverwante misdade geverifieer word, sodat voorkomingsoperasies van stapel gestuur kan word. Dit behels verder die fasilitering van wit- en blouligpatrollies, plaasbesoeke, inoefening van noodplanne en opleidingswerkswinkels oor ’n verskeidenheid veiligheidsaspekte.

Boereverenigings

Boereverenigings en DBU’s is outonoom en kan besluite rakende aspekte van landbou en veiligheid onafhanklik neem. VL speel ’n fasiliterings-, koördinerings- en adviserende rol binne hierdie strukture, met betrekking tot ’n wye verskeidenheid van aspekte, insluitend grondhervorming en -onteiening, veiligheid, infrastruktuurontwikkeling, arbeidsake en so meer.

Veiligheidsverteenwoordigers rapporteer misdaadvoorvalle maandeliks aan VKB se lessenaar vir landelike veiligheid, wat die inligting konsolideer en aan die Prioriteitskomitee vir Landelike Veiligheid voorlê. Daaruit word gebiede met hoë misdaadsyfers geïdentifiseer vir misdaadvoorkomingsoperasies en enige probleme ten opsigte van polisiëringsdienslewering word aangespreek.

Misdade wat voorkom is

In die vier jaar tussen 1 April 2016 en 31 Maart 2020, is 95 plaasaanvalle voorkom danksy inligting wat vooraf van boerderygemeenskappe en die polisie in die Vrystaat ontvang is.

Databasisse met dié inligting word bygehou omrede daar daaglikse skakeling tussen die VKB-veiligheidslessenaar en die provinsiale landelike veiligheidskoördineerder van die SAPD, asook veiligheidsverteenwoordigers van boereverenigings en DBU’s plaasvind.

In die tydperk van 1 April 2020 tot nou is 18 plaasaanvalle in die Vrystaat voorkom weens vooraf-ontvangde inligting en skakeling tussen die polisie en boerderygemeenskappe. In baie van die gevalle is misdaadintelligensiestrukture en sigbare polisiëring ook betrokke.

Bystand aan slagoffers

In nagenoeg alle plaasaanvalle word die landelike veiligheidsplan geaktiveer, wat beteken dat produsente in sektorverband saam met die polisie mobiliseer om so vinnig as moontlik by die misdaadtoneel uit te kom en die nodige hulp en bystand te verleen, asook om die oortreders vas te trek.

Agri Securitas Trustfonds se toegewese traumaberader, dr Frans Minnie, kan ook deur boereverenigings versoek word om sodanige berading vir die geaffekteerde boerderygemeenskappe te bied. VL staan ook slagoffers tydens hofsake by en lewer getuienis in borgaansoeke, sowel as strafverswarende beslissings in howe wanneer beskuldigdes gevonnis word.

Die Agri Securitas Trustfonds

Die Agri Securitas Trustfonds is ná die spitsberaad oor plattelandse veiligheid op 10 Oktober 1998 deur AgriSA in die lewe geroep. Die doel van die trustfonds is om aanvullende finansiële hulpmiddele aan boerderygemeenskappe beskikbaar te stel, waardeur hulle hul eie veiligheid asook dié van ander gemeenskappe wat in die gebied woonagtig is, kan verbeter.

Die fonds is sedert sy ontstaan by meer as 100 projekte betrokke. ’n Belangrike aspek ter oorweging van befondsing is die samewerking tussen plaaslike gemeenskappe en die polisie. Alle projekte wat ondersteun word, moet binne die wetlike en institusionele raamwerk bedryf word. Die trustfonds is by die meester van die Hooggeregshof geregistreer en word deur ’n raad van trustees bestuur, wat uit landbouleiers en persone in die openbare sektor bestaan.

Die trustfonds is hoofsaaklik by die finansiering van die volgende betrokke:

  • Voorsiening van radiostelsels vir noodkommunikasie.
  • Oprigting van valhekke met kamerastelsels om voertuigmonitering toe te pas.
  • Voorsiening van landelike beveiligingstoerusting.
  • Befondsing van navorsing oor motiewe vir plaasaanvalle.
  • Ondersteuning van ’n inligtingsinsamelingsdiens om plaasaanvalle proaktief te bekamp.
  • Traumaberading aan slagoffers van plaasaanvalle om emosionele trauma te help hanteer.

VL is een van die provinsiale affiliasies van Agri SA wat die meeste van die fonds gebruik maak. Gedurende die afgelope ses jaar het 39 dorpe se boerderygemeenskappe baat gevind by fondse van nagenoeg R5 miljoen wat Agri Securitas beskikbaar gestel het.

Nagsigtoerusting en hommeltuie ressorteer ook onder die toerusting wat befonds word, asook die opleiding van spoorsnyhonde by sekere van die beheerkamers.

Dit is ’n gegewe dat die behoefte by boerderygemeenskappe ten opsigte van veiligheidstoerusting groot is en dat die trustfonds en georganiseerde landbou, waarvan VL deel is, nie finansieel in al die behoeftes kan voorsien nie.

Addisionele hulpbronne

VL het die afgelope vier tot vyf jaar talle werkswinkels in boerderygemeenskappe aangebied, veral met betrekking tot grondbesettings, siviele arrestasies en boere se regte wanneer hulle in noodweer optree. Sodanige werkswinkels is in al die polisieklusters aangebied en word ook op versoek van boereverenigings en DBU’s aangebied om gemeenskappe te bemagtig.

VL het ook in 2015 ’n veiligheidshandleiding opgestel wat in 2017 hersien is, wat alle aspekte van die LBS, inligtingskakeling en -vloei, siviele arrestasies, noodweer, grondbesettings, toepaslike wetgewing, en ’n reeks veiligheidsverwante aspekte en wenke uiteensit. Die handleiding is tydens werkswinkels regdeur die Vrystaat versprei.

’n Omvattende veiligheidskontrolelys vorm deel van die handleiding ten einde boere, hul gesinne en werkers bewus te maak van aspekte wat risiko’s of bedreigings kan inhou. Die kontrolelys en handleiding bied inligting aan produsente rakende toegangsbeheer op hul plase, indiensnemingsklarings, wat kriminele rekordklarings insluit, misdaadtoneelbewaring en hoe om sekere misdade aan te spreek, byvoorbeeld onwettige jag met honde, veediefstal, betreding en so meer. – dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis, Vrystaat Landbou

Vir meer inligting of bronverwysings, stuur ’n epos aan
dr Jane Buys by jane@vslandbou.co.za.